OP DIE KASSIE

Keir (25) speel in die Netflix-reeks Atypical die outistiese tiener Sam Gardner wat sukkel met die hoërskoollewe en meisies.

Hy’t talle dokkies oor dié steuring gekyk en daaroor nagelees ter voorbereiding vir sy rol. Hy’t nie gekyk hoe ander akteurs outistiese karakters speel nie, sê hy. “Ek wou nie per ongeluk herskep wat iemand anders al gedoen het nie.”

HY ÍS SAM

Die veelsydige akteur, wat deesdae in Los Angeles woon, sê hy identifiseer hom soms met Sam. “Ek het ook op skool soos ’n buitestander gevoel. Dit was natuurlik om ander redes, maar ek kon my met daardie gevoel vereenselwig.”

WÊRELDREISIGER

Hy het in drie lande grootgeword. Keir is in die Britse hoofstad, Londen, gebore en het later met sy Kanadese ouers, Catherine en Ian, en kleinboet, Evan (21), in Boston, Massachusetts, in Amerika gebly voor hulle die Kanadese stad Toronto hul tuiste gemaak het. Evan is ’n akteur nes sy ouboet.

IN DEPRESSIE SE GREEP

Hy het voorheen al tieners met geestesprobleme gespeel. Hieronder is sy karakter Marshall Gregson in die komediedramareeks United States of Tara.

Hy sukkel soms self met angstigheid. “Dis nie nou so erg nie, maar dit was in die verlede en dit is steeds ’n alledaagse ding vir my. Ek het terapeute gespreek en baie gedoen om te kom waar ek nou is – om soggens te kan opstaan en funksioneer.”

DIE TONEELSPEELGOGGA BYT

Hy’t in sy kinderjare begin toneelspeel nadat sy dramajuffrou hom oortuig het om ’n professionele akteur te word. Hy’t toe by die Annex Children’s Theatre in Education-teaterskool in Toronto aangesluit.

Sy eerste groot rol was as Josh McKellar in die sitkom van 2007 The Winner.

KYK DIT!

Die tweede seisoen van Atypical is nou op Netflix beskikbaar. In dié seisoen besluit Sam om sy voorkoms te verander.

Bronne: WMagazine.com, I-D.Vice.com, Interviewmagazine.com