Vanjaar het die Mej. Suid-Afrika-span ’n groep ontwerpers met sorg uitgesoek om die top-16-deelnemers te klee, en heelwat nuwe gesigte sluit vanjaar by die kompetisie aan.

Die ontwerpers wat hul debuut op die Mej. SA-verhoog maak, sluit in Palesa Mokubung, die eerste Afrika-ontwerper wat met die kleinhandelreus H&M saamgewerk het, en Taibo Bacar, wat al sy ontwerpe by modeweke onder meer in Milaan, Lissabon en Brasilië vertoon het.

Hulle sal by ’n gesogte groep aansluit wie se modekunswerke al voorheen op die kompetisieverhoog gepryk het.

Dié sluit in Anél Botha van Anél Botha Couture, Orapeleng Modutle, Warrick Gautier, Galluzzi e Gini - deur Cristian Galluzzi en Alessio Gini en Quiteria Atelier deur Lebogang Kekana.

Maar dit gaan nie net oor die formele drag nie – vanjaar sal die swemdragafdeling van die kompetisie ook ’n spesiale ontwerper-aanslag hê.

Die top-16 sal in unieke swemdragskeppings lyf wys wat deur Lloyd Kandlin en sy span by The Costume Dept. ontwerp is.

Dié span was deurslaggewend in die skep van die nasionale kostuums wat Demi-Leigh Nel-Peters en die huidige Mej. SA, Tamaryn Green, by die Mej. Heelal-kompetisie gedra het. Dit sal dus interessant wees om te sien wat hy op die aand bied.

Ons het die ontwerpers gevra om ons ’n paar leidrade te gee oor wat hulle vir die top-16 beplan wanneer hulle op 9 Augustus by die Sun Arena by Time Square in Pretoria op die verhoog verskyn.


Palesa Mokubung

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

“Ek roem myself daarop om klere vir elke soort vrou te maak.”

Taibo Bacar

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

“Verwag sjiffon, sy en baie kristalle. Ons probeer dit vermy om ‘Afrika’-patrone te gebruik, want ons wil die wêreld wys ons kontinent bied meer as die verwagte materiale en ontwerpe.”

Lebogang Kekana (Quiteria Atelier)

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

“My voorkoms sal Afrika, met al sy minerale, verteenwoordig. Vir my is die belangrikste elemente kultuur en individualiteit; waar elke finalis vandaan kom, speel ook ’n belangrike rol.”

Anél Botha

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

“My passie is om seker te maak dat elke deelnemer waarvoor ek ontwerp die vertroue sal hê om uit te blink in haar strewe na die kroon danksy hoe sy voel in die rok wat ek spesiaal vir haar geskep het.

“Nie al my ontwerpe sal tipiese kompetisiestyl wees nie, en die kleur is ook nie iets wat jy sou verwag nie! Al wat ek vir jou kan sê, is dat hulle raakgesien sal word.”

Orapeleng Modutle

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

“Vanjaar is daar ’n interessante spel in die silhoeëtte wat ’n pragtige narratief en sinergie met die ontwerpe skep. Ons herskep ook en stel nuwe detail op die couture-kledingstukke bekend.”

Galluzzi e Gini

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

“Ons word altyd deur ons omgewings geïnspireer. Afrika is vol helder kleure en ongelooflike teksture, en jy sal beslis sien dit word op ons ontwerpe toegepas.

“Deur Afrika-elemente by te voeg, kan ons beklemtoon wat die vasteland het om aan die wêreldverhoog te bied, en dit kan ontwikkel in iets om op trots en oor positief te wees.

“Elke rok word begin en beëindig met die deelnemer in gedagte. Al drie ons ontwerpe sal verskillende style hê – van modern en sexy tot speels, deftig en sjiek!”

Warrick Gautier

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

“Ek sal my jongste reeks kontemporêre en moderne silhoeëtte vertoon, wat wissel van sensuele handgeborduurde kragtige pakke en kort rokke wat met kristal versier is tot lang handgeborduurde couture-rokke vir die rooitapyt. My werk is ‘Afrika-weelde’.

“Dit gaan daaroor om die wese en siel van Afrika vas te vang – gesny gedrapeer en geborduur in moderne en kontemporêre silhoeëtte vir ’n internasionale Afrika-vrou.”

Lloyd Kandlin (The Costume Department)

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

“Die kostuums is deur minerale geïnspireer; verwag dus ’n palet van goud en silwer met ’n wisselwerking van sag en hard wat ’n metafoor vir die vele fasette van vroue is.”

Hoe, waar en wanneer?

Beleef al die aksie in lewende lywe deur kaartjies by Computicket te koop. Diegene wat tuis kyk, kan hulle inskuif vir ’n regstreekse uitsending om 17:00 op 9 Augustus op M-Net (DStv-kanaal 101) en Mzansi Magic (DStv-kanaal 161).

Vanjaar kan die publiek op die Mej. Suid-Afrika-webtuiste vir hul gunstelingdeelnemer stem. Die wenner van die People’s Choice sal outomaties op die aand die top-10 haal.

Mej. Suid-Afrika word aangebied deur Weil Entertainment in samewerking met Sun International en die LFP Group.


Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.