Marc Buckner (36), ’n aantreklike en plat op die aarde besigheidsman, is M-Net se volgende Bachelor. 

Die eerste seisoen van M-Net se gewilde werklikheidsreeks The Bachelor South-Africa het omtrent naelbyt-oomblikke gehad. En die nuwe Bachelor gaan beslis die vroue se harte vinniger laat klop.

“Die 36-jarige Marc is die tipe man wat sy hart en siel in alles plaas wat hy doen,” vertel M-Net se publisiteitshoof Lani Lombard in ’n persverklaring. 

“Maar sodra jy daardie sprankel in sy oog gesien het en die kans kry om persoonlik met hom te gesels oor verskeie onderwerpe van omgewingskwessies, motorfietse en die daaglikse nuus is daar net een manier om hom te beskryf – troumateriaal.”

“En dis presies wat ons wil hê ons Bachelor moet wees,” voeg sy by.

Marc Buckner
Foto: Verskaf/M-Net

Meer oor Marc

Die man wat die bloedrooi rose in die tweede seisoen gaan uitdeel se volle naam is Marc Brent Buckner en om Sondagaand 8 September kan kykers self sien hoekom M-Net die man eenvoudig nie kon weerstaan nie.

Hy is nie net sag op die oog nie, maar word ook beskryf as ’n volwasse, energieke, slim, avontuurlustige en deernisvolle man wat verskeie eindomme besit, asook ’n handelaar en belegger is. 

As hy nie in die buiteland reis nie is hy dikwels in die geselskap van een van sy gunsteling mense in die wêreld, sy ma.

Marc is ook mal oor die buitelug en daarom gaan stap hy graag, kajak, snorkel of geniet ’n piekniek met ’n mooi uitsig.

View this post on Instagram

Working on them goals. Whats yours?

A post shared by Marc Buckner (@marcbuckner) on

’n Modelagentskap het hom op die ouderdom van 16 genader en sedertdien verskyn hy in al wat ’n prominente handelsmerk is se advertensies. Hy was al ook te sien in verskeie musiekvideos en flieks. 

Volgens Marc is hy baie opgewonde om sy anderhelfte op die maatsoekprogram te ontmoet en later ’n gesin te begin.

“Ek het geen vooropgestelde idees oor wie hierdie vrou moet wees nie. Soms is teenoorgestelde mense aangetrokke tot mekaar.”

 “Ek kan nie wag om die uiteenlopende groep diverse Suid-Afrikanse dames beter te leer ken wat net so gretig soos ek is om hul harte op die spel te plaas vir liefde op ’n televisieprogram nie,” sê hy. 

Die aanbieder en akteur Jason Greer sal weereens in die nuwe seisoen aan die sy van The Bachelor te sien wees as die aanbieder van dié program. 

Hoe gemaak as jy aan die program wil deelneem?
  • Jy moet ouer as 21 wees.
  • Jy moet ongetroud of wettiglik geskei wees.
  • Jy moet ook die bepalings en voorwaardes op M-Net se webblad gaan lees en instem om deel te neem aan die program.
  • Jy sal op die webblad ’n kort inskrywing moet maak.
  • Jy moet twee foto’s van jouself verskaf.
  • Jy sal tussen 5 Oktober en 5 Desember beskikbaar moet wees vir die verfilming van die program.
  • Inskrywings sluit Woensdag 11 September om middernag.