In die jongste seisoen van Die boekklub, wat nou op die kassie te sien is, is Anrich weer te sien as Johan, wat met Hanli (Nicole Holm) getroud is. Pierre van Pletzen sluit vir die derde seisoen by die rolverdeling aan as Hanli se pa, Piet.

Anrich vertel hy was opgewonde toe hy hoor dat hy ná jare weer saam met Pierre op die kassie te sien gaan wees - en dit boonop as skoonfamilie!

“Toe ons sowat 35 jaar gelede aan die Orkney snork nie-reekse en -flieks gewerk het, was ek nog ’n skoollaaitie en Pierre ’n grootmens wat ek met baie respek en versigtigheid hanteer het,” sê Anrich. 

“Ek onthou byvoorbeeld dat ek nie sommer voor ’n opname met hom geselsies kon maak nie, want hy het my flat out geïgnoreer. Ek het hom verlede jaar daaroor uitgevra. Hy het geantwoord dat hy dan besig was om sy woorde te leer en hy moes konsentreer.”

Anrich Herbst en Pierre van Pletzen soos hulle 35
Anrich Herbst en Pierre van Pletzen soos hulle 35 jaar gelede as Wimpie en Spike in 'Orkney snork nie' gelyk het. Foto: Verskaf.

Terwyl hulle tussen Oktober en Desember verlede jaar aan Die boekklub verfilm het, het hy en Pierre egter wel die tye tussen tonele goed gebruik om saam te ontspan en te kuier. 

“Toe kon ons rustig man-tot-man gesels,” vertel Anrich. “Ons het nogal baie van ons snaaksste en beste herinnerings uit ons loopbane in die vermaaklikheidswêreld met mekaar gedeel.”

Een komiese voorval wat Anrich nooit sal vergeet nie, was die geleentheid toe hy vir Pierre en sy vrou, die draaiboekskrywer en aktrise Sandra Vaughn, in 2019 by die boekbekendstelling van Anna Emm se fantasieverhaal, Gif, in Kaapstad raakgeloop het.

Anrich het hulle by hul tafel gaan groet en vir ongeveer vyf minute lank gesels voordat Pierre skielik afhaak en sê: “My magtag Wimpie! Ek wou mos sê jy lyk bekend!”

Anrich (regs voor) en Pierre (links agter) vat ‘n
Anrich (regs voor) en Pierre (links voor) vat 'n blaaskans tydens die verfilming van 'Die boekklub'. Nicole Holm sit regs agter. Foto: Verskaf.

Behalwe vir sy werk as akteur, TV-aanbieder en stemkunstenaar, het Anrich ook sy eie tuis-ateljee in Bellville in Kaapstad waar hy stemwerk en advertensies opneem vir kliënte en radiostasies landwyd.