Van ’n pastoor sal jy mos net eerlikheid en opregtheid verwag, of hoe? Wel, ja, behalwe as hy veg om te oorleef op ’n afgeleë tropiese eiland waar die kleinste voordeel die verskil tussen wen en verloor kan beteken. Soos Werner Joubert.

Dié pastoor en opgeleide biokinetikus beskou sy sterk leierseienskappe as sy beste wapen. Maar wanneer hy kaalbolyf op die Filippynse eiland rondbeweeg waar Survivor SA afspeel, steek hy dit vir sy mededingers weg.

Hoekom? Sodat hulle hom nie as ’n bedreiging beskou, hom uitstem en sy kans in die wiele ry vir die prysgeld van R1 miljoen nie, natuurlik.

Kom ons wees eerlik. Om mense te mislei of leuens te vertel is deel van die speletjie.

En in die skattejag na immuniteitsvoorwerpe wat hom van uitskakeling vrywaar (hidden immunity idols in Survivor-terme), skroom hy nie om die papiertjie waarop die leidraad staan in te sluk nie.

Dis dié soort slinkse taktiek deur die 34-jarige Werner wat die oë laat rek van kykers van M-Net se gewilde werklikheidspel.

’n Pastoor maak mos nie so nie. Vra jy hom daaroor uit by die Jouberts se huis op Secunda, toon hy allermins berou.

“Ek het geweet die vrae en kritiek gaan kom, maar daar is nie ’n verskil tussen my as pastoor en mense wat nié in die bediening is nie. Ek is nie verhewe bo ander nie,” sê hy.

Sy skelmstreke waaroor sommige kykers so verontwaardig is, het sommer in die eerste episode van die huidige Survivor-reeks kop uitgesteek. Die eerste uitdaging is deur Werner en sy span gewen.

En toe hulle by hul kampeerplek kom, het hy verwoed begin soek na die voorwerp wat hom van uitskakeling sou vrywaar. Hy vind toe ook die papiertjie met die leidraad, steek dit vir sy spanmaats weg en doop dit toe kort daarna in die see en sluk dit in.

Hy het die tonge laat klap toe hy ’n papiertjie met ’n leidraad insluk.

“Ek was so ingestel op die kompetisie, ek het skoon vergeet ek het die papiertjie ingesluk,” sê hy vandag. “Toe ek dit later op TV sien, het ek net my kop geskud en lekker gelag,” vertel hy.

“Kom ons wees eerlik. Om mense te mislei of leuens te vertel is deel van die speletjie.”

Dié geestelike hoeder is ook ’n oudspeler en -afrigter van die Sasol-rugbyklub op Secunda. En hy het juis besluit om die Survivor-spel soos ’n rugbywedstryd te benader.

“Tussen die vier lyne van die speelveld is dit bloed, snot en trane. Maar wanneer die wedstryd verby is, kan ek my teenstander se hand skud,” verduidelik hy passievol.

“Ja, jy fop jou teenstander op ’n sielkundige vlak en fisiek tackle julle mekaar. Maar julle het heeltyd respek vir mekaar en dit was vir my baie belangrik,” sê hy. Toe hy gekies is om aan Survivor deel te neem, was dit vir hom belangrik om “lyne” vir homself te trek.

“Ek het geweet ek sal mense moet mislei, maar ek wou nooit iemand afbreek nie. Ek weet nie of ek altyd daarin geslaag het nie, maar ek het probeer.”

In 2013 het Werner en sy vrou, Juné (34), ’n fotograaf, van Muizenberg na Secunda verhuis nadat Shofar hom daarheen verplaas het.

Net soos in die Kaap is hy hier die voltydse pastoor van die plaaslike Shofar-gemeente. Hy het in 2011 sy beroep as biokinetikus vir die bediening verruil omdat die Here hom in 2010 gelei het om sy praktyk te los en voltyds in die bediening te tree.

Werner het in 2011 sy loopbaan as gekwalifiseerde biokinetikus vir die bediening verruil. Hy sê die Here het hom gelei.

Hy is ook met sy graad in teologie aan die South African Theology Seminary besig. Dit is ’n aanlyn Bybelskool (kollege) wat afstandsonderrig bied, en studente kan tot doktorale studie in teologie doen.

Die paartjie het twee kinders: hul seuntjie, Kaeleb (4), en sy babasussie, Talitha (7 maande). Hul dogtertjie het hulle in April vanjaar aangeneem.

Juné vertel dit was vir haar aanvanklik moeilik nadat Werner na die Filippynse eiland vertrek het. “Dit het gevoel of hy net verdwyn het. Dit was ’n groot aanpassing, maar dit was eindelik ook makliker as wat ek gedink het dit gaan wees,” vertel sy.

Sy het erg verlang. “Ek het vreeslik baie op Google Maps ingezoem om te probeer bepaal waar in die Filippyne hy dalk kan wees, maar ek was meestal heeltemal verkeerd,” sê sy laggend.

Ek het 100% besluit om deel te neem omdat ek ’n fan is. Die geld is ’n bonus, maar ek sou sonder om twee keer te dink om die titel meegeding het, al was geen prysgeld betrokke nie.

Vir Werner was die tyd op die Survivor-eiland ’n droom wat bewaarheid is en iets wat hy altyd sal onthou.

“Dit was alles wat ek gedink het dit sou wees en nog veel meer,” vertel hy. Hy het in 2014 die eerste keer ingeskryf vir die reeks, maar nie deurgedring nie. Tog het hy bly glo hy sou sy kans kry.

“Ek is ’n Survivor-superfan,” sê hy.

“Ek het 100% besluit om deel te neem omdat ek ’n fan is. Die geld is ’n bonus, maar ek sou sonder om twee keer te dink om die titel meegeding het, al was geen prysgeld betrokke nie.

“In die afgelope vier jaar is agt seisoene van die Amerikaanse reeks uitgesaai. Ek het elkeen getrou gevolg en ontledings gedoen,” vertel hy oor sy voorbereiding vir Survivor.

Hy en Juné het saam na ouer seisoene begin kyk nadat hulle op Secunda nesgeskop het. Werner het selfs na podsendings van ontleders geluister wat oor elke episode gesels en die deelnemers beoordeel.

“My liefde vir Survivor het laat ontwikkel. Maar toe ek dit eers ontdek, het dit ontplof. Ek het ’n bank van kennis begin. Ek het oor en oor na reekse gekyk, na die podsendings geluister, soveel moontlik kennis ingeneem en besluit wie ek as deelnemer sou wou wees.”

Ek is ’n gebore leier en neem altyd leiding, of dit nou by die kerk is of toe ek rugby gespeel het. Ek het geweet ek kan nie in Survivor wys hoe maklik ek leierskap aanvaar nie. Ek moes my sterkste punt wegsteek.
Hy en sy vrou, Juné, by hul kinders, Talitha en Kaeleb. Hulle het Talitha vroeër vanjaar aangeneem.

En toe hy hoor hy is vir die huidige Survivor-spel gekies, was dit vir hom een van die lekkerste dae van sy lewe.

“Ek sou elke jaar ingeskryf het tot ek gekies word en vandag is ek opreg dankbaar ek kon dit doen.”

Hy glo sy sterk punt is sy manier om sielkundig vir iets voor te berei, nie noodwendig fisiek nie. En omdat hy ’n pastoor is wat daagliks met mense werk, was hy veral geestelik gereed vir die uitdaging.

“Ek lei al 15 jaar selgroepe en ’n mens leer baie persoonlikhede op dié manier ken. My vlak van verdraagsaamheid en om persoonlikhede te lees kan nie onderskat word nie. Ek was in my kop voorbereid,” sê hy.

Omdat geloof en gemeenskap vir hom so belangrik is, glo hy daar is ’n rede waarom hy aan Survivor moes deelneem. En hy wou dit op die regte manier doen, al moes hy ook strategies wees.

“Die middelpunt van my identiteit is my karakter in Christus, en die gemeenskap is vir my baie belangrik,” vertel hy. “In gemengde gevegskuns slaan jy iemand in die gesig. Op die rugbyveld pak jy jou teenstander. In Survivor mislei jy jou teenstanders en neem strategiese besluite. Dit is die reëls van die spel. Maar iemand kry altyd seer.”

Sy liefde vir mense en gees bou het op universiteit begin toe hy in die manskoshuis Huis Marais aan die Universiteit Stellenbosch was. Vandag kan hy hom nie indink hoe dit moet wees om nie deel van ’n gemeenskap te wees nie.

“My venster waardeur ek na die lewe gekyk het toe ek die Here op universiteit ontmoet, was een van tussen mense wees. Ek het nooit daaraan onttrek nie, want ek het geweet dit is waar ek hoort.”

Hy glo dit is die rede waarom hy so passievol oor die Survivor-reekse is; omdat hy “ingeprop” wil bly in wat in die lewe gebeur. Maar omdat Survivor so strategies is, het hy ook besef hy moet ’n goeie spelplan uitwerk.

“Ek is ’n gebore leier en neem altyd leiding, of dit nou by die kerk is of toe ek rugby gespeel het. Ek het geweet ek kan nie in Survivor wys hoe maklik ek leierskap aanvaar nie. Ek moes my sterkste punt wegsteek. Mission invisibility was vir my uiters noodsaaklik,” vertel hy.

Hoe lank gaan ons nog sy spelplan op die kassie sien? Hy glimlag geheimsinnig en sê: “Julle moet maar wag en kyk.”

Foto's: Rowyn Lombard, Facebook/Shofar Secunda, Verskaf
  • Survivor SA: Philippines word Donderdae om 19:00 op M-Net (kanaal 101 op DStv) uitgesaai.