Die koor wat van Limpopo afkomstig is, het 'n roerende huldeblyk aan Afrika gebring tydens hul laaste optrede in die finale ronde van America's Got Talent in die beroemde Dolbe-teater in Los Angeles. 

Dit was egter nie genoeg om die publiek se stem te verseker nie. In die regstreekse finale wat Donderdag in die VSA uitgesaai is, is hulle uitgeskakel voor die aankondiging van die top vyf deelnemers.

Kodi Lee, van Lake Elsinore in Kalifornië, het taai kompetisie uitgestof om as die seisoen 14-wenner gekroon te word – en sy oorwinning was emosioneel, aangesien die 22-jarige blind is en op vier jaar oud met outisme gediagnoseer is. 

View this post on Instagram

The #AGTFinale was a BLAST! Congratulations to @kodileerocks and all the talented contestants this season!

A post shared by America's Got Talent - AGT (@agt) on

Maar moenie die Ndlovu-jeugkoor afkryf nie. Hoewel hulle droomreis kortgeknip is, is hul toekoms nog helder. Trouens sal hul naam in die rekordboek aanleef as die eerste Afrika-deelnemers wat tot in die eindstryd van die talentsoekkomptisie deurgedring het. 

“Ons @AGT-reis mag dalk verby wees, maar dis nog net die begin. Ons is so opgewonde vir dit wat voorlê en ons sien uit daarna om liefde, eenheid en bowenal hoop te deel,” het hulle op Twitter laat hoor. 

Die Ndlovu-jeugkoor ná hul puik vertoning in die A
Die Ndlovu-jeugkoor ná hul puik vertoning in die America’s Got Talent-semifinaal. Foto: Twitter/@ChoirAfrica

Huisgenoot het voorheen met die groep se dirigent, Ralf Schmitt (37), gesels oor die groep se sprokiesverhaal van hul plattelandse tuiste buite Elandsdoorn in Limpopo, tot een van die grootste verhoë in die wêreld in Los Angeles. 

ndlovu,jeugkoor,ralf schmitt
Die Ndlovu-jeugkoor se dirigent Ralf Schmitt. Foto: Verskaf
simon cowell,americas got talent,ndlovu koor
Die beoordelaar Simon Cowell wens hul diri­gent, Ralf Schmitt, geluk met hul vertoning in America’s Got Talent. Foto: YouTube (skermgreep)

“Ons wou ons storie vertel en die wêreld aan ons koor voorstel,” het hy laat hoor. 

“Dit bly 'n Amerikaanse program en ons moet liedjies uitvoer waarby 'n Amerikaanse gehoor sal aanklank vind, maar niks het werklik gekom by die boodskap van "African Dream" nie,” het hy verduidelik.

Die Ndlovu-jeugkoor se droomreis 

Die koor het in Junie vanjaar ’n oudisie afgelê vir die 14de seisoen van America's Got Talent. Hulle het weggeval met 'n betowerende vertolking van Vicky Sampson se liedjie “African Dream”.

Al die beoordelaars, Simon Cowell, Julianne Hough, Gabrielle Union en Howie Mandel, asook die aanbieder, Terry Crews, was onmiddellik gaande oor die groep, en 'n wonderlike reis het afgeskop.

Hul volgende vertoning in die kompetisie was 'n vyfster-uitvoering van die 2010-sokkerwêreldbekerliedjie “Waka Waka”, en dit het hulle na die volgende ronde van die kompetisie laat deurdring. 

Vir hul vertoning in die kwarteindronde het die sanggroep hul Amerikaanse gehoor in vervoering gehad met 'n optrede van U2 se liedjie “Beautiful Day”.

Daarna het hul besonderse weergawe van Steve Winwood se liedjie “Higher Love” hulle tot die eindronde laat deurdring.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.