Die 28-jarige myntegnikus van Centurion is, in Donderdag se episode van Survivor SA, die 13de deelnemer wat van die eiland in El Nido in die Filippyne uitgestem is en die vyfde lid van die jurie. 

Pheko Phetoe, oftewel PK, meen hy het al ’n geruime tydjie geweet hy gaan dalk uitgestem word. "Ek was die laaste persoon wat oor was van my alliansie so ek was glad nie geskok nie," vertel hy aan Huisgenoot.com. 

Maar hy sê dat hy wel teleurgesteld is dat die "Sole Survivor"-titel (die laaste oorblywende deelnemer) nou buite sy bereik is. "Ek was teleurgesteld, maar ook trots dat ek so ver gekom het met so te sê niemand se hulp nie. Ek het my spel gespeel en niemand geraadpleeg nie, ek was my eie baas."

PK meen sy spelstrategie was om iemand anders toe te laat om die alfa te wees en dan voorstelle te maak sodat dié speler moontlike planne kan uitvoer. "Dit wil sê dat die teiken op daardie persoon se rug sou wees eerder as myne. Hierdie plan het ’n spesifieke tydsperiode gehad en ook dan natuurlik ’n vervaldatum."

Hy het liggaamlik en emosioneel ook swaargekry tydens die uitmergelende dae op die eiland en het sowat 13 kg verloor.

"Ek het my vrede die meeste gemis. Ek het dit gemis om met iemand te praat en nie te dink aan watter gevolge dit moontlik sou hê nie, maar ek het musiek die meeste gemis. Jy kan my die "Soul Survivor" noem," skerts PK. 

Sy grootste uitdaging was om in ’n gat te poef en homself in die see skoon te maak. "Danksy beurtkrag in Suid-Afrika is ek gewoond daaraan om ’n vuur te maak, maar om in ’n gat te poef was iets anders." 

Toe hy by die huis kom, het hy eerste aan ’n hamburger weggelê. "Dit was ongelooflik."

En hoewel PK teleurgesteld is dat hy nie meer deel is van die speletjie nie voel hy verlig dat sy liggaam eindelik kan rus. "Nie net kan my liggaam rus en herstel nie, maar my siel en gedagtes kan ook nou rus. Ek het vir ’n geruime tyd ’n bed en brood met my vyande gedeel en my alles gegee om die spel te speel."

Kykers sal dalk wonder hoekom PK nie vir Tom in Donderdag se episode gestem het nie. Dié twee het gereeld vasgesit en omtrent vir drama op die eiland gesorg. Maar dit was deel van sy plan, meen PK. "Ek het vir Annalize gestem om ’n punt te bewys, want ek glo sy is volgende."

PK het gereeld by die stamberaadsessies genoem dat Werner die leier van sy alliansie is, maar Werner het dit heeltyd ontken. Werner het ook nie die deelnemers vertel dat hy eintlik ’n pastoor is nie.

En wat was PK se reaksie toe hy uitvind Werner is ’n pastoor?

"My reaksie was letterlik: 'Sjoe! ’n Pastoor?!'. Past. Beloftes.' Ek het gedog Werner was die sogenaamde busdrywer, maar eintlik het hy net sy gemeente gelei. Dit maak sin!"

Volgens PK speel Werner ook die beste spel. "Hy is die pastoor wat sy gemeente lei. Tom het ook nou ’n belangrike lid van die kerk geword, so welgedaan aan hom ook," vertel hy. 

En wat sou hy met die R1 miljoen doen?

"Ek sou dit gebruik om ’n deposito vir my huis te betaal. Ek wil baie graag eindom besit, ek is moeg van huise huur," skerts hy.