Daarin kry paartjies van reg oor die land wat al ’n lang ruk in ’n verhouding is die geleentheid om af te haak. Maar daar is ’n kinkel: Hulle moet die troue binne net een dag reël!

Reandi het einde Maart aan die program begin verfilm en skiet steeds daaraan. “Ons skiet waar ook al die paartjies geleë is,” verduidelik die aktrise. 

reandi grey
Reandi het einde Maart aan die reeks begin verfilm en sê sy geniet dit om die verskillende troues by te woon. Foto: VIA

“Ek wil al so lank graag ’n aanbieder word. Boer soek ’n vrou was nog altyd boaan my wenslysie. Toe ek hierdie geleentheid kry, was ek uit my vel,” vertel Reandi. 

Haar eie groot dag was vier jaar gelede by die Snowflake-onthaalplek in Potchefstroom. “Ek en Dewald was presies ’n jaar verloof voor ons getrou het. Dit het my presies ’n jaar gevat om my troudag te beplan,” vertel sy. Nou is hulle die ouers van ’n kleinding, Heidi (2). 

Die aktrise wou nog altyd 'n aanbieder word
Die aktrise wou nog altyd 'n aanbieder word. Foto: VIA

Hul troudag het talle onvergeetlike oomblikke opgelewer.

“Een van my gunstelinge was toe ek en my man by die gastehuis aankom waar ons oorgeslaap het. Ons het uitgeput op die bed neergeval met seer voete van baie dans, konfetti in ons hare, ’n trourok wat tot op die knieë vuil is en nuwe ringe aan ons vingers. Ons het net daar gelê en die hele dag ingeneem en kon nie ophou praat oor alles wat gebeur het nie.”

Haar eie troudag het talle onvergeetlike oomblikke
Haar eie troudag het talle onvergeetlike oomblikke opgelewer. Foto: VIA


Reandi deel 5 wenke met paartjies wat hul troue tydens die inperking reël:

1. Onthou hoekom jy wil trou. Jy wil trou omdat jy die res van jou lewe met daai persoon wil spandeer.

2. Ek het ’n groot troue gehad, maar een ding wat die program my geleer het is dat intieme troues só lekker is. 

3. Dekor, kos en ’n onthaalplek is belangrik, maar ’n dominee is die belangrikste, want hy gaan julle inlui om een te word. 

4. ’n Troue is so besig, steel mekaar deur die loop van die aand en gaan sit iewers en neem alles in wat besig is om te gebeur, want alles gaan so gou verby.

5. Moenie hartseer wees dat jy nie oorsee kan gaan wittebrood hou nie. Ons het so ’n wonderlike en indrukwekkende land en die inperking vorseer ons om regtig ons land te geniet. Gaan verken dit vir jul wittebrood. 


  • Eendag word Woensdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. 
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe