Sy pad na die verhoog

Dié boorling van die plattelandse dorpie Piketberg in die Wes-Kaap was op skool goed in mondelinge werk, maar het nooit gedink aan akteur word nie.

Hy was net 13 en in gr. 7 toe sy ma, wyle Melvilene (45), hom vertel van ’n advertensie in Die Burger vir oudisies vir die toneelstuk Fiela Se Kind (2007).

Eldon het nie veel daarvan gemaak nie – maar ’n dag later vertel sy Afrikaanse onnie, Joey Venter, hom ook van die oudisies. Dié was so geesdriftig daaroor dat sy hom met hul skoolbussie 130 km ver na die oudisies in die Kuns­tekaap in Kaapstad aangery het.

Eldon was uit die veld geslaan toe hy sy eerste rol losslaan – as een van Fiela se kinders, Tollie Komoetie.

Fiela is boonop gespeel deur die veteraanaktrise June van Merch. Cedwyn Joel, wat nou te sien is as AB Samsodien in die sepie Suidooster, was ook in die rolverdeling.

“Ek was nog ’n kleintjie, en hoewel ek starstruck was, het ek my maar kalm ­gehou rondom hulle,” vertel Eldon (24) nou.

Eerste TV-rol

In 2015, ná ’n dramakursus aan die ­Northlinkkollege in Tygerberg, het hy die rol van Spyker in Willie Esterhuizen se komediereeks #koelpixels losgeslaan. En einste Willie het einde laas jaar vir Eldon gebel oor die rol van Elvis in die tweede seisoen van sy sitkom Ouboet & Wors.

Lizz en Eldon op die stel van dié reeks.

“Ek was stomgeslaan,” sê Eldon.

Dit was net maande ná sy ma se dood in April verlede jaar. Hoewel hy rolletjies in die fliek Raaiselkind en die gewilde dramareeks Sara Se Geheim gehad het, het sy ma nooit haar seun op die silwerdoek of kassie gesien nie.

“Sy het nooit DStv gehad nie, maar sy was baie trots op my,” sê Eldon. Hy was hartseer oor sy ma hom nie in Ouboet & Wors sou sien nie, maar is bly oor dié nuwe rol.

Die reeks se akteurs wat kykers elke week vermaak. Agter (van links) is Eldon, Sally Campher (Yollie), Frank, Willie Esterhuizen (Wors) en Wynand van Vollenstee (Gielie). Voor is Kaz McFadden (Hendrikkie), Liane Heyl (Boeboe), Hugh Masebenza (Fogile) en Lizz Meiring (Molly).

Eldon bly tans in Melville, Johannesburg, terwyl hy aan die reeks werk. Sy pa, Gregory (54), en broers, Granville (27) en Malcolm (21), woon in Kensington in die Kaap. Sy pa is ’n smous, Granville ’n ketelmaker, en Malcolm werk by ’n inbelsentrum.

Tweede kanse

Sy karakter in Ouboet & Wors lê hom na aan die hart, sê Eldon.

Elvis is ’n motorwerktuigkundige wat in ’n verbeteringskool was nadat hy ’n motor gesteel het. Hy’t gesukkel om werk te kry, tot Ouboet (Frank Opperman) hom ’n werkgeleentheid by sy paneelkloppersaak gegee het.

Frank Opperman (Ouboet) en Eldon (Elvis) is te sien as die komediereeks se motorwerktuigkundiges.

“Ek wil die stereotipe breek van mense met ’n sekere verlede. Ek wil wys jy kan verander en wil die kinders in my gemeenskap deur die karakter motiveer.”

Hy voel baie bevoorreg om teenoor Frank te speel.

“Ek het Orkney Snork Nie (wat ook deur Willie geskryf is) gekyk om op die rol voor te berei en my tikkie platteland in die karakter ingebring in die manier hoe hy Afrikaans praat,” sê Eldon.

Eldon en Elvis is glad nie dieselfde mens nie, sê hy.

“Elvis het nie ’n filter nie en praat voor hy dink. Ek is baie strategies, maar ons het wel dieselfde kinder­like, vibrant energie.”

Plat op die aarde

Hy’s ’n regte platjie tuis, sê Eldon.

“Ek bly maar nederig,” sê hy oor sy roem. Hy is ook ’n alleenloper.

“Ek konsentreer liewer nou op my loopbaan,” lag hy.

Wanneer hy nie Afrikaanse romans lees of sy eie verhoogstukke skryf nie, is hy by die kerk doenig.

“Ek bespeel die orrel in die kerk en help soms as dirigent vir die kerk se Sondagskoolkoor.”

Hy gaan hoor gereeld by kerke naby hom of hulle sy dienste wil gebruik. Eldon sien egter baie uit na sy toekoms op televisie en hoop om meer teaterwerk op Afrikaanse feeste te doen.

Eldon sê
  • Ek bespeel die orrel, klavier, dwarsfluit en klarinet.
  • Ek het ’n groot liefde vir die platteland en die droë grond.
  • Ek is ’n introvert.
  • Ek is nie regtig snaaks nie.
  • Ek glo in interaksie en dat mense met mekaar moet meng.


Ouboet & Wors

Die komediereeks word Maandae om 20:00 op kykNET (Kanaal 144) uitgesaai.

FOTO'S: KYKNET, INSTAGRAM