In dié nuwe reeks kry vier leerders toelating tot die Live Arts Little Theatre in Johannesburg, waar die dramaonderwyser Louw Breytenbach hulle vir kompetisies afrig. 

Die eintlike sterre van die reeks is die toegewyde en uitgesproke ma’s wat vierkant agter hul kinders staan. 

Aan die einde van die reeks van 13 episodes wen drie van die vier aspirantakteurs ’n internskap van drie weke by die Serenbe Playhouse-teater in Atlanta in Georgia, Amerika.

1. GARETH FAURE (17), BOKSBURG 

Processed with VSCO with b1 preset
Gareth Faure. Foto: Sebastian Schutte

Caitlin is sy grootste kompetisie in die nuwe VIA-reeks, sê Gareth. 

Dié twee is ook baie goeie vriende. 

Hy het van jongs af ’n passie vir die kunste gehad, maar eers in gr. 6 klasse aan die Live Arts Little Theatre begin loop. 

SY DRAMA-MAMMA 

“Gareth begin nou eers met professionele oudisies en ek doen alles wat ek kan om hom te ondersteun en by te staan,” sê sy ma, Tracey-Lee Hoffman (45). 

Sy pa, Daniel Faure (45), steun sy seun se beroepskeuse 100%.

“Hy is gemaak vir die verhoog,” sê Daniel.

2. SHENIZE BEKKER (15), ALBERTON

Processed with VSCO with b5 preset
Shenize Bekker. Foto: Sebastian Schutte

Shenize, wat op kleuterskool reeds met drama begin het, glo die uitdagings verskil van kompetisie tot kompetisie. 

“Daar is altyd ’n nuwe mens wat jou kan uitdaag om die kollig te steel,” sê sy. 

Sy lê reeds oudisies af vandat sy op laerskool was en spog met ’n rits dramapryse. 

Een van haar grootste inspirasies is die akteur en sanger Bouwer Bosch.

HAAR DRAMA-MAMMA 

Anders as haar dogter is Ruanne (44) glad nie een vir die kollig nie, sê haar man, Jurie. 

Tog doen Ruanne alles wat sy kan om Shenize se droom te bewaarheid.

Jurie (44) spog graag dat sy dogter se toekomstige sukses in die vermaakbedryf vir hom ’n neseiertjie sal verseker. 

3. UWEN DU PLESSIS (16), ALBERTON

Processed with VSCO with b5 preset
Uwen du Plessis. Foto: Sebastian Schutte

Hy het op vyf met dramaklasse begin, maar was aanvanklik baie skaam en skrikkerig vir die verhoog. 

In gr. 2 het hy dié vrees reeds afgeskud. 

Hy geniet dit om saam met sy ma na oudisies vir rolle te gaan. 

“Ek geniet net elke oomblik op die verhoog omdat dit my toelaat om enigiemand te wees,” sê hy.

SY DRAMA-MAMMA 

Talita (42) is baie opgewonde oor die geleentheid om in VIA se nuwe reeks gesig te wys. 

Uwen het sy pa se liefde vir die kunste geërf. 

André (45) is gaande oor drama en die kunste en rig Uwen soms vir rolle af. 

Dié trotse pa skrik glad nie vir drama nie en is altyd slaggereed om in te spring en by te staan, sê Talita. 

4. CAITLIN ARRIES (18), BENONI

Processed with VSCO with b5 preset
Caitlin Arries. Foto: Sebastian Schutte

Sy is haar eie grootste kompetisie, sê Caitlin. 

“Ek is baie streng met myself en wil aan myself bewys dat ek die beste is.” 

Sy is die oudste deelnemer in die reeks en doen al drama vandat sy op kleuterskool was. 

In gr. 1 het sy haar eerste drama­kompetisie gewen. 

HAAR DRAMA-MAMMA  

Deesdae verbied Caitlin haar ma, Cel (51), om saam met haar na dramakompetisies te gaan. 

Sy is immers volwasse en wil onafhankliker wees, sê Caitlin. 

Haar 52-jarige pa, Donovan, is beslis haar grootste ­ondersteuner en aanhanger. 

DIE DRAMA-ONNIE

louw breytenbach
Louw Breytenbach. Foto: Verskaf

Louw Breytenbach (29) is ’n entrepreneur, bekroonde akteur en toespraak­skrywer wat reeds die afgelope sewe jaar in beheer van die Live Arts Little Theatre in Johannesburg is. 

As onderwyser spog hy met 120 uitgesoekte studente. 

Hy is een van die direkteure van die gesogte National Arts Association, wat landwyd kompetisies en kursusse aanbied om leerders en onderwysers aan drama bloot te stel. 

Hy is aan die spits van die Broadway2SA-uitruil­program, wat jaarliks aan Suid-Afrikaanse leerders die geleentheid gee om drama in Amerika te gaan studeer. 

DIE DRAMA-MAMMAS

celestine arries,talita du plessis,ruanne bekker,d
Dié mammas gaan sorg vir baie drama. Van links is Celestine Arries (Caitlin se ma), Talita du Plessis (Uwen se ma) en ­Ruanne Bekker (Shenize se ma). Voor sit Gareth se drama-mamma, Tracey-Leigh Hoffman. Later in die reeks sal nog ’n ­drama-mamma haar opwagting maak. Foto: Sebastian Schutte

  • KYK DRAMA-MAMMAS WOENSDAE OM 21:30 OP VIA.