Die gewilde SABC 2-sepie, wat vandeesweek twintig jaar op die kassie vier, moes al hul verjaardagvieringe kanselleer weens die coronavirussiekte.

“Die huidige omstandighede is nie geskik vir die vieringe nie. Dit is dus moeilik om selfs opgewonde daaroor te raak,” sê sy. 

Al het die sepie ook amptelik op die 25 Maart verfilming gestaak na president Cyril Ramaphosa se aangekondiging, dat Suid-Afrika van die 26ste Maart om middernag in ’n staat van inperking is om die verspreiding van COVID-19 te bekamp, kan kykers steeds hul gunsteling sepie elke weeksaand kyk.

7de Laan het ’n persverkaring uitgereik wat kykers verseker dat hulle geen rede het om bekommerd te wees nie.

“Aangesien die sepie twee maande vooruit verfilm word, kan ons kykers gerusstel dat 7de Laan tot 25 Mei 2020 episodes in produksie het,” lui die verklaring. 

Die kykNET-sepies Binnelanders en Getroud met rugby was ook nog tot die dag voor die landswye lockdown op stel besig met verfilming. Die Kaapse sepie Suidooster was toe alreeds op ’n beplande produksiebreek. 

Die akteur Ramey Short het ’n foto van hom en die aktrise Simoné Pretorius op die Binnelanders stel gedeel. 

“Laaste dag van verfilming by @binnelanderstv voor dit 21 dae lockdown is. Aan almal wat vir my vra, ja ons is om en by twee maande voor met skedule so julle sal nog Binnelanders kan kyk. Die belangrikste is dat almal ongedeerd deur die moeilike tyd moet kom en daarop fokus om gesond te bly. Sanitize en clean. Vir eers groet ek ‘The Quintonator’ julle van Binneland-kliniek. Ons shoot nog tot so 18h30 vanaand. Hou die blink kan bo!” skryf hy.

kykNET het intussen ’n verklaring uitgereik wat sê die 21 dae se inperking, wat duur tot die 16de April, gaan nie ’n impak hê op Binnelanders, Suidooster, Arendsvlei en Getroud met rugby nie. 

“Dit is weens die feit dat dit vooruit verfilm is. Vervaardigers kommunikeer voortdurend met die kykNET-inhoudspan wat aan strategieë werk om die impak van COVID-19 op die vermaakbedryf (insluitend akteurs, tegniese spanne en kykers) tot die absolute minimum te beperk.” 

“Op die stadium word sepies nie geaffekteer nie omdat hulle twee en ’n half tot drie maande vooruit verfilm is. Die skrywerspan kan gelukkig nog voortgaan en die kameraspan kan nog beeldmateriaal redigeer,” sê Reggy Moalusi, die uitvoerende hoof vir korporatiewe sake by MultiChoice Suid-Afrika. 

Volgens Kayleen beteken die 21 dae inperking dat die 7de Laan-span die verlore tyd later sal moet inhaal. 

“Almal sal hulle A-game moet bring om te verseker dat geen tyd gemors word nie. Ons het dit oorweeg om die verlore tyd op te maak deur die dae te gebruik van ons produksiebreke en bystanddae wat geskeduleer is voordat die nuwe episodes verfilm word,” sê sy.  

“Die grootste impak is dat ons nie as ’n noodsaaklike diens beskou word nie. Ons is bevoorreg om in die posisie te wees waar ons episodes vooruit verfilm het, maar as dit aanhou na die verwagte tyd sal daar ’n finansiële impak wees op die produksie,” voeg sy by. 

Vir nou hoop alle produksiespanne dat hulle een van die dae na ’n normale roetine kan terugkeer.