Die Fynskrif-akteur en Efraine, ’n grimeerkunstenaar en stilis van Somerset-Wes, het ’n hond uit ’n bos gesels na afloop van 'n groepfotosessie. 

Hy het aanvanklik gevra of hy haar ’n drukkie kan gee, toe soen hy haar.

“Het jy my nou gesoen?” wou Efraine by die akteur weet. “As ek daai sien kom het, sou ek gedraai het,” sê sy. 

Al het Neels ná die tyd om verskoning gevra, maak Efraine dit duidelik hy kan haar nie net vat en soen nie. 

neels van jaarsveld
Die vroue en Neels poseer vir die kamera. Foto: kykNET

DAAI SOEN

“Ek het nog baie min mense in my lewe gesoen, en soen is ’n big thing vir my. Jy kan my nie net onverwags vang met ’n soen nie. As ek jou wil soen, sal ek jou sê ek wil jou soen,” sê Efraine. 

Natuurlik was Neels ietwat verleë ná die soen. “Dit het my sogenaamde ego gekrenk. Ek was so half oor die vingers getik vir iets wat nie regtig so enorm was nie,” sê Neels. 

Nes kykers reg oor die land sit Efraine elke Donderdagaand vasgenael voor die kassie om Op my eish! te kyk. “Ek hou die helfte van die tyd my hande voor my oë, maar ek mis dit nie,” vertel sy laggend. 

En wat dink sy nou van die soen? “Wow . . . die soen. Neels het my gevra of hy vir my ’n drukkie kan gee, en toe met ’n soen gekom. Ek was onkant gevang en het gevoel om dit vir hom te noem,” vertel Efraine aan Huisgenoot. 

OP SOEK NA LIEFDE

Kykers het Efraine tydens episode vyf vir die eerste keer ontmoet as een van twee nuwe deelnemers wat deel raak van Neels se soeke na die liefde.

Met die intrapslag het Neels haar gekies as een van drie vroue wat saam met hom vir ’n blommerangskikkingsaktiwiteit gegaan het. 

efraine,op my eish
Tydens die blommerangskikkingsaktiwiteit. Foto: kykNET

“Ek het dit glad nie verwag nie en het eintlik daarna uitgesien om eers die dames in die groep te leer ken. Ek was egter gevlei om dadelik genooi te word,” sê sy. 

Efraine het aanvanklik vir Op my eish! ingeskryf omdat sy op ’n plek in haar lewe is waar sy lus was vir ’n avontuur buite haar gemaksone.

“Die ongelooflike geleentheid het op ’n gepaste tyd gekom,” sê sy. 

EGSKEIDING 

’n Paar maande voor die verfilming van die reeks, wat in Februarie plaasgevind het, is sy geskei. 

“Ek was vir ’n baie kort rukkie getroud. Soms sien ons nie die son kan weer skyn wanneer ons in die tonnel is nie en dit baie donker voel. Vandag is ek bly dat ek gekies het om my huwelik te bëeindig, al was dit baie moeilik,” sê Efraine. 

“Ek is nie kwaad nie, ek het baie geleer en daarvoor is ek dankbaar. Ek is werklik gelukkig,” voeg sy by. 

efraine
Efraine en Neels gesels. Foto: kykNET

Om liefde op die kassie te soek is nogal ’n vreemde ervaring, erken sy.

“Om liefde te soek voor ’n kamera is beslis onnatuurlik, maar in dieselfde asem ongelooflik, en dit wat jy leer ken van jouself is onskatbaar,” sê sy. 

Wat doen sy hierdie keer anders wat die liefde betref?

“Al wat ek sal anders doen, is om my gut feeling te vertrou. Ek dink eerlikheid is die belangrikste ding. As daar nie vertroue is nie, kan ’n huwelik of verhouding eenvoudig nie werk nie,” sê sy. 

Efraine was voorheen getroud, maar glo weer in die
Efraine was voorheen getroud en glo steeds in die liefde. Foto: Verskaf

Kykers sal moet wag en sien of Efraine en Neels eindelik pasmaats is. Tot dan, sê Efraine, glo sy ongetwyfeld in die liefde. “Liefde is alles! Alles het maar ups en downs, maar wat meer saak maak in die lewe is die mense waarvoor jy lief is en wat jou lief het,” sê sy. 

  • Op my eish! is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). 
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe