Die nuwe aanbieder van Noot Vir Noot is die musikant en TV-persoonlikheid Emo Adams (41).

"Ons het iemand geteiken wat kan sing, goed beweeg, goed kan aanbied, sin vir humor het, goeie musiekkennis het, ondervinding op TV, ondervinding op die verhoog, iemand wat professioneel en betroubaar is ten alle tye, iemand wat sy gehore respekteer en as gevolg daarvan deur sy gehore gerespekteer word. Iemand wat Noot Vir Noot na verdere hoogtes met bestaande en nuwe gehore kan neem," het Johan Stemmet Donderdagoggend op Facebook oor sy opvolger geskryf.

"Daar is vir my net een persoon wat aan al hierdie vereistes voldoen en wie ek met die heel grootste vertroue as aanbieder van die nuwe Noot Vir Noot wil verwelkom. Ek sien so geweldig daarna uit om vorentoe saam met hom te werk," het hy verder gesê.

Johan het aanhangers omtrent op hete kole gehad oor die aankondiging toe hy Woensdag verklap het: “Ons lig die sluier voor die naweek."

Die oudisies vir die nuwe seisoen van dié immergewilde SABC2-reeks het reeds begin, maar die vraag op almal se lippe was natuurlik: Wie gaan Johan as aanbieder vervang?

Johan het ook sy Facebook-vriende en aanhangers gevra om drie name te noem van wie hulle dink die nuwe aanbieder gaan wees. Meer as 1000 aanhangers het binne ’n paar uur gereageer met voorstelle, raaiskote en hul wenslysie vir die nuwe aanbieder.

Pieter Koen, Emo Adams en Willem Botha se name het by verre die meeste tussen die aanhangers se raaiskote en voorstelle opgeduik.

Die aanbieder Katlego Maboe se naam het ook ’n keer of wat as ’n raaiskoot opgeduik.

“Bobby van Jaarsveld,” het een aanhanger geraai.

Solly Philander, was ’n ander se mening. Selfs die popsangeres Patricia Lewis en sanger Robbie Wessels se name het ’n keer of wat opgeduik.

Van die kykers was oortuig Nádine, wat die musiekprogram Musiek Roulette aanbied, gaan nou ook Noot Vir Noot se aanbieder wees.

Die Binnelanders-akteur Germandt Geldenhuys was een aanhanger se voorkeur, terwyl iemand anders se hoop op Kurt Darren of Amor Vittone was.

SABC2 het op hul eie Facebook-blad ook ’n wenk gegee van wie moontlik die nuwe aanbieder gaan wees. Kykers is genooi om te raai tussen Katlego Maboe, Emo Adams en Pieter Koen.

“As jy reg raai, kan jy dalk kans kry om agter die skerms te wees,” lui die inskrywing.

Hoewel nie almal saamgestem het oor wie die nuwe aanbieder gaan wees nie, stem baie Noot Vir Noot-kykers oor een ding saam: Dit gaan nie maklik wees om Johan se skoene vol te staan nie.

“Dit gaan nie dieselfde wees sonder jou nie,” skryf Marthie Gouws.

“Solank die opvolger net so goed soos jy is,” sê Yvonne Visser.

Johan het in 'n vorige onderhoud met Huisgenoot gesê hy gaan meer aandag aan sy rol as uitvoerende vervaardiger van die program skenk.

Die nuwe seisoen van Noot Vir Noot sal in Augustus uitgesaai word.

Emo Adams is ook aanbieder van die kykNET-program Maak My Famous, wat op 18 April begin.