Al was Neels se soektog na liefde tot dusver gevul met pret en avontuur, moes hy ’n moeilike besluit neem en van die vroue huis toe stuur. Min het die vroue geweet dat Neels tydens die derde episode nie net een vrou nie, maar twee die trekpas gee. 

Sonja (32), ’n skakelwese spesialis, is die eerste vrou wat haar sakke moes pak en huis toe gaan. 

sonja
Sonja. Foto: Verskaf

Om die vroue in die program te groet en huis toe te stuur is een van die moeilikste besluite wat hy moes neem het Neels voorheen aan Huisgenoot vertel. “Jy moet ongelukkig gaan hoewel ek nie wil hê jy moet nie,” was die Fynskrif-akteur se woorde aan haar. 

Het sy ooit gedink sy sou die eerste een wees wat huis toe gestuur word?

“Ek was verlig om so vroeg te kon gaan. Ek sou nie kans gesien het om weggestuur te word nadat ek hals oor kop vir die man geval het of by ’n moontlike katterigheid onder die dames ingetrek word nie,” laat Sonja hoor. 

Die werklikheid van huis toe gaan, het eers ná ’n dag of wat by haar ingesink. “Ek woon alleen, en die stilte pleks van die klop aan jou deur vir ’n koffiekuier het vir ’n paar dae hard gelui.”

neels van jaarsveld
Neels sê danksy die program glo hy weer in liefde. Foto: kykNET

Waar Huisgenoot nou met Sonja gesels, vertel sy dat sy steeds kans sien vir liefde. “Net nie hierdie jaar nie,” skerts sy. Sonja sê sy fokus nou eers daarop om haar onderneming te bou. 

“Die reeks was ’n wonderlike ervaring en ek het onvergeetlike mense ontmoet. Die resultaat van Neels se besluit het beslis nie ’n duik in my selfvertroue en tevredenheid gelaat nie. Ek wens hom voorspoed toe met die reeks se uitkoms,” sê Sonja. 

Sy sit ook nou elke Donderdagaand nes die res van die land voor die kassie om te sien watter van haar mede-deelnemers gaan eindelik Neels se hart wen. 

Sascha (31) ’n fotograaf en ma van drie van Centurion is ook huistoe gestuur. Volgens Sascha was sy ’n bietjie uit die veld geslaan toe sy hoor sy moet gaan. “ Ek was baie verbaas en het gedink ek sou ’n bietjie langer bly,” sê sy. 

Dit was vir haar wonderlik om vir Neels te ontmoet. “Hy is baie gemaklik en ons het lekker gesels op kamera en van kamera af. Daar was net geen emosionele konneksie nie; daarom kan ons nie ’n ding forseer nie!”

sascha
Sascha. Foto: Verskaf

Al het haar reis met Neels baie vroeg geëindig, sien sy weer kans vir liefde. “Ek glo ons is nie gemaak om alleen te wees nie. Ek is opgewonde om te sien wat my toekoms inhou, en ek en ou Neelsie sal nog lekker kuier as goeie maats,” sê sy.

  • Op my eish! is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). 
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe