THE HAUNTING OF BLY MANOR

Mike Flanagan is terug met die opvolg vir sy trefferreeks van 2018, The Haunting of Hill House. Dié keer is daar ’n splinternuwe storielyn.

1 Die minireeks bestaan uit nege episodes en is losweg gegrond op Henry James se gruwelboek van 1898, The Turn of the Screw.

2 Die reeks speel af in ’n nuwe tydperk – die 1980’s – in Engeland, met Victoria Pedretti, wat Nell in The Haunting of Hill House gespeel het, in die hoofrol.

Victoria Pedretti as die kinders se oppasser, Dani
Victoria Pedretti as die kinders se oppasser, Dani Clayton. Foto: Netflix

3 Victoria is te sien as Dani Clayton, ’n jong Amerikaanse au pair met net soveel geheime soos die gesin vir wie sy werk. Sy trek in die herehuis Bly Manor op die Engelse platteland in om die Wingrave-sibbes Miles en Flora (Benjamin Evan Ainsworth en Amelie Bea Smith) te versorg.

Die kinders het hul ouers verloor en hul vorige oppasser het haar eie lewe geneem. Maar als is nie soos dit lyk nie. Dani begin mense sien wat niemand anders sien nie.

Benjamin Evan Ainsworth speel Flora se broer, Mile
Benjamin Evan Ainsworth speel Flora se broer, Miles. Foto: Netflix

4 Die reeks speel in Engeland af, maar is in die Kanadese stad Vancouver geskiet.

T’Nia Miller se karakter werk in Bly Manor, waar d
T’Nia Miller se karakter werk in Bly Manor, waar die Windgrave-­kinders woon. Foto: Netflix

5 Die negejarige Amelie, wat Flora speel, is sedert begin vanjaar die stem van die bekende animasiekarakter Peppa Pig.

Die jong aktrise Amelie Bea Smith as Flora Wingrav
Die jong aktrise Amelie Bea Smith as Flora Wingrave in The Haunting of Bly Manor. Foto: Netflix

6 Haar rol in die reeks is haar eerste groot TV-rol.

  • 2020. 1 SEISOEN. 16 BESKIKBAAR OP NETFLIX

AMERICAN MURDER: THE FAMILY NEXT DOOR

Foto: Netflix
Foto: Netflix

Dié ware misdaaddokumentêr vertel die aangrypende verhaal van Chris Watts van Colorado in Amerika wat in 2018 sy swanger vrou, Shanann, en hul twee dogters, Bella (4) en Celeste (3), vermoor het.

In die dokkie van 83 minute word gekyk na argiefbeeldmateriaal, sosialemediaplasings, polisie- opnames, teksboodskappe en tuisvideo’s. En die eindresultaat sal jou van begin tot einde boei. Chris dien tans vyf lewensvonnisse in Wisconsin uit nadat hy aan die skokmoorde skuldig bevind is.

Hy het aanvanklik beweer sy gesin het spoorloos verdwyn, maar hy het later gebieg.

  • 2020. 83 MIN. 16 BESKIKBAAR OP NETFLIX

EMILY IN PARIS

Foto: Netflix
Foto: Netflix

Dié komediedramareeks loop deur onder kritici oor die onrealistiese manier waarop die Franse hoofstad, Parys, en sy inwoners uitgebeeld word. Tog is dit een van die reekse wat die meeste gestroom word.

Die reeks volg Emily Cooper (Lily Collins), wat deur die firma waarvoor sy werk, Gilbert Group, van Chicago na Parys gestuur word vir ’n nuwe werkgeleentheid – al praat sy nie ’n enkele woord Frans nie. Die jong bemarkingsbeampte moet aansluit by Savoir, ’n Paryse boetiek-bemarkingsfirma wat Gilbert Group gekoop het. Daar moet Emily hul “Amerikaanse oë en ore” wees. Maar sy het ’n opdraande stryd.

  • 2020. 1 SEISOEN. 13 BESKIKBAAR OP NETFLIX

SWAMP THING

Die akteur Derek Mears is die man agter die groen
Die akteur Derek Mears is die man agter die groen monster in Swamp Thing. Foto: DC Universe

Dié bonatuurlike reeks gaan oor die navorser en epidemioloog Abby Arcane (Crystal Reed van Teen Wolf) wat na haar tuiste in Houma, Louisiana, terugkeer nadat ’n dodelike virus daar uitgebreek het.

Abby probeer agter die kap van die byl kom. Sy ontwikkel ’n spesiale band met die wetenskaplike Alec Holland (Andy Bean), maar dan word hy ook een van die virus se slagoffers.

Crystal Reed en Andy Bean in ’n toneel uit dié ree
Crystal Reed en Andy Bean in ’n toneel uit dié reeks. Foto: DC Universe

Hoe meer sy navorsing doen oor die geheime van die moeras waar die virus glo sy ontstaan gehad het, hoe meer hoop sy dat Alec moontlik nie regtig dood is soos sy gedink het nie.

  • SATERDAE OM 20:50 OP M-NET CITY (DSTV-KANAAL 115). OOK OP DSTV CATCH UP

PENNYWORTH

Foto: DC Universe
Foto: DC Universe

In dié misdaaddramareeks uit die DC-heelal word die vroeë lewe van die Wayne-familie se butler, Alfred Pennyworth, verken. Die titelrol word deur Jack Bannon vertolk.

Sy karakter, Alfred, is ’n voormalige Britse SAS-soldaat in sy 20’s wat as uitsmyter by eksklusiewe nagklubs in Londen werk terwyl hy in die 1960’s sy eie sekuriteitsmaatskappy stig. Hy werk dan vir die jong miljardêr Thomas Wayne (Ben Aldridge).

Teen dié tyd is Thomas se seun Bruce, die toekomstige Batman, nog nie gebore nie. Thomas is ’n skatryk jong Amerikaanse forensiese rekenmeester en dokter van Gotham City, en hy is sommer baie beïndruk met Alfred se vaardighede. Die reeks is vir ’n tweede seisoen hernu.

  • SATERDAE om 21:40 OP M-NET CITY. OOK OP DSTV CATCH UP

TOEGANG

Foto: kykNET
Foto: kykNET

In dié nuwe leefstylprogram speel Nataniël gasheer én kok. Hy gaan kook in sy kenmerkende ontwerpersuitrustings met net ’n opslaankombuis tot sy beskikking in plekke waartoe die publiek maande lank geen toegang gehad het nie. Sy kombuis bestaan uit ’n elektriese stoofplaat, ’n kastrol, twee panne en ’n tassie met net die nodigste gereedskap om ’n smulmaaltyd aanmekaar te slaan.

  • MAANDAE om 20:30 OP KYKNET

VOETSPORE: REÜNIE 11

Foto: kykNET
Foto: kykNET

Johan Badenhorst en sy vriende kyk terug na die afgelope 10 seisoene van Voetspore. Die span het byna 40 Afrikalande besoek en meer as 300 000 km gereis. Nou reflekteer hulle op hoe Afrika sedert die eerste seisoen verander het. Die span trek weg by Cape Cross in Namibië en reis oor Suider-Afrika, deur Botswana, Zimbabwe, Suid-Afrika, Mosambiek en Swaziland.

  • BEGIN SONDAG 25 OKTOBER om 20:00 OP KYKNET

HUISGENOOT: WARE LEWENSDRAMAS

Foto: VIA
Foto: VIA

Hierdie boeiende reeks is terug vir nog ’n seisoen. In die program word verhale uit Huisgenoot se argief afgestof en herbesoek. In die sesde seisoen word onder meer gekyk na die verwoestende tsoenami in Oos-Asië in 2004, die omstrede Shrien Dewani-moordsaak en die Laingsburgvloed.

  • BEGIN MAANDAG 26 OKTOBER om 20:00 OP VIA (DStv-kanaal 147).

PARTY OF FIVE

Dié tiener-en-gesinsdrama is gegrond op die reeks van 1994. Dit volg die Acosta-kinders wat op hul eie moet oorleef nadat hul ouers na Mexiko gedeporteer is. Brandon Larracuente is Emilio, ’n aspirantmusikant en die oudste spruit. Niko Guardado is Beto, die naasoudste broer. Emily Tosta is Beto se tweelingsuster, Lucia. Elle Paris Legaspi is Valentina, die jongste suster.

  • VRYDAE om 21:00 OP M-NET. OOK OP DSTV CATCH UP