Die TV-joernalis Nadine Theron in haar woonstel in
Die TV-joernalis Nadine Theron in haar woonstel in Muizenberg. Sy is nou in die kykNET-reeks Op my eish! te sien. Foto: ER Lombard/Gallo Images

Jy sien haar gewoonlik op die kassie flink verslag doen oor die jongste nuus. Maar die afgelope tyd bevind die mooi, blonde TV-joernalis haar in ’n heel ander konteks op die skerm – en dié keer is sy deel van die storie. 

En Nadine Theron erken ruiterlik: “Dit is nogal vreesaanjaend.”

Want dié keer berig sy nie oudergewoonte in eNuus se nuusbulletin oor die jongste opspraakwekkende gebeure nie, maar sy is sélf deel van die drama – as een van ’n dosyn of wat aanvallige vroue wat in die kykNET-werklikheidsreeks Op my eish! meeding om die akteur Neels van Jaarsveld se hart.

Ja, daardie Neels van die gewilde “Met eish, ja”-brandewynadvertensie en van Fynskrif-faam . . .

“Dis amper soos om te bungee jump,” sê Nadine (33) oor haar besluit om aan die reeks deel te neem. “Jy kan seker kop uittrek as jy regtig wil, maar jy het ingestem vir ’n avontuur en moet kyk waarheen dit jou vat.”

Kykers het reeds gesien waarheen Neels (42) haar op hul eerste romantiese afspraak geneem het – na die skilderagtige Hemel-en-Aarde-vallei met sy wynplase in die Wes-Kaap.

“Dit was een van die beste dates van my lewe,” vertel Nadine in haar woonstel in Muizenberg, Kaapstad.

“Ons het met motorfietse deur die vallei gery en baie gestop om na die uitsig te kyk. Ons het baie vinnig baie diep gesprekke gehad, en ons kon dinge vir mekaar sê wat ’n intieme band gevorm het.”

Neels se miniatuurworshond, Lulu, was saam met hulle op die uitstappie. “En om hom saam met sy hond te sien het my hart laat smelt. Al die faktore was daar vir Nadine om vir hom te val,” gesels sy verder, “en toe het ek iets begin voel”.

Sy is huiwerig om daardie “iets” ’n naam te gee. “Ek sou nie die woord ‘verlief’ gebruik nie, maar ek het kwaai sterre in my oë,” het Nadine kort ná die uitsending van daardie episode nog aan Huisgenoot gesê.

Al is baie mense – ook van haar vriende – skepties oor romanses wat in ’n kits voor die TV-kameras blom, glo sy dis wel moontlik dat daardie gevoelens die ware Jakob kan wees.

“Ek is Boer soek ’n vrou se grootste aanhanger en ek het baie daaroor geskryf,” verduidelik die joernalis. “Dit is hoekom ek vir ’n feit weet mense kan op werklikheidsprogramme liefde vind. 

“As dit vir Hennie en Jacobu gewerk het, hoekom nie vir my ook nie?” spot sy oor die gewilde Boer soek ’n vrou-paartjie wat getroud is nadat hulle mekaar in die reeks ontmoet het. 

“Ek het beslis geglo dit kan gebeur, en dit is hoekom ek so nuuskierig was . . .”

 Nadine in ’n insetsel vir ’n bulletin vir eNuus.
Nadine in ’n insetsel vir ’n bulletin vir eNuus. Foto: Instagram

Dit was juis haar joernalistieke nuuskierigheid wat die deurslag gegee het toe die vervaardigers van Op my eish! haar nader om aan die werklikheidsreeks deel te neem.

“Ek sou nooit self ingeskryf nie,” erken Nadine, wat sedert 2018 as ’n nuusjoernalis vir E-nuus werk en gereeld voor die kamera in hul bulletins te sien is.

“Maar ek voel die goed wat oor jou pad kom, is soms die goed wat jy moet aangryp.”

So het dit gebeur dat die joernalis met die groen oë en Efraine, ’n grimeerkunstenaar van Somerset-Wes, onverwags as die “wild cards” in die vyfde episode verskyn het. Toe hulle by die ander vroue in ’n hotel op Hermanus aansluit, het hulle behoorlik die knuppel in die hoenderhok gegooi, want skielik was daar nog twee vroue wat om Neels se aandag wedywer.

As joernalis het Nadine die bekende akteur al tevore ontmoet toe sy in 2017 by die Silwerskermfees ’n onderhoud gevoer het met hom en die model Jeanne Flynn, met wie hy toe nog getroud was. Die opskrif van haar storie was nog oor hoe dolgelukkig hulle is, onthou Nadine. Maar teen die einde van 2018 het Neels aangekondig dat hulle ná ’n huwelik van 18 maande gaan skei.

Nadine is al sedert Oktober 2019 enkellopend nadat haar vorige verhouding doodgeloop het. Daaruit het sy haar kat, Sabrina, gekry, vertel sy, wat nou teen die gaste se sakke kom skuur.Hier in haar woonstel leun ’n antieksjiek fiets teen ’n muur en haar lessenaar staan reg vir wanneer sy weer aan die werk moet spring. Meestal redigeer sy self hier haar televisie-insetsels

Haar loopbaan het in 2011 as multimediajoernalis by Media24 se digitale afdeling begin. Later het sy by Netwerk24 en toe by eNuus aangesluit.

Weens haar druk werkprogram moes die liefde maar dikwels tweede viool speel. “As joernalis werk ’n mens so baie oor naweke. Jy het nie tyd om op jou liefdeslewe te fokus nie. 

“En hier kry ek toe die geleentheid om ’n hele ruk lank net daarop te konsentreer om te kyk of ek verlief kan raak. Al wat ek moes doen, was om myself en my hart oop te maak.” 

Aanvanklik was Nadine skepties of sy ’n kans staan om die aantreklike akteur se oog te tref, maar vriende het haar oortuig sy het niks om te verloor nie. Behalwe dalk haar hart . . .

Nadine Theron
Nadine saam met Neels van Jaarsveld in Op my eish! Foto: Verskaf

Die gevoelens wat sy voor die TV-kameras ervaar het, was 100% eg, sê Nadine.

“Ek dink wel met so ’n dating show maak hulle die omstandighede om verlief te raak ideaal. Jy gaan op hierdie ongelooflike vakansie. Daar is die adrenalien oor die verrassingselemente of jy hom gaan sien of nie. 

“Jy weet nie of jy op ’n date gaan en of hy jou gaan huis toe stuur nie, want dit kan enige oomblik gebeur. En jy weet nie wat hy dink of hoe hy voel nie. En wanneer julle wel op ’n cool date gaan, is jy baie verbaas en verras.” 

Voor die TV-kameras in haar nuwe rol as deelnemer aan ’n werklikheidsreeks moes sy gedurig haar joernalistieke instink en ervaring opsy skuif.

“Ek het heeltyd gedink aan klankgrepe, maar hulle doen sulke lang onderhoude voor die kameras en jy sê so baie goed dat jy later geen idee het wat die storie is wat hulle gaan vertel nie. Maar op ’n manier was dit eintlik ’n verligting om nie te weet nie.”

Om haar deelname aan die program geheim te hou was opsigself ’n uitdaging.

Die vervaardigers het die deelnemers gevra om hul sosialemediaprofiele privaat te maak voor die program uitgesaai word. Omdat sy met soveel joernaliste bevriend is, moes sy hulle blok.

“Ek was Netwerk24 se sosialemedia-speurder. Gestel Neels het dalk uit die bloute van ’n foto gehou wat ek deel, sou dit genoeg gewees het vir iemand om ’n afleiding te maak,” verduidelik sy.

Nadine Theron
Neels en Nadine tydens ’n dansles in die reeks wat op kykNET uitgesaai word. Foto: Verskaf

Aanvanklik het sy nie eens haar ouers, Wilma (62) en Arnold (64), of sibbes, Celeste (30) en Etienne (26), wat almal in Pretoria woon, vertel dat sy aan Op sy eish! gaan deelneem nie.

“Ek leef steeds in vrees dat my ma dalk iets op Facebook gaan sê,” lag Nadine. “Sy sê dit is die moeilikste ding wat sy nog ooit moes doen.”

Dit is vir haar belangrik om die vertroulikheidskontrak met die vervaardigers streng na te kom. Al is die reeks klaar geskiet, moet die verloop daarvan ’n dig bewaarde geheim bly tot dit klaar uitgesaai is.

“Dit het baie te doen met my integriteit as joernalis. Hoe anders sal mense my in die toekoms weer met ’n eksklusiewe storie of inligting vertrou,” sê Nadine, immer die joernalis.

Sy het ook uit die staanspoor besef dat die kollig sy skadukant het. “Nes bekendes moet aanvaar die oomblik wanneer hulle in die kollig leef, kan goeie en slegte goed uitkom, geld dieselfde vir ons. Jy kan dit nie beheer nie.”

Danksy dié oopkop benadering pla afbrekende kommentaar in die sosiale media haar nie te veel nie. 

“Daar is hierdie vrou wat heeltyd praat oor my ‘gebleikte hare’. Sy wil net hê ek moet iets daaraan doen. Maar ek dink jou vel raak dik as jy hierdie werk doen. Die goed wat mense al oor my as joernalis gesê het, is baie erger.

“Tog dink ek nie daar was al veel in die program waaroor hulle iets kon sê nie,” voeg sy by, “maar miskien kom dit nog .”

En wat nog alles kom, sal kykers maar moet wag en sien – ook of die sjarmante Neels nog veel langer op sy “eish” gaan bly.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe