Die eindronde van die gewilde Amerikaanse talentsoekkompetisie America’s Got Talent het vanoggend om 02:00 Suid-Afrikaanse tyd plaasgevind. 

Die 25 lede van die Ndlovu-jeugkoor het die Amerikaanse gehoor én beoordelaars se harte verower op die verhoog van die beroemde Dolbe-teater in Los Angeles. Hul besonderse weergawe van die Amerikaanse sanggroep Toto se liedjie “Africa” het weerens ’n eg Suid-Afrikaanse kinkel gehad. 

Die koor is trotse jong ambassadeurs van die Afrika-vasteland.

“Afrika het die wêreld se jongste bevolking en ons hoop ons prestasie weerspieël die talent, geleentheid en potensiaal van miljoene jongmense. Een nasie, een vasteland,” het hulle na hul kleurvolle vertoning op Twitter laat hoor. 

Die Ndlovu-jeugkoor. Foto: Twitter/@ChoirAfrica
Die Ndlovu-jeugkoor. Foto: Twitter/@ChoirAfrica

Twee van die beoordelaars, die sangeres en aktrise Julianne Hough en die aktrise Gabrielle Union, het tydens die Ndlovu-koor se vertoning op die ritme van die Suid-Afrikaanse sangsensasie se musiek saamgedans. 

Hul medebeoordelaar Simon Cowell het hul opgewondenheid beaam: “Ek bid dat hierdie vertoning mense se lewens kan verander, en ek dink daardie vertoning het dit dalk net gedoen,” het hy gesê.

Simon het bygevoeg dat dit “die beste eindronde was wat ek in my lewe gesien het. Julle is die trots van Afrika; die trots van Amerika,” het sy laat hoor. 

Die koor berei voor vir een van hul optredes. Foto
Die koor berei voor vir een van hul optredes. Foto: Twitter/ @ChoirAfrica

President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrikaners se gevoel van trots in ’n twiet opgesom.

“ChoirAfrica se laaste optrede op AGT het my met groot trots en hoop vir die toekoms gevul. Ons ster skyn altyd die helderste as ons wys wie ons as Suid-Afrikaners is. [Ek] wens die Ndlovu-jeugkoor alles van die beste toe. In ons oë is julle reeds wenners.”

Die wenner van America’s Got Talent word Woensdagaand Amerikaanse tyd bekendgemaak (Donderdag 02:00 Suid-Afrikaanse tyd), en ontvang $1 miljoen-prysgeld (sowat R14,6 miljoen). 

Die Ndlovu-jeugkoor se droomreis tot dusver

Die koor het in Junie vanjaar n oudisie afgelê vir die 14de seisoen van America's Got Talent. Hulle het weggeval met n betowerende vertolking van Vicky Sampson se liedjie African Dream.

Al die beoordelaars, Simon Cowell, Julianne Hough, Gabrielle Union en Howie Mandel, asook die aanbieder, Terry Crews, was onmiddelik gaande oor die groep, en ’n wonderlike reis het vir hulle voorgelê.

Hul volgende vertoning in die kompetisie was 'vyfster-uitvoering van die 2010-sokkerwêreldbekerliedjie Waka Waka, en dit het hulle na die volgende ronde van die kompetisie laat deurdring.

Vir hul vertoning in die kwarteindronde het die sanggroep hul Amerikaanse gehoor in verwondering gehad met n optrede van U2 se liedjie Beautiful Day.

Daarna het hul besonderse weergawe van Steve Winwood se liedjie “Higher Love” hulle tot die eindronde laat deurdring.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.