NOG FOLTERING

Die kykNET-reeks se tweede seisoen het met ’n knal geëindig toe Maggie (Lee-Ann van Rooi) haar witbroodjie, die talentvolle jong danser Kelvin (Conway October), per ongeluk doodskiet.

Nou, twee jaar later, keer Maggie en kie terug vir die derde aflewering van dié boeiende dramareeks, en selfs meer geheime sal ontbloot word.

Die nuwe seisoen begin ná Kelvin se verskriklike skietdood. 

“Terwyl almal in skok is en besig is om te rou, beplan Maggie natuurlik hoe sy kan ontsnap,” sê Tarryn Josephs, ’n publisiteitsbestuurder van Penguin Films wat die reeks vervaardig. “Of sy sal wegkom, is ’n ope vraag.”

“As kykers gedink het die eerste en tweede seisoen was vol drama, dan moet hulle seisoen drié sien!”

Maggie se ma, Sara (June van Merch), het kort voor Kelvin se dood onthul Maggie se broer, Johnny (Dawid Minnaar), leef – en dat Sara boonop in sy huis as huishulp werk. Sy het voorheen gedink Johnny is in die politieke onluste in die 1980’s dood. 

In seisoen drie “het Sara nog ’n groter geheim wat sy met haar saamdra”, vertel Tarryn. “Nuwe liefde wink ook, terwyl party nog nie oor ou liefde is nie.”

’N MA SE PYN

Die magshonger Maggie en haar oudste seun, Aiden (Marlo Minnaar), stamp nog altyd kop, en hul verhouding het net nog versuur nadat Aiden in seisoen twee ontdek het sy ma se tronkvoël-eks, Ricky (Brendon Daniels), is sy biologiese pa – nie sy ma se man, Virgil (Charlton George), wat hom sy lewe lank grootgemaak het nie.

Kelvin se dood strem Maggie en Aiden se verhouding verder. “Soos enige dood maar ’n familie sal tref, is daar baie trane en is dit ’n groot skok. Soveel mense word hierdeur geraak, en dit lei tot hope kinkels wat kykers nooit sou kon verwag nie,” sê Tarryn. 

Marlo Minnaar speel Aiden. Sy verhouding met sy ma, Maggie, versleg ál meer in seisoen drie. Foto: kykNET

“Maggie probeer haarself tot elke prys beskerm, maar alle aksies dra gevolge; sy sal dus versigtig moet wees. Baie is op die spel.” 

“Aiden kan in hierdie stadium sy ma nie verdra nie. Sy maak alles in sy lewe net nog erger; dis die een ding ná die ander.”

PROBLEME VIR LIZZIE

In die slotepisode van seisoen twee het Maggie se jonger suster, Lizzie (Quanita Adams), met past. Benjamin (Keeno-Lee Hector) afgehaak. 

In die vorige seisoen het past. Benjamin, wat deur Keeno-Lee Hector gespeel word, en Lizzie (Quanita) afgehaak. Foto: kykNET

“Arme Lizzie weet nie wat op haar wag wanneer sy by haar wittebroodsbestemming opdaag nie,” vertel Tarryn. 

“Iemand moet die aaklige nuus oor Kelvin aan haar oordra. Ons kan nie veel verklap nie, maar ’n ander vrou kom boonop tussen die pasgetroudes.”

Quanita Adams vertolk die rol van Lizzie. Foto: kykNET

En dit gaan vanselfsprekend nie vir Lizzie maklik wees nie, veral nadat haar eerste man, die musikant Danny (Keenan Arrison), in die vorige seisoen die kat in die donker geknyp en ’n kind by ’n ander vrou verwek het.

NOG SKOKWENDINGS

Johnny probeer in die nuwe seisoen vir Sara oortuig om sy geboortesertifikaat aan hom te gee. “Maar Sara weet dis juis daardie sertifikaat wat ’n selfs groter geheim bewaar,” sê Tarryn. 

NUWE GESIGTE

Die nuwe seisoen is onder meer op die Swartland-dorpie Malmesbury, die Kaapse Vlakte, Elgin in die Overberg, Stellenbosch, die Strand en Silwerstroom verfilm. 

Al die ou karakters keer terug, maar kykers sal heelwat nuwe gesigte teëkom. 

bronté snell,aktrise,sara se geheim
Bronté Snell. Foto: kykNET

’n Rits akteurs van die telenovelle Arendsvlei sal in die nuwe seisoen te sien wees. 

Gerwen Simon, wat Valdonia in Arendsvlei speel, vertolk die rol van Carol la Grange, en Bronté Snell, wat die verleidster Clarissa gespeel het, wys ook gesig in die derde seisoen as die meestersgraadstudent Janine Ontong. 

gerwen simon,aktrise,sara se geheim
Gerwen Simon. Foto: kykNET

En dan maak Dean Richard Olivier, wat Anton in die telenovelle speel, ook ’n draai in Sara se geheim. 

“Al hierdie karakters speel ’n baie groot rol in die storielyn en sorg omtrent vir hope drama en intrige,” sê Tarryn. 

KYKNET | BEGIN DONDERDAG 16 JANUARIE 20:00

Kom neem deel aan die gesprek
 Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.