DIE NUWE VROUE

Soos gewoonlik is Op my eish! vol wendings en verrassings. Kykers het vanaand twee nuwe deelnemers ontmoet wat nou deel raak van Neels se soeke na liefde. 

Die res van die deelnemers was natuurlik verbaas toe hulle Efraine (29) van Somerset-Wes en Nadine (33) van Muizenberg die eerste keer sien. Die twee vroue sê hulle het gevlei gevoel toe kykNET hulle kontak. 

“Ek het nie gedink ek het ’n kans nie, maar was opgewonde oor die avontuur,” sê Nadine. 

“Ek het gedink hoekom dan nou nie? Ek was lank laas buite my comfort zone,” voeg Efraine by. 

nadine,op my eish
Nadine. Foto: kykNET

“Was hy nie gelukkig met ons wat oorbly nie dat hy nog twee moes kry?” wou Tanya weet. Maar nes die res van die deelnemers is die vroue ook op soek na liefde. 

Neels het altyd geweet dat daar ’n kans is dat ’n wild card gaan kom, maar wat hy nie geweet het nie, is dat daar twee sal wees! Hy was net so geskok soos die vroue.

efraine
Efraine. Foto: kykNET

Efraine was toevallig een van die drie gelukkige vroue wat Neels gekies het vir hul blommerangskikkingsaktiwiteit. Intussen het die ander Nadine, ’n joernalis, begin uitvra en op die hoogte gebring van die vorige dag se drama

TOT SIENS

Later die aand bereik dinge kookpunt tydens ’n kuier om ’n vuur op ’n plaas daar naby.

Dit alles nadat Neels vir Abigail, ’n aktrise, eenkant toe geroep en verduidelik het dat sy huis toe moet gaan. 

“Ek was net nie oortuig dat Abigail heeltemal hier is vir my nie,” sê Neels oor sy besluit. 

abigail
Abigail. Foto: Verskaf

Hoe voel sy daaroor? 

“Ek voel nie hartseer nie, want ek voel ek het genoeg kameratyd gekry. So nee, ek voel nie eintlik hartseer vir Neels nie,” sê Abigail. 

Laurika, ’n prokureur, is in trane oor sy tot siens moet sê aangesien dié twee baie geheg geraak het aan mekaar. 

Waar Huisgenoot nou met haar gesels sê Abigail sy voel oukei nadat sy huis toe gestuur is.

“Ek het besef Neels is nie vir my nie.”

Al het sy nog nie liefde gevind nie is sy beslis oop daarvoor.

VONKE BEGIN SPAT

Nadat die wyn gevloei het, begin die vonke behoorlik spat. 

Laurika besluit dis die perfekte tyd om haar vrese en bekommernisse met Neels te bespreek. 

“Jy vra my nie uit nie. Ek is maar die een wat in die lug hang terwyl ek geld kan verdien, my hondjies sien, dinge doen wat belangrik is. Ek hang in die lug vir jou en jy vergeet van my,” sê Laurika vir Neels. “Jy kies altyd die ander vroue bo my,” voeg sy by. 

Dit het ’n bitter smaak in die akteur se mond gelaat aangesien daar verskeie faktore is wat hy in ag neem voor hy op aktiwiteite met die vroue gaan. 

Hy noem ook aan haar dat dit voel sy plaas druk op hom. Die gesels word kortgeknip en hulle sluit by die res van die groep vroue aan. 

Neels is ontsteld en besluit op die ingewing van die oomblik om die vroue te vra of hulle dieselfde vrese en frustrasies as Laurika deel. Sy val hom toe in die rede en sê: “Ek kan vir myself praat.”

Laurika voel Neels het nie nodig gehad om ’n privaat gesprek aan die res van die vroue uit te blaker nie. Al vra Neels verskoning voel sy dit is nie opreg nie. 

“Ek hou nie van die manier hoe hy my vanaand behandel het nie. Dit kan dalk net die einde wees,” sê Laurika.

Kykers moet ingeskakel bly om te sien wie bly en wie besluit om tou op te gooi.

  • Op my eish! is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).