In ’n desperate poging hou Tim en Danni dan vir die speurder gyselaar! 

Dus grou Danni vir haarself ’n al dieper gat nadat sy haar selfdood vervals het - alles met die doel om die ware moordenaar van Izette (Shana Mans) te ontbloot. 

Rudolf (Chris van Rensburg) het uitgevind sy meisie Izette verneuk hom met Tim en toe besluit hy om self wraak te neem deur Tim se meisie, Danni, vir die moord te blameer. 

Volgens Wilmer Muller, die publisiteitsbestuurder van Suidooster, is dit ’n geval van benoude katte wat benoude spronge maak. 

“Tim sal enigiets doen om Danni te help om haar onskuld te bewys, en danksy die hulp van Ian is hulle besig om gewaagde planne te smee om dit te doen. Hul groot hoop is dat die ware moordenaar dalk dink hy het met moord weggekom en dus minder versigtig optree, en hulle hom dan kan vastrek,” vertel hy aan Huisgenoot. 

drama,sepie,suidooster
Tim (Marco Spaumer) se desperaatheid is op kookpunt. Foto: Facebook/ Suidooster

Dit lyk ook of die polisie reeds besluit het dat die bewyse teen Danni sterk genoeg is en daarom nie verder ondersoek na Izette se moord gaan instel nie.

Volgens die polisie is die saak immers afgehandel. Tim weet ook dat Danni eintlik in die gemors beland het oor hy ’n affair met Izette gehad het, en nou voel hy skuldig daaroor.

Ná gisteraand se episode lyk dinge eintlik nog donkerder vir Danni. Nie net dink mense sy het iemand vermoor nie, maar as haar plan nie slaag nie, gaan haar wêreld finaal in duie stort oor sy haar eie dood vervals het. Nou hou sy boonop ’n polisieman gyselaar.

Tim en Ian staar ook moontlik probleme met die gereg in die gesig, want hulle is medepligtiges in Danni se planne.

Daar is dus ongelooflik baie op die spel vir haar. Haar enigste hoop is dat die ware moordenaar dalk sy verskyning maak en hulle dié kan ontbloot. 

Rudolf hou duidelik Tim se bewegings dop, maar hy is dalk meer uitgeslape as wat hulle dink, vertel Wilmer. 

“Teen Maandagaand se episode sal kykers weet of Danni-hulle se plan slaag, maar dalk moet Ruiterbosch se inwoners ook dan regtig begrafnis hou.”