SPANNENDE SPAN

Die kykNET-dramareeks Projek Dina gaan jou vasgenael hou voor die kassie. 

Die splinternuwe reeks gaan oor ’n span speurders met uiteenlopende persoonlikhede wat sake oor vermiste persone oplos. 

“Ek probeer al ’n paar jaar lank om hierdie reeks van die grond af te kry,” vertel Roberta Durrant, die kreatiewe vervaardiger van Projek Dina. 

“Ek was baie dankbaar toe kykNET die jawoord gee. Suid-Afrika is een van die probleemgebiede as dit by mensehandel kom; daarom was dit belangrik dat ons so ’n reeks maak. Daar is al baie reekse oor vermiste persone in ander lande gemaak, so hoekom nie hier waar dit ’n groot probleem is nie? ’n Kind verdwyn elke vyf uur in Suid-Afrika,” sê sy.

Die misdaadreeks is van Junie tot September verlede jaar in en om Kaapstad, die Kaapse Vlakte, Somerset-Wes en die Weskus verfilm. 

Projek Dina is geïnspireer deur regte sake,” vertel Tarryn Josephs, die publisiteitsbestuurder van Penguin Films, die reeksvervaardiger. 

“Marcel van der Watt, wat jare lank by die Valke met baie hoëprofielsake in Suid-Afrika gewerk het, het as konsultant opgetree, en Bianca van Aswegen van Missing Children South Africa ook.”

“Marcel het elke teks deurgelees om seker te maak alles is feitelik korrek, terwyl Bianca elke storiekonferensie bygewoon het om te help met die ontwikkeling van die 13 episodes.”

DIE HOOFKARAKTERS 

Die drie speurders is spesifiek deur brig. Patricia Dlomo (gespeel deur Vicky Kente, oftewel Connie Mtshali van Arendsvlei) gekies vir die vermiste-persone-taakspan.

DEON  VISAGIE 

Tim Theron vertolk die rol van kapt. Deon Visagie. Foto: kykNET

Tim Theron vertolk die rol van kapt. Deon Visagie, ’n puntenerige 38-jarige speurder wat glad nie die reëls buig nie. 

Die ding van sy werk wat hy die meeste verpes, is om saam met ander mense te werk – nie omdat hy nie van hulle hou nie, maar omdat net die koue, harde feite vir dié meesterstrateeg saak maak.

LUXOLO “LUX” DLADLA  

Chumani Pan vertolk die rol van Lux. Foto: kykNET

Die rol van Lux, ’n 31-jarige ongeorganiseerde mense-mens, word deur die Ashes to Ashes-akteur Chumani Pan vertolk. 

“Lux is alles wat Deon nié is nie,” sê Tarryn. Lux het net een doel voor oë: geregtigheid, en as hy die reëls moet breek om dit te laat geskied, dan is dit maar nou so...En dis een van die groot oorsake van konflik tussen hom en Deon.

RONEL OOSTHUIZEN  

Chanelle de Jager speel Ronel Oosthuizen. Die akteur Henré Preto­rius speel haar man, Wynand. Foto: kykNET

Chanelle de Jager, veral bekend vir haar rol as Des in Egoli, speel Ronel Oosthuizen, ’n vreeslose 40-jarige vrou. 

“Sy is die nie­amptelike leier van die taakspan, en Lux en Deon aanvaar dit maar so,” sê Tarryn. 

“Ronel gaan uit op sake, maar doen meestal die administrasie. Sy is die een wat die plakkate van vermistes opsit, met die polisie in kontak is en nou saam met vermistes se familie werk. Ronel is die hart van die span en die ander maak staat op haar om die span bymekaar te hou.” 

Die akteur Henré Preto­rius (op die foto bo) speel haar man, Wynand.

KOPPE STAMP 

projek dina,akteur,tim theron
Die speurders Deon en Lux. Foto: kykNET

Deon en Lux stamp sommer van dag een af koppe. “Lux kom gou agter Deon dink hy is die belangrikste speurder van die drie,” sê Tarryn. 

“Dié twee kan mekaar nie verdra nie, maar hulle respekteer mekaar se werk. Ronel hou die span bymekaar en probeer die vrede tussen Deon en Lux bewaar.” 

Die kykers vind in elke episode ’n bietjie meer uit oor elke hoofkarakter, verduidelik Tarryn. 

“Die speurders ontmoet mekaar eers wanneer Projek Dina (die naam van hul span) gestig word, en namate die hoofkarakters mekaar leer ken, leer die kykers hulle ook ken. Elkeen worstel met hul eie probleme en hanteer dit op hul eie manier, wat bydra tot hoe hulle elke saak aanpak.”

DIE REKENAARBOFFIN 

Kay Smith speel die rekenaarboffin Charlene “Charlie” Botha. Foto: kykNET

Die aktrise Kay Smith, wat bekend is as Debra in die telenovelle Arendsvlei, speel die 22-jarige rekenaarboffin Charlene “Charlie” Botha. Sy is ’n losloper wat nie glo in vriende hê nie.

“Charlie is ’n tawwe koekie wat maar van kleins af moes sien kom klaar,” sê Tarryn. 

“Sy is in gr. 10 uit die skool uit, en alles wat sy vandag weet, het sy vir haarself geleer.” 

Hoewel Charlie nie ’n amptelike lid van die taakspan is nie, is sy ’n belangrike hulpbron vir die span.

“Sy kan basies enigiets op die rekenaar doen. Hulle maak in talle sake van haar kennis gebruik en sy word ’n betroubare informant vir die taakspan,” sê Tarryn.

UITDAGINGS

Daar was talle uitdagings tydens die verfilmingsproses, vertel Roberta. 

“Ons het meer as 200 karakters in die reeks omdat elke episode ’n ander wêreld betree. En as gevolg daarvan moes ons ook talle verskillende plekke kry om op te skiet. Ons moes ook 13 episodes van ’n uur lank elk in 11 weke skiet.”

Talle bekende gesigte maak ’n draai in die reeks, onder andere Pierre van Pletzen, oftewel Oubaas van 7de Laan, Lee-Ann van Rooi van Die boekklub- en Sara se geheim-faam en die Alles Malan-sterre Nicole Fortuin, Ivan Zimmermann en Nadia Valvekens.

Projek Dina gaan die hartsnare roer. “Dis baie belangrik dat kykers oplet na wat hulle op die skerm sien, want dit wys hoe maklik dit is om ’n kind te steel,” sê Tarryn. 

“Dit neem byvoorbeeld 90 sekondes om ’n kind in ’n winkelsentrum te steel. Mense is so geneig om te dink dat so iets nooit met hulle kan gebeur nie, en dis presies wat Projek Dina goed uitbeeld – ons probeer die alledaagse situasie uitbeeld sodat ouers hopelik meer paraat is.”

Die reeks gee ook ’n blik op speurders se lewe. “Hulle werk lang ure om hierdie sake op te los terwyl hulle met hul eie probleme by die huis sit,” sê Tarryn.

Die episodes is elke week op ’n ander saak gegrond. “Al deurlopende storie is dié van Ronel, Charlie, Lux en Deon.” 

En hoekom die titel Projek Dina

“Ronel kom in episode een met die naam vorendag. Sy verwys na die eerste vrou in die Bybel wat vermis geraak het. Haar naam was Dina. Of dit eindelik die werklike rede is, sal kykers maar moet wag en sien.” 

  • KYKNET | BEGIN op DINSDAG 14 JANUARIE OM 20:00

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.