So lank as wat sy kan onthou, sukkel sy met haar tande.

Sekere soorte kos wat vir ander vreugde bring, was vir haar buite die kwessie – dit was bloot te seer om dit te eet. En wanneer sy by die werk vir klante moes glimlag, was sy nooit gemaklik nie.

Maar Jegardi du Plessis (31) se lewe het verander nadat sy einde verlede jaar uit sowat 800 inskrywings gekies is as die wenner van Huisgenoot, die televisie kanaal VIA en die werklikheidsprogram Dr. Nou se mooimaakkompetisie. Die prys was ’n regruksessie wat tot R200 000 sou kos.

Jegardi voor haar mooimaaksessie. Foto: Sharon Ser
Jegardi voor haar mooimaaksessie. Foto: Sharon Seretlo

Nie net is haar tande oorgedoen nadat sy as wenner van die kompetisie gekies is nie; sy het ook velbehandelings én ’n nuwe haarstyl gekry.

Die proses en eindresultaat is in Desember op Dr. Nou uitgesaai.

“Ek voel soos ’n nuwe mens. Ek kan nie vir jou sê hoe lekker dit is om enigiets te kan eet wat ek wil of om eindelik breed te kan glimlag nie,” sê Jegardi, wat in die toerismebedryf werk.

“Ek was so verras toe hulle my gekies het, maar ek het nie gedink dit gaan so ’n groot verskil maak nie. Dit voel nog soms onwerklik, maar die beste is dat ek nie meer in pyn is nie.”

Haar probleme met haar tande het al op laerskool begin, sê Jegardi, wat in die Vrystaat grootgeword het en die afgelope jaar in Pretoria woon.

“Ek kners verskriklik op my tande en dan het ek absesse gekry omdat die tande so afgeskuur is en daar heeltyd druk op my tandkasse was. Ek het al drie operasies gehad om die absesse te verwyder. Ek was eintlik nog altyd in konstante pyn,” vertel sy.

Dit was besonder moeilik – veral wanneer sy by ander mense gaan eet het. “Ek kon nie eens ’n appel eet nie. Mense dink jy is vol fiemies omdat jy nie saam eet nie, maar ek kón nie!”

Dokters het drie jaar gelede van die senuwees in haar kake verwyder om dié pyn te verlig.

“Maar dit was steeds seer. Ek kan glad nie dinge soos komkommer eet of Coke met ys in drink nie. Die tande is baie sensitief, en ek moet baie versigtig wees wat ek inneem, want my tande verkleur ook maklik,” het sy voor haar prosedure gesê.

Jegardi na haar mooimaaksessie.
Jegardi na haar mooimaaksessie.

By die werk – in die eetsaal van die luukse Rovos Rail-trein – en op foto’s het sy altyd haar bes gedoen om so min moontlik tande te wys wanneer sy glimlag.

Nadat sy die kompetisie gewen het, het twee tandartse, dr. Jurgens Grové en dr. Marli Swanevelder van 1,2 Smile in Bryanston, byna vyf uur lank aan Jegardi se tande gewerk.

“Sy het al haar agtertande weens die gekners verloor, en al die druk was op haar voortande,” verduidelik Jurgens.

“Hulle het dus ál korter geword en was eintlik maar net stompies.”

Aangesien al die emalje van haar tande verweer is, het Jegardi se tande ook maklik verkleur en was die onderste lae blootgestel, sê Marli.

“Dit is geen wonder sy het gesukkel om sekere kosse te eet nie; dit moes vreeslik sensitief gewees het.

”Die tandartse het elke tand weer op gebou en implantate ingesit waar Jegardi nie meer tande gehad het nie. Sy moet nou snags ’n plaatjie dra om te verhoed dat sy op haar tande kners.

Jegardi voel soos 'n nuwe mens na haar mooimaaksessie. Foto: Verskaf
Jegardi na haar mooimaaksessie.

Die resultate van die operasie het haar verras, sê Jegardi.

“Die eerste keer toe ek in die spieël gekyk het, het ek net gedink: ‘Sjoe, dis mooi.’ Als wat die dokters gedoen het, het so ’n groot verskil gemaak.”

Ook haar kêrel van die afgelope vier jaar, Gert Coetzer (30), kon sy oë nie glo toe hy haar die eerste keer gesien het nie, sê sy laggend.

Jegardi en haar kêrel, Gert Coertzer. Foto: Verska
Jegardi en haar kêrel, Gert Coertzer. Foto: Verskaf

“Nou het ek al perskes, hamburgers, roosterbrood en ander lekker dinge wat ek nie voorheen kon eet nie, weer geproe. Dit is so lekker, maar dit voel nog onwerklik– wanneer ek ’n hap vat, verwag ek half dit gaan seer wees,” sê sy.

“Ek het ook waardevolle raad by die dokters gekry, en selfs die verskil aan my vel voor en ná die tyd is enorm.”

Maar die grootste verskil is dat sy nou nie meer skaam-skaam hoef te glimlag nie.

“As ek vir iemand wou glimlag, het ek altyd gedink, ‘oe, moenie jou mond groter oopmaak nie’ of so iets. Nou glimlag ek so breed moontlik!” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe