Ontmoet die rolverdeling van die nuwe misdaaddrama
Ontmoet die rolverdeling van die nuwe misdaaddramareeks Reyka. Kim Engelbrecht (voor) speel die gefolterde Reyka, wat as kind ontvoer is en nou grusame moorde probeer oplos. Haar medesterre is (agter, van links) Mavuso Simelane, Thando Thabethe, Anna-Mart van der Merwe, Hamilton Dhlamini en Iain Glen van Game of Thrones-faam. Foto: M-Net

Die splinternuwe en sterbelaaide misdaaddramareeks Reyka is propvol naelbytoomblikke en vreesaanjaende tonele.

En as jy ’n aanhanger van die Emmy-bekroonde trefferreeks Game of Thrones was, sal jy jou beslis wil regskuif voor die kassie, want een van dié reeks se sterre – die Skotse akteur Iain Glen wat die Mother of Dragons, Khaleesi, se regterhand, Jorah Mormont, gespeel het – is ook in Reyka te sien.

In dié reeks word jong meisies eers ontvoer, later word grusame moorde gepleeg, en die polisievrou wat agter die kap van die byl moet kom, baklei teen haar eie duiwels. Hier’s als wat jy oor dié reeks moet weet.

Kim en Thando speel polisievroue in die reeks.
Kim en Thando speel polisievroue in die reeks. Foto: M-Net

WAAROOR GAAN DIT?

Die reeks van agt episodes gaan oor Reyka Gama, ’n profielsamesteller van misdadigers wat deur Kim Engelbrecht gespeel word. Reyka is nie sonder foute nie, en haar verlede spook by haar.

Sy moet die rits grumoorde in die suikerrietvelde van KwaZulu-Natal oplos. As kind is Reyka deur ’n boer, Angus Speelman (Iain Glen), ontvoer.

Hoewel dit vir haar traumaties was, help dit haar ook om in die vel van die berugste misdadigers in Afrika te klim en hulle so vas te trek. Omdat Speelman so manipulerend en sjarmant is, het hy 20 jaar later steeds ’n houvas op Reyka.

Dié houvas vorm deel van die ruggraat van die verhaal. Die reeks ontbloot geheime, leuens, die waarheid en die pad na genesing en vergifnis.

DIE SUIKERRIETMOORDE

Die draaiboekskrywer Rohan Dickson het 12 jaar gelede aan die reeks, wat nou ook internasionaal versprei word, begin skryf.

Reyka is einde verlede jaar in KwaZulu-Natal en Johannesburg verfilm, en hoewel die reeks heeltemal opgemaak is, was daar wel ’n tyd toe die landbouplantasies in Kwazulu-Natal die toneel van grusame moorde was.

Die nuweling Gabrielle de Gama speel die jonger Re
Die nuweling Gabrielle de Gama speel die jonger Reyka. Foto: M-Net

Thozamile Taki (nou 50), bekend as die Sugarcane Killer, is destyds daaraan skuldig bevind dat hy 13 vroue tussen 18 en 25 vermoor en hul lyke in 2007 in suikerriet- en teeplantasies by Umzinto aan die suidkus van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap agtergelaat het.

Die jong vroue is gelok met die belofte van werkgeleenthede by maatskappye aan die suidkus. In 2011 is Taki tot 13 keer lewenslange tronkstraf gevonnis.

WIE’S WIE?

DIE POLISIEVROU MET DIE DONKER VERLEDE

Die Kaapse aktrise Kim Engelbrecht (41), wat al in internasionale reekse soos Dominion en The Flash te sien was, vertolk die titelrol. Sy is veral bekend as Lolly de Klerk in die sepie Isidingo en het al gesig gewys in die Afrikaanse fliek Konfetti.

Kim Engelbrecht
Kim Engelbrecht. Foto: M-Net

Kim se karakter in Reyka is as ’n misdaad in die apartheidsregime gebore. Haar pa was ’n bruin man en haar ma ’n wit joernalis. Reyka is grootgemaak in ’n huis vol geheime, en dis hoe sy geleer het hoe om geheime goed te bewaar.

Oor haar karakter het Kim aan die tydskrif Variety gesê Reyka voel sy pas steeds nie in nie – al is Suid-Afrika nou ’n demokrasie.

“In ’n tyd van heling het sy geen genesing nie. Sy probeer haar vorm as ’n vrou, as ’n volwassene, maar sy het opgehou om emosioneel volwasse te raak en het ’n vreemde band met die man wat haar ontvoer het,” sê Kim.

“Reyka is obsessief, nie net met Speelman nie; ook met sy psige. Sy is bekoor deur hom en verslaaf en verlief, en dit laat haar baie skaam voel. Maar sy kan haarself nie keer om hom te gaan sien nie. Dis die een plek waar sy voel sy kan haarself wees.”

DIE ONTVOERDER

Die Skotse akteur Iain Glen (60) was al te sien in die bekroonde reekse Downton Abbey en Game of Thrones. In Reyka speel hy ’n Skotse immigrant, Angus Speelman, wat nie kinders van sy eie kon hê nie. Hy en sy vrou, Portia Maseko (Nokuthula Mavuso), ontvoer dan jong meisies en maak hulle as hul eie groot.

Iain Glen
Iain Glen. Foto: M-Net

Wanneer dié einste kinders ouer word, begin Angus hulle as seksvoorwerpe sien en molesteer hy hulle. Jy moet lief wees vir die karakter wat jy speel, sê Iain in ’n promosievideo vir M-Net.

“As akteur moet jy hou van die persoon wat jy speel, so jy moet ’n liefde vir hulle vind.

Nokuthula Mavuso se karakter help haar man om kind
Nokuthula Mavuso se karakter help haar man om kinders te ontvoer. Foto: M-Net

“Gelukkig het ek ’n skrywer gehad wat baie navorsing gedoen en dit alles in sy skryfwerk geploeg het. Ek geniet dit om beskadigde mense te speel,” sê Iain.

“Ek is nie self beskadig nie, maar ek kan nogal dié areas in myself ontlok.”

DIE ANDER POLISIELEDE

BRIG. HECTOR ZWANE

Hamilton Dhlamini (51) speel brigadier Hector Zwane. Dié polisieman is onwrikbaar en gee nie maklik moed op nie. Sy seun, Samuel, het in sy voetspore gevolg en is ook ’n speurder in die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

Hamilton Dhlamini
Hamilton Dhlamini. Foto: M-Net

KONST. NANDI CELE

Dié karakter word deur Thando Thabethe (31) gespeel. Sy is lief vir haar werk en wil die leer klim in haar loopbaan. Sy is reguit en empaties en ’n morele kompas vir haar kollegas. Sy doen als volgens die boek – anders as Reyka.

 Thando Thabethe
Thando Thabethe. Foto: M-Net

SPEURDER NICK TANNER

Gerald Steyn, wat onlangs te sien was in die M-Net-reekse Lioness en Trackers en ook die rol van dr. Uys Wagner in die sepie Binnelanders vertolk het, speel die gedrewe speurder Nick Tanner in Reyka.

Gerald Steyn,
Gerald Steyn. Foto: M-Net

REYKA SE MA

Die veteraanaktrise Anna-Mart van der Merwe (57) is te sien as Reyka se ma, Elsa Meyer. Elsa was in die 1980’s ’n joernalis.

“Sy was vol selfvertroue, nie jou lipstiffie-in-’n-handsak-karakter nie,” sê Anna-Mart.

 Anna-Mart van der Merwe
Anna-Mart van der Merwe. Foto: M-Net

Toe apartheid in 1994 geëindig het, het groot opgewondenheid reg oor die land geheers, maar dit was die begin van ’n nagmerrie vir Elsa toe haar dogter ontvoer is.

DIE SPIRITUELE LEIER

Desmond Dube (52) speel Zik, ’n spirituele leier in sy gemeenskap. Hy is glad met die mond en gebruik dié talent om mense na sy kerk te lok.

Desmond Dube
Desmond Dube. Foto: M-Net

Springmieliefeite

Die reeksskepper, Rohan Dickson, is ook verantwoordelik vir dramas soos Scandal en High Rollers.

Die veteraanakteurs Ian Roberts, Fiona Ramsey en David Butler wys ook gesig in die reeks. Nokuthula Mavuso, wat Angus se vrou, Portia, speel, was onlangs as Amo in nog ’n M-Net-reeks, Lioness, te sien.

Gabrielle de Gama (14), wat die jong Reyka speel, is ook ’n sangeres. Sy het onlangs haar debuutenkelsnit, “Nasty”, uitgereik wat oor kuberboelies gaan.

Reyka se wêreldpremière was in Junie op die gesogte 60ste Monte Carlo-televisiefees in Monaco.

Prins Albert het spesiaal na Reyka verwys en vertel hoe opgewonde sy vrou, prinses Charlene, was oor die première van dié reeks uit haar grootwordland. 

BRONNE: M-NET, VARIETY.COM, IOL.CO.ZA, M-NET.DSTV.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe