Lee-Ann vertolk die rol van Farah Adjerahn, ’n vriendelike weduwee wat na Ruiterbosch kom om oor haar eie besigheid te probeer bestuur. 

AB (Cedwyn Joel) en Mymoena (Jill Levenberg) ontferm hulle oor Farah en gee vir haar ’n plekkie om haar room, salf en sepies wat sy self maak, in AB se apteek te verkoop. Maar soos alle karakters wat die suidooster by Ruiterbosch inwaai, saai sy kort voor lank groot amok tussen die gemeenskap se mense. 

Lee-Ann vertel aan Huisgenoot dat sy alreeds voorheen oudisies gedoen het vir rolle in Suidooster voor sy die rol van Farah gekry het. 

“Ek het reeds ’n paar keer oudisies gedoen vir een of ander rol, maar dit het nooit uitgewerk nie. So toe hulle my bel en die rol van Farah aanbied was ek baie gelukkig!”

Farah is ’n weduwee met haar eie besigheid. Foto:
Farah is ’n weduwee met haar eie besigheid. Foto: Verskaf

“Ek het op 14 Junie begin skiet, en dit is ’n kort storielyn wat my tot begin September sal besig hou,” voeg sy by. 

Toe Lee-Ann by Suidooster aanmeld, moes die aktrise ook gewoond raak aan die nuwe manier van tonele verfilm as gevolg van die coronavirus-pandemie. 

“Dis glad nie maklik op ’n sepiestel waar jy meeste van die tyd in noue kontak met jou medeakteurs moet wees nie. Dit voel vir my asof al ons sintuie agter slot en grendel, of agter maskers, handskoene en sanitizer opgesluit is.

"Tekste is aangepas as gevolg van sosiale distansiëring, waar twee karakters mekaar met ’n drukkie of die hand sou groet, word dit nou met ’n kopknik vervang. Dis moeilik,” vertel sy. 

Daar is ook vele bekende gesigte vir Lee-Ann onder haar medesterre in Suidooster. Marlo Minnaar, wat onlangs sy debuut as die aptekersassistent Imraan Bassier in die sepie gemaak het, het haar seun Aiden Cloete in die dramareeks Sara se geheim vertolk. 

“Ek het met Cedwyn Joel en Marcel van Heerden (Chris du Plooy) op Die Boekklub gewerk, en met Monique Rockman (Joy Benjamin) in die webreeks Van Adamse, en ook met Denise Newman (Bridgette October) in Shirley Adams," vertel sy. "Ek en Dean Smith (Wade Daniels) het saam in die verhoogstuk Kinnes gespeel, en alhoewel ek en Jill Levenberg (Mymoena) reeds jare vriende is en saam radiodramas gedoen het, is dit nou ons eerste keer saam op die kassie." 

Saam met Cedwyn Joel (AB) in ’n toneel uit Suidoos
Saam met Cedwyn Joel (AB) in ’n toneel uit Suidooster. Foto: Verskaf

Lee-Ann is 'n bekende gesig op die kassie. Benewens haar rol as Maggie in Sara se geheim, was die aktrise ook al in dramareekse soos Projek Dina en Die Boekklub te sien, en sy sê die ritme van aan ’n sepie werk is iets waaraan sy gewoond moes raak. 

“Met ’n sepie wat jy langer om by die punt uit te kom. Ons skiet ook meer bladsye per dag, alhoewel ons baie minder sê. En daar is net een location, die ateljee. Om voor drie kameras in plaas van een te speel is ook ’n lekker uitdaging en sommige dae is makliker as ander, maar een ding bly dieselfde, die storie moet vertel word.”

Lee-Ann sal vir drie maande in Suidooster te sien
Lee-Ann sal vir drie maande in Suidooster te sien wees. Foto: Verskaf

Die storielyn self het ook vir haar ’n lekker uitdaging gebied. 

“Ek ken baie Farahs – die vrou wie se lewe gevul is met teleurstellings, maar wie steeds dag na dag probeer om beter te wees. Dit sal interessant wees om kykers se reaksie teenoor haar te sien,” sê Lee-Ann. 

Voordat sy by Suidooster begin het, het Lee-Ann die vrye tyd tydens die inperking gebruik om nuwe projekte aan te pak. 

“Ek skryf tans aan my eerste draaiboek, But We All Loved Jessie. Ek wou nog altyd skryf en vind die lang ure en afsondering agter my rekenaar terapeuties. Ek gee ook aanlynklasse by die Universiteit van Kaapstad, en probeer om soveel moontlik tyd by die huis met my ma en dogter te spandeer,” laat sy hoor.