Hilary Swank vertolk die rol van die ruimtevaarder
Hilary Swank vertolk die rol van die ruimtevaarder Emma Green in die Netflix-reeks Away. Foto: Gallo Images/Getty Images/Netflix

DROOMROL

Sy is geen groentjie as dit by uitdagende rolle kom nie. Dié Amerikaanse aktrise het immers al twee Oscarbeeldjies vir beste aktrise huis toe geneem – vir haar spel in Boys Don’t Cry (1999) en Million Dollar Baby (2004) – en dit als voor haar 30ste verjaardag.

Maar om in ’n bokskryt houe te vat is niks vergeleke met gewigloos vlieg nie, sê Hilary Swank (46) oor haar jongste rol as die Nasaruimtevaarder Emma Green in die wetenskapsfiksiereeks Away wat haar man en tienerdogter vir drie jaar op aarde moet agterlaat om die eerste bemande ruimtesending na Mars te lei.

Vir die rol moes Hilary onder meer ’n ruimtepak van 16 kg dra. Op skool was haar droom om ’n ruimtevaarder te wees, vertel dié boorling van Nebraska.

“Die sterre was helder waar ek gebly het en die idee van die onbekende het my aangegryp.”

BUITESTANDER

Hilary is die jongste van haar ouers, Stephen en Judy, se twee kinders. Ouboet Daniel (54) is agt jaar ouer. Toe haar ouers skei, het sy en haar ma na Los Angeles verhuis om haar akteursloopbaan te begin – Hilary was toe 16. Hulle het op ’n kol finansieel so swaar getrek dat hulle in hul motor gebly het.

“Ek het soos ’n buitestander gevoel,” het Hilary al oor haar hoërskooljare in Suid-Pasadena vertel. “Ek het net gevoel asof ek nie gesien of verstaan word nie.”

KAMPVEGTER

Die aktrise het in 2017 ’n drie jaar lange blaaskans van Hollywood gevat om haar pa ná ’n longoorplanting te versorg. In daardie tyd het sy ’n liefdadigheidsorganisasie, Hilaroo, gestig om jong mense aan te moedig om verwaarloosde honde aan te neem.

Die naam is geïnspireer deur haar eie naam en dié van haar reddingshond Karoo, wat sy in 2004 aangeneem het terwyl sy die fliek Red Dust hier op Graaff-Reinet in die Oos-Kaap geskiet het.

Die aktrise saam met haar hondekinders. Foto: Inst
Die aktrise saam met haar hondekinders. Foto: Instagram (@hilaryswank)

LIEFDESLEWE

Sy het in 2018 met die entrepreneur Philip Schneider afgehaak.

Hilary en haar man, Philip Schneider. Foto: Gallo
Hilary en haar man, Philip Schneider. Foto: Gallo Images/Getty Images

Toe die covid-19-pandemie in Maart vanjaar in die VSA toeslaan, was Hilary by haar ouma aan vaderskant se begrafnis in Iowa.

“Ons het ’n tweedehandse kar in Iowa gekoop en begin terugry.” Hulle het op die ou end vyf maande in ’n vriend se huis in Colorado gebly. Sy is nou weer tuis in Los Angeles.

“Dit was ’n seëning, want anders as in LA, waar selfs die staproetes gesluit was, was ons buite en in die natuur en op ’n veilige plek.”

Kitsfeite
  • Hilary het al ses keer die rol van werklike figure uit die geskiedenis vertolk, onder andere die Amerikaanse lugvaartpionier Amelia Earhart in die fliek Amelia en Gail Getty, die eerste vrou van die Britse filantroop sir Paul Getty, in die TV-reeks Trust.
  • As tiener het sy as swemmer aan die Washingtonstaatskampioenskapsbyeenkoms en die Junior Olimpiese Spele deelgeneem. Sy was ook die vyfde beste gimnas in die staat toe sy op skool was.
  • Hilary was van 1997 tot 2007 met Rob Lowe se jonger akteurbroer Chad Lowe getroud.
  • Sy is een van net vier aktrises wat elke keer wat hulle vir ’n Oscar benoem is daarmee weggestap het. Die ander is Vivien Leigh, Sally Field en Luise Rainer.
BRONNE: PEOPLE.COM, INSTYLE.COM, IMDB.COM, WASHINGTONPOST.COM, TIMESLEADER.COM, SCMP.COM