Dis ’n aangrypende en ontstellende gesig: honderde walrusse wat soos een groot, drillende grysbruin golf oor ’n krans spoel en na hul dood val.

Wat op aarde sou dié soogdiere van die see tot sulke abnormale gedrag dryf? Die antwoord is klimaatsverandering, verduidelik die geliefde en gerespekteerde omgewingskampvegter David Attenborough.

“Hulle doen dit nie uit keuse nie, maar uit desperaatheid.”

Die ongekende gedrag van die walrusse word onthul in die opspraakwekkende nuwe dokumentêre reeks Our Planet. Weens stygende seetemperature is daar nie meer genoeg pakys vir die walrusse, wat ’n groot deel van hul lewe buite die water deurbring, nie.

Daar is eenvoudig te veel walrusse en te min ys- en rotsoppervlak vir hulle om op te lê. In die ontstellende toneel beur sowat 100 000 van die diere, wat tot 1 ton elk weeg, bo-oor mekaar in hul paniek om ’n lêplekkie op ’n ysige strand te kry.

Walrusse val hulle dood van ’n krans in Rusland.
Walrusse val hulle dood van ’n krans in Rusland.
Walrusse val hulle dood van ’n krans in Rusland.

Hulle begin versmoor en uit desperaatheid klim hulle teen ’n steil krans uit, veel hoër as wat normaal is vir hulle. Dat die logge diere dit wel regkry om so hoog te klim, is merkwaardig, vertel David in die reeks.

Maar die probleem kom waneer hulle moet afklim, want hul sig is baie swak. En wanneer een in ’n rigting beweeg, volg die ander uit pure instink.

“Wanneer hulle honger word, moet hulle na die see terugkeer . . . en in hul desperaatheid om dit te doen val honderde van hoogtes af wat hulle nooit moes uitgeklouter het nie.”

David Attenborough (92) het ons oor die jare al telkens vasgenael gehou met verstommende dieregedrag. Maar Our Planet breek jou hart, sê mense wat al daarna gekyk het. Dis in agt episodes op Netflix beskikbaar.

David se doel met die reeks is juis om mense te skok. Want hy is siek en sat vir mense soos Amerika se pres. Donald Trump wat aardverwarming – en die katastrofiese gevolge daarvan – as snert afmaak.

Die walrusse is die tragiese slagoffers in David en sy span se werklikheidsepie waarmee hy die wêreld wil laat wakker skrik. In die somer soek die walrusse met hul kenmerkende dolkagtige ivoortande gewoonlik skulpvis in die vlak water van die Tsjoektsji-see tussen Rusland en Alaska. Wanneer hulle moet rus, klouter hulle op die ys.

Maar die ys oor die Arktiese Oseaan verdwyn teen ’n kommerwekkende tempo, wat die walrusse noodsaak om op die piepklein strandjies naby die Russiese dorpie Wankarem aan land te kom. En dis daar waar die regisseur en vervaardiger Sophie Lanfear die skoktonele verfilm het.

David het sy vertelling later in ’n ateljee in Brittanje bygewerk.

Sophie skat sowat 100 000 walrusse het feitlik oornag daar aangekom. Die span het in ’n beknopte hut op die strand geslaap toe hulle wakker skrik weens die geluid van walrustande wat buite teen die mure skraap.

“Dit was soos 100 000 Chewbaccas (die Star Wars-karakter) daar buite,” sê Sophie, wat ’n soölogiegraad van die Universiteit van Britstol in Brittanje het.

“Ons kon walrusse hoor snork. Ons het die deur oopgemaak en dit was net ’n muur van spek.”

Sophie en ’n walrus kyk tydens die verfilming van Our Planet vir mekaar in ’n hut.

Die strand was later so vol dat haar span van die hut se dak af moes verfilm. “Onder dié omstandighede is walrusse ’n gevaar vir hulself,” verduidelik David.

“’n Stormloop kan uit die bloute begin.”

Sophie wei uit: “Ons het walrusse gesien wat so uitgeput was dat hulle nie hul kop kon lig nie,” sê Sophie.

“Dis hulle wat dikwels deur die ander doodgedruk word. As die jonges van hul ouers geskei word, kan hulle doodgedruk word. Dis ’n baie tragiese toneel.”

Sophie en haar lewensmaat, die hoofkameraman, Jamie McPherson, was albei in trane toe hulle kyk hoe honderde walrusse oor die afgrond val. Sy raam sowat 650 het geval en nog 400 het op ’n nabygeleë plek ’n soortgelyke dood gesterf.

“Ek dink heeltyd daaraan – ek het so hulpeloos gevoel.”

Die walrustoneel het die wêreld aan die praat – maar nie almal aanvaar David se verduideliking nie. Susan Crockford, ’n soöloog van die Universiteit van Victoria in Kanada, noem dit “onsin” en beskuldig die span daarvan dat hulle “tragedie-porno” vervaardig.

Sy glo die walrusse het oor die krans geval terwyl hulle van ysbere probeer wegkom het. Maar volgens Sophie het bere geen rol gespeel nie. Haar span het gekyk hoe die walrusse ure lank oor die rotse sukkel voor hulle geval het.

Lori Polasek, van die Universiteit van Alaska Fairbanks, is ewe skepties. Volgens haar het walrusbulle al in hul dosyne van kranse in die suidweste van Alaska na hul dood geval.

“Walrusse het soortgelyke gedrag aan die Amerikaanse kuslyn getoon toe ruimte en ys nie ’n kwessie was nie. Die rede is onbekend.”

Maar Sophie hou vol hierdie geval is anders. Want die kranse waarteen die walrusse uitgeklim het, was veel hoër en daar is honderde dood, nie dosyne nie.

‘Ek dink heeltyd daaraan – ek het so hulpeloos gevoel’
Die regisseur So­phie Lanfear probeer die trane terughou nadat sy die afgryslike spektakel gesien het.

“Die punt is dat walrusse gereelder aan land moet kom as voorheen omdat daar nie genoeg see-ys is nie.”

Sophie word ondersteun deur Anatoli Kotsjnef, ’n Russiese natuurkenner wat walrusse al 36 jaar bestudeer. Hy sê toe hy sy studie begin het, is walrusse selde by die noordelike Tsjoektsji-see gesien. Nou word baie strande in die somer deur gestrande walrusse beset.

David en sy span is seker iets drasties is fout. In die dokumentêr verduidelik hy walrusse, ysbere en robbe “leef op die rand van klimaatsverandering en gevolglik ly hulle daaronder”.

Dit was die dryfveer agter sy besluit om die nuwe reeks te maak. In die verlede het hy dit gewoonlik vermy om oor aardverwarming te praat en dit eerder aan die kenners oorgelaat. Maar nie meer nie.

En al het hy dekades lank met die BBC saamgewerk, het hy Netflix gekies vir Our Planet sodat dit wêreldwyd deur soveel mense moontlik gesien kan word.

David wil die werklikheid van klimaatsverandering en wat dit aan spesies doen, wys eerder as om daaroor te preek.

En hy hoop politici en ander besluitnemers sal ophou om die katastrofe te ontken. Sophie sal beslis nooit vergeet wat sy aanskou het nie.

“Ek skat die walrusse is altyd in my kop, al klink dit ’n bietjie gek,” sê sy. “Maar dit por my aan om nog meer vir die omgewing te probeer doen.”

BRONNE: TELEGRAPH.CO.UK, ATLANTIC.COM, DAILYMAIL.CO.UK

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Netflix