Tydens die reeks ruk die bobaas-haarkapper Charles Junior Louw (21) probleemhare reg soos net hy kan. 

In die tweede episode sien kykers hoe hy Marisia se ma, Marietjie, ’n senior fakulteitsbeampte, onder hande neem. 

Marietjie was baie beïndruk met haar korter kapsel
Marietjie was baie beïndruk met haar korter kapsel. Foto: VIA

“Ek is mal oor tannie Marietjie! Sy is regtig ’n amazing mens en ek wou nog altyd haar hare knip om haar gesig te komplimenteer deur vir haar iets sags en modern te gee, meer as iets wat net reguit en stomp is. Dit moet ook by haar leefstyl inpas, soos byvoorbeeld as sy moet oefen, en dit moet maklik kan hanteer,” sê Junior. 

Charles Junior Louw
Charles Junior Louw. Foto: VIA

Marietjie was natuurlik mal oor haar kort kapsel.

“Sy vertel my gedurig hoe baie komplimente sy by die werk kry oor hoe mooi haar hare lyk,” vertel Junior.  

Selfs Marc en Marisia kom maak ’n draai in die reeks. Marc kom sny ook sy hare by Junior se salon HashTag Colour Lounge in Drieankerbaai in Kaapstad. 

“Ons is al baie lank goeie vriende, maar selfs Suid-Afrika se Bachelor kort soms ’n bietjie hulp! Ons kan nie met alles help nie, maar met sy hare is hy 100% uitgesorteer.” 

Nadia voor en na haar oormaaksessie
Nadia voor en ná haar oormaaksessie. Foto's: VIA
Sonet voor en na haar oormaaksessie.
Sonet voor en ná haar oormaaksessie. Foto's: VIA

Ander bekende gaste wat ook ’n draai kom maak tydens die reeks, is die aktrises Milan Murray, Christi Panagio en Nadia Herbst. 

Sy gunsteling-oormaaksessie word eers tydens episode nege uitgesaai, laat Junior hoor.

wilna,oormaaksessie,via
Wilna voor en ná haar oormaaksessie. Foto's: VIA

“Carmen is ’n ou kliënt van my en ek het haar meer as ’n jaar gelede laas gesien. Sy het intussen deur ’n moeilike tyd gegaan en het finansiële komplikasies gehad, soos baie mense gedurende die covid-19-pandemie. Dit was só spesiaal om die geluk op haar gesig te sien en om haar te kon bederf,” sê Junior. 


3 VRAE AAN JUNIOR

1. Waar kom jou liefde vir hare doen vandaan? 

Ek het begin deur ’n vriendin van my se hare op universiteit te knip en daardeur het ek toe die plaaslike haarkapper onder my vriendinne geword. Hierdie ondervinding het my laat besef die LLB-kursus waarmee ek besig was, was dalk nie die regte beroep vir my nie.

2. Wat is jou benadering wanneer dit by hare kom? 

Ek dink jou hare is jou kroon en jy moet so voel as jy uitstap by my salon se deur. Dit is vir my belangrik om ’n in diepte konsultasie te doen om ’n haarstyl voor te stel wat by elke persoon se persoonlikheidstipe pas. Jou hare moet die beste in jou uitbring en jou komplimenteer. As jou hare nie mooi lyk nie, dan voel ’n mens ook nie so goed nie. Daar is nie verniet ’n sêding soos I’m having a bad hair day nie.

3. Wat is gewoonlik vroue se reaksie wanneer hulle die eindresultaat sien? 

Daar is gewoonlik een van drie reaksies: 

1 Trane.

2 Junior, jy het my laat lyk soos ek nooit gedink het ek kan lyk nie.

3 Jy het my laat lyk soos toe ek ’n kind was – ek voel en lyk 10 jaar jonger.

En dan natuurlik, “Junior, jy het my hare gered!” 


  • Red my hare, Junior! Dinsdae om 19:30 op VIA (DStv-kanaal (147) 
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe