Dit kom nadat Florinda (25) en Melani (32) uitgevind het die akteur het besluit hulle paadjies moet eerder skei en hulle nie eens kans gehad het om vir Hettie tot siens te sê nie. 

Dié drie vroue het baie geheg geraak aan mekaar tydens die reeks. Dit was juis vir Florinda erg omdat die vroue meer tyd met mekaar deurbring as met Neels. Op dié manier het hulle mekaar beter leer ken en hegte vriendskappe gevorm.  

Efraine, Florinda en Hettie
Efraine, Florinda en Hettie. Foto: kykNET

Die dae in Hermanus, waar die reeks verfilm word, raak egter al minder, en Tanya dink dis tyd dat die vroue besef hoekom hulle eintlik daar is. 

“Hoe nader ons nou kom aan die einde, hoe meer moet ons besef dat ons ons gevoelens vir die mense hierso moet eenkant sit en fokus op hoekom ons eintlik hier is,” sê sy. 

GEEN KONNEKSIE

Dis geen geheim dat Neels se gunstelingtydverdryf gholf is nie; daarom het hy vier vroue na die Hermanus-buiteklub genooi om hulle touwys te maak. 

Melani was een van die vroue wat die akteur gekies het vir hierdie groepsaktiwiteit. Dit was ook die perfekte geleentheid om meer uit te vind oor die blondekop. 

“Melani is ’n aantreklike geslote boek. Ek weet nie of ek by haar gaan uitvind wat dit is wat sy regtig wil hê nie. Ek weet nie of ek genoeg vordering met haar gaan maak om 'n punt te bereik waar ek kan kyk of daar ’n konneksie is op ’n ander vlak ook nie,” sê Neels nadat hy met haar gesels het. 

Benewens gholfspeel stel hy later vir Janka, Tanya en Hettie ook bekend aan toneelspel. 

APRIL 12, 2021: COVER SHOOT: Actor Neels Van Jaars
Die akteur Neels van Jaarsveld. Foto: Corrie Hansen

Mens sou dink Neels sou vir Melani huis toe stuur, maar nadat die akteur en Hettie ’n roerende weergawe van Romeo en Juliet opgevoer het, besluit hy sy paaie met die entrepreneur van Middelpos moet eerder skei. 

“Ek sal graag vir jou wil kom kuier op Calvinia, maar dis ongelukkig die oomblik waar ons paaie moet skei,” sê hy vir die ma van een. 

hettie
Hettie. Foto: Verskaf

Al was sy hartseer om huis toe te gaan was sy terselfdertyd opgewonde, want dit beteken sy kan haar kleinding weer sien. 

“Ek het vrede in my hart; ek kan nie iemand verloor wat nie myne is nie. Ek het dit vir jou van die begin af gesê,” sê Hettie vir Neels. 

Neels kan ook nie help om sy besluit te bevraagteken nie. 

“Is jy seker jy is op die regte pad, hoe kan jy hierdie fantastiese, unieke, magiese persoon laat gaan?” vra hy homself af. Hy erken wel dat daar net nie ’n “spark” was tussen hulle twee nie. 

LEWENSLANGE VRIENDSKAPPE

Hettie vertel aan Huisgenoot sy was vanselfsprekend hartseer toe Neels haar huis toe stuur, maar sy het haar tyd in Hermanus vreeslik geniet. 

“Dit was ’n wonderlike geleentheid om aktiwiteite te doen waarvan ek nie normalweg sou droom nie. Dit het my die geleentheid gegee om wonderlike vroue te ontmoet met uiteenlopende en eksentrieke persoonlikheide by wie ek kon leer en aanklank vind,” sê Hettie. 

Die vroue tydens die fotosessie in episode sewe
Die vroue tydens die fotosessie in episode sewe. Foto: kykNET

Al het sy dalk nie Neels se hart gewen nie het sy wel ’n paar vriendskappe gewen wat sy nog vir baie jare lank sal koester. 

“Ek weet waar een deur toegaan sal ‘n ander een oopgaan, al moet ons partykeer self die deur oopmaak,” sê sy. 

Die vroue het baie geheg geraak aan mekaar tydens
Die vroue het baie geheg geraak aan mekaar tydens die verfilming van Op my eish! Foto: kykNET

Dit was lekker om weer terug te keer na die Karoo en haar seun.

Het sy al liefde gevind?

“Ek het nog nie liefde gevind nie. My perfekte pasmaat moet ’n bonus wees in my en my seun se lewe. Ek weet wat ek soek in ’n man, en ek sien uit om hom eendag te ontmoet,” sê Hettie. 

  • Op my eish! is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). 
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe