Fyntrap, eerder as drafstap – dis wat nou vir haar voorlê.Sy is al dekades lank een van die lieflinge van die plaaslike vermaakland­skap – ’n gunsteling op die kassie, silwerskerm en verhoog.

As aanbieder van die kykNET-­televisieprogram Sandra op ’n Drafstap het sy boonop onderhoude gevoer met van Suid-Afrika se bekendste gesigte.

Maar nou grawe die aktrise Sandra Prinsloo haar in heel ander wêrelde in – dié van alternatiewe kerke en kultusse.

Openbarings, heet die nuwe program wat sy op VIA, kanaal 147 op DStv, aanbied, en dis iets heel anders as die werk wat sy gewoonlik doen.

Dit is ’n sensitiewe onderwerp waarvoor sy versigtig eerder as ligvoets te werk moet gaan.

In elkeen van die 13 episodes word ’n paar alternatiewe godsdiensgroepe onder die loep geneem, en elke aflewering eindig met ’n paneelbespreking waartydens kundiges hul mening uitspreek oor of die groep ’n kerk of ’n kultus is (sien kassie).

Van die groepe wat ondersoek word, is bekend en skadeloos; ander is omstrede of selfs ge­vaarlik.

Die onderwerp is iets waaroor daar dalk in baie huishoudings ’n hewige debat sal wees – godsdiens is immers iets waaroor mense sterk voel, en ook erg kan verskil.

Maar Sandra voel nie ongemaklik om te praat oor die ondersoekende aard van die program nie.

“Vir my is die skeidslyn tussen die twee: As jy familie, vriende en persoonlike goed moet prysgee, raak dit meer kultus as kerk. In kultusse word lidmate afgesny van hul geliefdes. Hulle ly ongelooflike skade, finansieel, emosioneel en sielkundig. As dit gebeur, begin jy jouself afvra: Wat gaan hier aan?” verduidelik sy.

Ons kuier in een van haar gunstelingrestaurante, Cape to Cuba, in Kalkbaai. Sy bly net hier naby.

In ’n toneel uit Die Seemeeu saam met (van links) Gerben Kamper, Geon Nel, Cin­taine Schutte en Alyzzaner Fourie. Foto: KykNET

Op 71 is sy nog net so beeldskoon as toe sy fliekgangers in 1980 in die internasionale lokettreffer The Gods Must Be Crazy bekoor het.

Sy het ’n paar dokumentêre reekse oor alternatiewe godsdiensgroepe en kultusse gekyk om vir haar nuwe program voor te berei en deel haar mening met gemak. “In ’n kultus word alles van jou weg­geneem en alles word van jou gevra.

Dit maak dit vir jou baie moeilik om weg te gaan.

“Die ander ding is die klem begin ver­skuif van ’n goddelike wese na ’n mens; die charismatiese leier van die kerk.”

Sandra sê sy is self “taamlik spiritueel” en vertel dit was “fassinerend om meer oor kultusse in ons land te leer. Ek wens eintlik daar is nog ’n seisoen, want daar is so baie sulke groepe. Ek kon dit nie glo nie. Maar ons het net die puntjie van die ysberg ontbloot.” 

Dis nie net ekstreme kerkgroepe wat mense se lewe kan oorneem nie, meen sy. Ook aanhangers van alternatiewe ­genesing raak soms dweepsugtig oor hul besondere praktyk.

Sy verdoem dit allermins, want sy self beoefen reiki, ’n alternatiewe stresverminderings- en ontspanningstegniek.

Met ons eerste ontmoeting, sowat 20 jaar gelede by ’n noenmaal in Johannesburg, het ek ’n paniekaanval gehad – sy het my dié dag met reiki-behandeling binne minute tot bedaring gebring.

Toe ek haar daaraan herinner, lag sy: “Ek weet nie hoekom ek opgehou het daarmee nie. Ek doen reiki nog op my honde.”

Nes met godsdiens is alternatiewe behandelingsmetodes nie altyd gevaarlik of vreemd nie, beklemtoon sy.

Tydens die verfilming van die program het sy opnuut besef ’n mens kan ander nie sommer oordeel nie.

“Dit was nie my plek nie. Party van die goed was baie vreemd. Jy moes ’n geweldige kopskuif maak om objektief daarna te luister.”

Sy vertel van haar onderhoud met lede van die sogenaamde Blourokke, oftewel die Spade-reënsending, ’n konserwatiewe groep wat voorheen gekenmerk is deur die blou rokke wat vroulike lede gedra het.

“Die leier en sy vrou ry motorfiets. Toe ek sê ek sou haar graag met ’n blou rok agterop wou sien, vertel sy sy dra bikers-klere. Hulle hoef nie meer die blou rokke te dra nie,” vertel Sandra.

“’n Aangetroude tante van my het tot dié kerk behoort en het altyd so ’n rok aangehad. As kind het ek gedink dis baie vreemd. My ma-hulle was getroue NG Kerk-lidmate, maar selfs hulle het gesê dis haar ding en dit so aanvaar.”

En sy wat Sandra is?

“Ek is nie by ’n kerk betrokke nie. Ek moet seker ’n panteïs wees, want die natuur is vir my spiritueel.”

‘Kultuslede word meestal geïsoleer van ­almal wat hulle ken. Later word hulle marionette’

Daarom gaan stap sy elke dag ’n uur en ’n half met haar twee labradors, Romeo en Olga, en sy duik ook graag in die diepsee, vertel sy. Dis nou as haar vol program dit toelaat.

Sandra was vanjaar op die kassie te sien in die kyk­NET-komedie Mense Mense en het gespeel in die fliek Die Seeumeeu, gegrond op Anton Tsjechof se gelyknamige toneelstuk waarin sy ook ’n paar jaar gelede op die KKNK op die planke was.

Sy het ook vanjaar gespeel in teaterproduksies soos Soebatsfontein, My Seuns, Road to Mecca en Moedertaal, waarmee sy in September ook in Nederland opgetree het.

Maar eers gaan sy twee weke op Fouriesburg in die Vrystaat werk aan die fliekweergawe van Racheltjie de Beer, die verhaal van die dogtertjie wat haar klere in die sneeu uitgetrek het om haar boetie teen die koue te beskerm en so met haar eie lewe geboet het. In die fliek speel sy die boervrou Jacoba Lundt.

“As aktrise is ek van nature nuuskierig; om in die psige en emosies van karakters te klim,” sê sy.

Daarom was dit ook vir haar lekker om tydens die verfilming van Openbarings te probeer agterkom hoe die koppe van spesifieke kultuslede werk.

“Hulle word meestal geïsoleer van ­almal wat hulle ken. Later word hulle dan die marionette van die kultus, want hulle het niemand anders meer tot wie hulle hulle kan wend nie,” sê sy.

In Mense Mense saam met Lea Vivier. Foto: KykNET

“Die enigste struktuur waarbinne jy leef, is dié wat die kerk aan jou gegee het.”

Sommige kultusse gebruik byvoorbeeld die tegniek van “love bombing” op Suid-Afrikaanse kampusse, verduidelik sy. “Gewoonlik begin dit net met Bybelstudie. Dan raak dit sosiaal.

Die kultusgroep laat jou so goed voel; alles is net fantasties. Hulle gee jou soveel liefde.

Studente is in ’n oorgangstydperk op pad na die grootmenslewe en wil graag aan iets of iemand behoort; daarom is hulle so ’n maklike teiken vir ’n kultuskerk.

“Maar dis nie net studente nie; ook mense met baie geld en wat reeds grade het, word in kultusse vasgevang. Hulle het breinselle en tog wil hulle dit nie verlaat nie. Hulle is baie gelukkig daar.”

Sy glo vrees veroorsaak soms dat mense in ’n kultus bly, maar benadruk dit is ook vrees wat veroordeling aanvuur. In die verlede het hoofstroomkerke hulle skuldig gemaak aan die veroordeling van sekere mense, sê sy. “As jy in die Afrikaanse kerke net na ’n Katoliek gekyk het, was jy ‘van die pad af’.

Daar was die rooi gevaar, die geel gevaar; alles was ’n gevaar. Maar vrees behoort mos nie deel te wees van ’n geestelike ervaring nie?” sê-vra sy.

Wat het haar geskok tydens die navorsing vir die reeks?

“’n Vrou wat ’n kultus verlaat het, het my vertel toe sy begin vrae vra oor dinge nie vir haar lekker was nie, het die geestelike leier haar man aangemoedig om van haar te skei. Waar hoor jy van so iets?

Dit druis dan teen die betekenis van die heilige huwelik in,” sê sy verontwaardig. Dan voeg sy by: “’n Kerk of geestelike groep moenie jou lewe afrokkel nie.”

En sy kyk jou aan met daardie ysblou oë van haar – oë vol liefde en deernis, maar wat verby skanse sien. 

  • Openbarings begin op 15 November op VIA (DStv-kanaal 147).
  • Nuwe episodes word Donderdae om 20:30 uitgesaai en heruitsendings Sondae om 21:00. 
Op Sandra se paneel

Die groep van ses paneellede wat tussen kerke en kultusse moet onderskei, bestaan uit die kliniese sielkundiges Malinka van den Berg en Suzette Weideman, die teoloë dr. Clint Archer en proff. Henk Stoker en Maria Frahm-Arp en die sosioloog prof. Tina Uys.

In elke episode is die paneellede gekies wat die meeste ver­troud is met die bepaalde onderwerp onder bespreking, sê Konrad Kuhn, die vervaardiger van Openbarings.