JANE DE WET (25)

Die aktrise Jane de Wet vertolk die rol van Adri
Die aktrise Jane de Wet vertolk die rol van Adri van Tonder in Spoorloos: Steynhof. Foto: Anthony Horak

Die aktrise, wat bekend is vir haar rolle in die reekse Trackers en The Girl from St. Agnes, vertolk die hoofrol in Spoorloos: Steynhof.

Die reeks gaan oor die 15-jarige Adri van Tonder wat as baba van ’n plaas af verdwyn het op die aand wat haar ouers vermoor is. Nou is sy op soek na die waarheid oor haar biologiese ouers se dood.

Dit was vir Jane ’n heerlike uitdaging om in die skoene van so ’n komplekse wese te klim. “Die eintlike lekkerte het gelê in die navigasie van Adri se tieneremosies en gedrag terwyl sy voortdurend nuwe inligting ontdek,” vertel sy.

Jane de Wet, Brent Vermeulen en Brandon Eloff i
Jane de Wet, Brent Vermeulen en Brandon Eloff in ’n toneel uit dié dramareeks. Foto: kykNET

Daar is beslis ooreenkomste tussen haar en Adri, laat Jane hoor. “Ek is self ’n introvert, maar wel baie ouer en beter sosiaal aangepas as Adri. Waarmee ek my die meeste kon vereenselwig, is haar verhouding met haar ma.”

Jane is baie geheg aan haar ma, Nelia de Wet, en sê die kosbare band tussen hulle is baie soos dié van Adri en haar aanneemma, Therese van Tonder (Franci Swanepoel).

Dit was vir die jong aktrise aanvanklik intimiderend om met groot name soos Diaan Lawrenson, Franci Swanepoel en Christo Davids te werk. 

“Ek het bitter gou ontdek dat hierdie gesoute akteurs, eintlik sout van die aarde is! Geeneen was pretensieus of neus in die lug nie; inteendeel, dalk van die mees nederige mense met wie ek nóg gewerk het. Ek het weereens besef, senuweeagtigheid en onsekerheid is universele gevoelens wat nóg ouderdom, nóg ervaring elimineer. Ons is almal net mens.” 

DIE LAASTE APP WAT JY AFGELAAI HET? 

Instagram. Ek verwyder dikwels dié app wanneer ek aan ’n projek werk. Nadat ons Spoorloos geskiet het, het ek weer Instagram afgelaai om ’n bietjie nuus en foto’s met die buitewêreld te deel. 

DIE LAASTE MENS WAT JY GEBEL HET? 

Ek bel elke aand my ma.

DIE LAASTE BOEK WAT JY GELEES HET?

The Return deur Nicholas Sparks vir ’n bietjie romantiese ontvlugting. 

DIE LAASTE DING WAT JY GEËET HET? 

Sop en brood.

DIE LAASTE ITEM WAT JY GEKOOP HET? 

Kaas. Wat is die winter sonder ’n gesmelte kaasbroodjie?

DIE LAASTE DING WAARAAN JY GEDINK HET VOOR JY AAN DIE SLAAP GERAAK HET? 

Het ek nou my wekker gestel?

ANNEBELL KOHL (23)

Dis Annebell Kohl se eerste TV-rol
Dis Annebell Kohl se eerste TV-rol. Foto: Anthony Horak

Annebell Kohl het onlangs haar debuut op die kassie as Liena April in Spoorloos: Steynhof gemaak. Haar karakter het destyds vir Adri as baba aan Therese verkoop en later haar identiteit verander. 

“Sy is ’n sagte, gehoorsame en dapper jong meisie. Hoewel sy ’n emosionele uitdaging was, het ek dit geniet om hierdie rol te vertolk,” sê Annebell. 

Dit voel vir die jong aktrise steeds soos “ ’n droom” dat sy nou weekliks op televisie te sien is. “God het letterlik my gebede verhoor. Dis my eerste projek en dis ’n groot een, ek weet nou wat van my verwag word wanneer ek op stel is. Ek het baie meer selfvertroue en ek hoop die volgende rol is net so uitdagend soos hierdie een.”

Dit was vir die jong aktrise ’n groot voorreg om s
Dit was vir die jong aktrise ’n groot voorreg om saam met Vinette Ebrahim te werk. Foto: Tim Moolman

“Ek is nog nie daaraan gewoond om na myself op die skerm te kyk nie,” vertel sy.

Dit was vir haar ’n groot eer om saam met name soos Vinette Ebrahim, die Inconceivable-ster Wayne van Rooyen en die oud-7de Laner Christo Davids saam te werk. 

“Ek het grootgeword met hulle op die televisie en nou was ons saam op die stel. Ek het baie gemaklik gevoel by hulle, en dit het my senuwees ook ’n bietjie laat bedaar,” sê sy. 

Sy het veral baie geleer van Christo wat die hoofskrywer en regisseur is van die reeks. “Hy was baie geduldig met my en ek sal altyd dankbaar wees vir hierdie ervaring.”

DIE LAASTE APP WAT JY AFGELAAI HET? 

Superbalist. Hulle het ’n ongelooflike uitverkoping gehad. 

DIE LAASTE MENS WAT JY GEBEL HET? 

My ma, Lena Kohl, net om te hoor of sy oukei is in hierdie tye. 

DIE LAASTE DING WAT JY GEËET HET?  

Piesangbrood en kardemomtee. 

DIE LAASTE ITEM WAT JY GEKOOP HET?  

Materiaal; ek het ’n jas gemaak. 

DIE LAASTE LIEDJIE WAARNA JY GELUISTER HET? 

“Million Little Miracles” deur Elevation Worship & Maverick City. 

DIE LAASTE DING WAT JY GEGOOGLE HET? 

The Law of Detachment; psychology.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.