Die Amerikaanse aktrise, wat bekend is vir haar rolle in 10 Things I Hate about You en Save the Last Dance, speel die kunskurator Georgina Clios in die BBC-misdaadrillerreeks Riviera.

Nadat haar karakter se man, Constantine (Anthony LaPaglia), ’n skatryk bankier, in ’n seiljagontploffing gesterf het, probeer Georgina uitvind wie hom vermoor het en ontdek sy skokkende waarhede oor die mense om haar.

Ons het met Julia (39) oor die tweede seisoen gesels.

Daar was soveel skokkende oomblikke dié seisoen. Wat kan ons van seisoen twee verwag?

Dit skop af waar ons laas geëindig het – in die nadraai van nog ’n moord.

Georgina moet vrede maak met haar gewete en haar ingewikkelde verhouding met die Clios-familie en wonder of sy sal wegkom met wat sy aan haar stiefseun, Adam (Game of Thrones se Iwan Rheon), gedoen het.

Wat was vir jou die lekkerste van dié rol?

Sy’s die soort karakter wat drama en gevaar trompop loop eerder as om daarvan weg te skram, en dít is vir my werklik interessant.

Toe ons begin verfilm het, het ek nie geweet sy sou in hierdie roekelose en opwindende karakter ontaard nie.

Ons het voor die inperking aan die derde seisoen geskiet – ek het nie geweet ek sou dié karakter so lank speel nie!

Will Arnett (van die sitkom Arrested Development) sluit dié seisoen by die rolverdeling aan. Vertel ons meer oor sy rol.

Hy speel Georgina se oom Jeff. Sy’s geheimsinnig oor haar grootwordjare en familie, wat hemelsbreed verskil van die wêreld waarin sy haar nou bevind.

Julia in ’n toneel saam met Will Arnett, wat haar
Julia in ’n toneel saam met Will Arnett, wat haar karakter se oom in die reeks Riviera speel. Foto: Sky Atlantic

Sy’t ’n hegte band met hom, en in hierdie seisoen is hy in beheer.

Sy weet sy gaan baie dinge vir hom moet wegsteek as sy sy goedkeuring wil behou, maar dis moeilik om vir haar oom te jok omdat sy werklik vir hom omgee.

Hoe was dit om op die Franse Riviera te verfilm?

’n Droomwerk! Ek kyk nou terug, veral noudat reis so beperk is, en is dankbaar dat ek na soveel mooi plekke in Europa kon reis.

Ons het op seiljagte en in villas verfilm – die landskap is asemrowend en daar’s oral hierdie kronkelpaaie wat op die see uitkyk.

Hoe was die afgelope paar maande sedert die begin van die COVID-19-pandemie vir jou?

Ons was pas klaar met verfilming vir die derde seisoen in Argentinië. Ek sou daarna vir familie in New York gaan kuier het, maar toe is dié stad reeds swaar getref deur die coronavirus.

Ek het toe Vancouver toe gevlieg op een van die laaste vlugte uit Buenos Aires voor die lughawe gesluit is. My man, Preston Cook, is Kanadees, en ons het ’n huis daar, so dis waar ons tans bly.

Het jy die blaaskans geniet en waarna sien jy uit vir wanneer dit verby is?

Ek is dankbaar vir die tyd saam met my seun (die tweejarige Strummer) en om tyd te hê om dinge te doen.

Julia en haar seun, Strummer. Foto: Magazine Featu
Julia en haar seun, Strummer. Foto: Magazine Features

Dit was moeilik om hom by die huis te los wanneer ons skiet, want ek was 12 uur per dag op die stel.

Nou is ek hier saam met hom in ’n tyd wat verbeeldingryk en speels is, met hom wat groei en baie leer.

Ek kan nie wag om hom speelpark toe te neem om saam met ander kinders van sy ouderdom te speel nie en sien uit na die dag dat ek op ’n vliegtuig kan klim en weer by my familie kan gaan kuier.

  • Die tweede seisoen van Riviera word vanaf Sondag 28 Junie om 20:00 op BBC First (DStv-kanaal 119) uitgesaai