Nou wys 12 plaaslike bekendes elke Sondag om vyfuur hul slag op die dansbaan tydens ’n regstreekse uitsending van die M-Net-werklikheidsreeks Dancing with the Stars.

Angelique Allison en die gewese Bafana-sokkerster Delron Buckley. Foto: M-Net.
Odessa Swarts (Wayde van Niekerk se ma) en Dylon Daniels. Foto: M-Net.
Tebogo Mashilo en die aktrise Zola Nombona. Foto: M-Net.

Die akteur Frank Opperman, die oudste deelnemer en sedert verlede maand ’n oupa, is vasbeslote om stof in die ander deelnemers se oë te dans. “Ek is nie Superman of Batman nie – ek is Opperman,” het hy op Instagram geskerts.

Jeanné Swarts en die akteur Frank Opperman. Foto: M-Net.

Voor die kompetisie sou jy nie maklik die beroepsnetbalspeler Vanes-Mari du Toit op ’n dansbaan kry nie. “Ek is amper 1,8 m lank. Wanneer ek by ’n vertrek instap, trek ek reeds aandag. Ek wou nie onnodig aandag trek deur nog te dans ook nie,” verduidelik sy.

Met die kompetisie kry sy nou die geleentheid om enigiemand wat uit voel – “die superkortes, die superlanges, die supermaeres of dié wat oorgewig voel” – te verteenwoordig, sê Vanes-Mari, wat in Desember met die Springbok-hulpafrigter Matt Proudfoot getroud is.

Vier dae nadat sy van haar wittebrood teruggekeer het, het sy vir die danskompetisie begin oefen.

“Ek dink my man leef op die oomblik van wegneemetes en etes wat vyf minute neem om gaar te maak. Ons is gelukkig albei in die sportbedryf en weet wat dit verg om toegewy te wees aan iets wat groter is as jyself. Hy is die grootste steunpilaar wat ek kan vra.”

Die gewese Mej. SA Liesl Laurie en Ryan Hammond, en Johannes Radebe en die netbalspeler Vanes-Mari du Toit. Foto: M-Net.

Die voormalige Mej. Suid-Afrika en omroeper van Jacaranda FM, Liesl Laurie, sê sy kon reeds ná net drie weke se dansery sien hoe haar lyf verander. “Ek kry spiere en bobene soos ’n sokkerspeler s’n,” spog sy.

Vir die aktrise Juanita de Villiers was die grootste uitdaging tot nou om weer haar hoëhakskoene aan te trek; haar voete is vol blase.

Die Suidooster-akteur Eden Classens trek gereeld aandag met sy blokkiesmaag. Tog vind hy dans verg ’n heel ander soort fiksheid.

“Ek oefen met gewigte, maar dit is kardio-oefeninge op sy hardste dié. My lyf was nog nooit so seer nie,” vertel hy.

Sy dansmaat, Ash-Leigh Hunter, verklap kykers sal nog sy hemp sien waai.

Ons kan skaars wag!