Hoe is dit moontlik? Hulle lyk dan almal presies dieselfde. Dis asof die tyd die afgelope 12 jaar vir die vier sterre van Will & Grace stilgestaan het – hulle het skaars ouer geword.

En tot groot verligting van hul aanhangers is hul kwinkslae nog net so vars en snaaks soos altyd.

Die nuus dat dié treffertelevisieprogram na ons kassies terugkeer, is met opgewondenheid én besorgdheid begroet. Sê nou dis ’n volslae misoes? Kyk net wat het met die herlewings van 24, Dynasty, Prison Break, Melrose Place en Dallas gebeur.

Die fantastiese viertal van die televisiereeks Will & Grace – (van links) Megan Mullally, Eric McCor­mack, Debra Messing en Sean Hayes – lyk nog net so goed soos 20 jaar gelede. Foto: Gallo Images/Getty Images

En ná agt seisoene van Will & Grace het die draaiboekskrywers buitendien seker alles gesê wat daar te sê is oor twee gay mans wat in New York saam met hul beste vriendinne woon?

Dis mos tyd mors?

Maar noudat die program in Suid-Afrika te sien is, word dit ál duideliker daar was niks om oor bekommerd te wees nie.

Van die kenmerkende temadeuntjie en die dekor van Will se woonstel tot die gewaagde gekorswel tussen die vier hoofkarakters is alles so vertroostend bekend dat dit voel of die program nooit weg was nie.

Trouens, die reaksie daarop was so positief, die televisiebase het reeds nog twee seisoene goedgekeur. Maar hoe het die herlewing enigsins ’n werklikheid geword as die rolverdeling, Eric McCormack (Will), Debra Messing (Grace), Sean Hayes (Jack) en Megan Mullally (Karen), voorheen hoog en laag gesweer het ’n reünie is buite die kwessie?

En hoe kry hulle die resep reg terwyl so baie ander misluk?

WAAR ’N WIL IS . . .

Aanhangers is Donald Trump dank verskuldig vir die negende seisoen. Tydens die presidentsverkiesing van 2016 het Will & Grace se medeskepper Max Mutchnick die akteurs gevra om aan ’n video van 10 minute ter ondersteuning van Hillary Clinton deel te neem.

“Die versoek het heeltemal uit die bloute gekom,” sê Eric (55). “Sedert die program in 2006 geëindig het, was ons nog nie weer almal saam in ’n vertrek nie. Ons het elkeen met ons lewe aangegaan en ander werk gedoen. Max het gesê hy wil ’n rolprent vir Hillary maak. Sy presiese woorde was: ‘Ons moet die monster (Trump) keer.’ Binne 40 minute het ons almal ja gesê.”

Die video het soos ’n veldbrand op die internet versprei. “Dit het meer as 7,5 miljoen kykslae gekry, wat ons gewys het mense wil wel nog van die viertal hoor,” sê Debra (49).

“Ons sou nie hier gewees het as dit nie daarvoor was nie,” voeg Eric by.

“As hulle net vir ons gesê het: ‘Ons wil nog ’n seisoen van Will & Grace maak,’ sou ons almal geantwoord het: ‘Laat ons liewer nie met daardie betowering mors nie.’ ”

Die akteurs sê toe hulle die eerste dag van verfilming op die stel opdaag, het dit gevoel of hulle aangaan presies waar hulle opgehou het.

“Ons dinamika, ons vonk, was daar en ek wou net weer lag,” sê Debra.

EENDERS MAAR ANDERS

Een van die dinge wat aanhangers die meeste bekommer het, was wat die program se skrywers met die reeks beoog. Twaalf jaar gelede, aan die einde van agt seisoene, het hulle sake taamlik oortuigend afgesluit: Will en Grace was albei getroud met kinders, maar het ’n uitval gehad en nie meer met mekaar gepraat nie.

Maar binne minute ná die nuwe seisoen se begin blyk dit, tot die kykers se verligting, dat die neerdrukkende einde eintlik net een van Karen se dwelmdrome was. Al was Will en Grace inderdaad getroud, het albei ’n egskeiding beleef en bly hulle weer saam in sy ikoniese woonstel in Upper West Side.

Ná al die jare geniet Eric en ­Debra dit steeds om saam te werk. Foto: NBC

Hoewel dit koel was dat hulle woonstelmaats was en mekaar bygestaan het terwyl albei na liefde gesoek het, is dit terselfdertyd ’n bietjie tragies noudat hulle, ’n dekade later, diep in hul 40’s is. Maar vir die program is dit komediegoud.

En om hul ellendes te vererger, sal hulle in die nuwe reeks die vooruitsig die hoof moet bied dat hulle dalk stiefbroer en -suster kan word nadat Will se ma (Blythe Danner) halsoorkop op Grace se pa (Robert Klein) verlief geraak het.

IS DIE PROGRAM NOG RELEVANT?

Televisiebase het in 1998 ’n groot kans gewaag toe hulle dié program met sy openlik gay karakters bekendstel. Destyds is Ellen DeGeneres se sitkom, Ellen, van die lug gehaal nadat sy haar kassie-karakter gebruik het om bekend te maak sy is lesbies.

Dit verklaar hoekom dit twee seisoene geneem het voor die program sy eerste soen tussen twee mense van dieselfde geslag (Will en Jack) gewys het. Al het die tye verander, glo die akteurs daar is nog werk om te doen – veral met die konserwatiewe Trump in die Withuis.

“Gay regte is nou meer onder skoot as ooit,” sê Eric.

  • Will & Grace is Woensdae om 19:30 op M-NET.

Tussen toe en nou

ERIC McCORMACK

Foto: Gallo Images/Getty Images

Twintig jaar later lyk dié akteur selfs aantrekliker as in die reeks se loodsepisode. Wat is sy geheim? “Dis bokbloed,” skerts hy. Sedert die slot van seisoen agt het hy gasrolle in onder meer The New Adventures of Old Christine en Monk vertolk en ’n paar televisieflieks gemaak.

Hy sê sy vrou, Janet, met wie hy in 1997 getroud is, en sy 16-jarige seun, Finnigan, help hom om sy voete stewig op die grond te hou.

DEBRA MESSING

Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy skryf haar jeugdige voorkoms toe aan goeie leefstylkeuses. “Ek sny suiker, gluten, suiwel, koffie en alkohol en enigiets gebraais uit, en die verskil is ongelooflik.”

Sedert Will & Grace het sy rolle in onder meer Smash en The Mysteries of Laura gehad.

Tussendeur is sy van haar man, Daniel Zelman, geskei en het sy by die lewe as ’n enkelma vir hul seun, Roman (14), aangepas.

MEGAN MULLALLY

Foto: Gallo Images/Getty Images

Dalk het Megan (59) se wonderlike voorkoms iets daarmee te doen dat sy – anders as haar martiniliefhebber- alter ego, Karen – selde drink, ’n Pilates-geesdriftige is en ’n organiese dieet volg.

Die aktrise met die piepstem is gelukkig getroud met die Parks and Recreation-akteur Nick Offerman. Die laaste jare het sy onvergeetlike rolle in sitkoms soos 30 Rock, Parks and Recreation, Web Therapy en Trophy Wife vertolk.

SEAN HAYES

Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy is die jongste van die groep, maar sy karakter se uitrustings het hom ouer laat lyk as wat hy is. Al speel hy in die reeks ’n karakter wat trots gay is, het Sean (48) in die regte lewe eers vier jaar nadat Will & Grace geëindig het die moed bymekaargeskraap om uit die kas te klim.

In 2014 is hy met die komponis Scott Icenogle getroud. Intussen was sy onvergeetlikste rol in The Three Stooges.

Die syfers

16
Soveel pryse het die ikoniese televisieprogram oor die jare gewen
20
Soveel jaar het verloop sedert die loods­episode in 1998 uit­gesaai is.
210
Die totale getal episodes oor die nege seisoene heen
R10,2 miljoen
Soveel Amerikaners het na die eerste episode van die reeks se herlewing gekyk.
R3,3 miljoen
Die sterre verdien ongeveer soveel elk per episode
BRONNE: VARIETY.COM, HOLLYWOODREPORTER.COM, USATODAY.COM, INEWS.CO.UK, TIME.COM, INSTYLE.COM, VOX.COM