Die episode skop af met Florinda (25), ’n skoonheidsterapeut, wat vir Laurika (40), om verskoning vra vir hoe sy die vorige aand hanteer het. 

Kykers het laasweek gesien hoe die vonke behoorlik spat toe Neels ’n privaat gesprek met Laurika aan die res van die vroue uitgeblaker het. 


“Ek het besluit ek gaan haar om verskoning vra vir hoe dit hanteer is. Dit beteken nie ek aanvaar die manier hoe sy dit hanteer het nie,” laat Florinda hoor. Laurika, ’n prokureur van Somerset-Wes, was bly sy het na haar uitgereik en het die verskoning aanvaar.  

PAADJIES SKEI

Later probeer Neels en Laurika ook dinge uitklaar. Hy probeer haar laat verstaan dat dit wat die vorige aand gebeur het nie beplan was nie. 

“Ek het bloot net gegaan, ek het min tyd hierso en ek sal graag wil hoor wat hierdie mense daarvan dink. Dit het ongelukkig ge-escalate in ’n dramatiese episode; daar was baie konfrontasie en ek is baie jammer dat dit so moes uitdraai. Ek weet om vir jou jammer te sê is net nie genoeg nie, maar hopelik verstaan jy my punt,” verduidelik Neels. 

laurika
Laurika. Foto: Verskaf

Laurika het in reaksie daarop gesê dat sy reeds te veel lewenservaring het om so te wil voel. “Hierdie voel nie reg nie, want dit trek my af en ek het depleted gevoel.”

In hierdie stadium was haar lewe ongekompliseerd en dis hoe sy dit wil hou. “Ek weet nie hoe ’n mens kan teruggaan ná iets soos gisteraand nie. Voordat ek hom leer ken en begin vertrou het, het die vertroue reeds verbrokkel,” sê sy.  

neels van jaarsveld
Neels van Jaarsveld. Foto: kykNET

Dis toe die twee gesamentlik besluit dat hulle nie op dieselfde bladsy is nie en dat dit beter sal wees as hul paaie skei. “Dan kan jy soort van jou avontuur verder vat en ek wens jou alle sterkte toe,” sê Neels. Laurika sê sy hoop ook regtig Neels vind ’n pasmaat. 

Ná ’n paar emosionele dae het die akteur ook gaan aanklop by die lewensafrigter, Liezl Thom, vir advies. Sy het dit ook duidelik aan hom gemaak dat hy Laurika nie huis toe gestuur het nie, maar dat hulle saam besluit het dis beter dat sy huis toe gaan. 

florinda
Florinda. Foto: Verskaf

Met Laurika weg, hoor Neels ook by Florinda, tydens hul heuningoes-aktiwiteit, dat die vroue mekaar persoonlik aanvat, manipuleer en dele van hulself wys wat hulle nie noodwendig vir hom sal wys nie. Die onthulling vang hom onkant. 

Tanya (33) en Neels spandeer weer alleentyd en sy deel met hom wat sy op haar hart het. Sy maak dit duidelik dat sy nie daarvan gehou het dat Florinda en Hettie ook gekies is om saam op die aktiwiteit te gaan nie. “Hulle het my karakter uitgehaal en dink ek is nie gelukkig met myself nie,” sê Tanya. 

tanya
Tanya. Foto: Verskaf

Dis iets waarvan die akteur nie hou nie en met die groep wat al kleiner raak, druk dit hom om groot besluite te maak. Wie gaan volgende huis toe gestuur word?

  • Op my eish! is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). 
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe