Danny het Maandagaand – en dit boonop op sy 33ste verjaardag – sy debuut gemaak in die telenovelle as die nuwe biologie-onnie Nathan by die Hoërskool Arendsvlei.

View this post on Instagram

Hey guys ! Guess who's going to be on Arendsvlei from tonight ?! Hope you guys enjoy !! #storyteller #actor #Arendsvlei #Kyknet #NathanKoopman #wieisNathanKoopman

A post shared by Danny Ross (@i_am_dannyross) on

Die akteur het in April 2017 skokgolwe deur die land gestuur toe sy geliefde karakter Jerome, Bridgette (Denise Newman) en Ian October (Abduraghmaan Adams) se enigste seun, in die Kaapse sepie Suidooster ná ’n motorongeluk eers breindood verklaar is en toe, twee episodes later, sterf. Danny sê hy is opgewonde om weer op die kassie te wees.

Danny is verlede jaar deur die vervaardigers van kykNET & kie se eerste Afrikaanse telenovelle, Arendsvlei, genader vir ’n rol in die eerste seisoen van die reeks, wat op 1 Oktober 2018 vir die eerste keer op ons skerms verskyn het. 

Hy moes destyds die aanbod van die hand wys omdat hy in die buiteland rondgerits het, vertel die akteur, wat ook al te sien was in die SABC2-dramareeks Swartwater, die kykNET-sepies Binnelanders en Villa Rosa en die fliek Nommer 37.

Hy was wel beskikbaar vir die tweede seisoen van die telenovelle en sê dis ’n absolute eer om nou deel te wees van die Arendsvlei-span. 

"Ek is net ongelooflik opgewonde om deel te wees van ’n span wat ons stories vertel. Ek het my bes gegee en ek hoop dit word gesien op die skerm," sê Danny aan Huisgenoot. 

danny ross,beata bena green,arendsvlei
Danny Ross en Béata Bena Green in 'n toneel uit Arendsvlei. Foto: kykNET&kie/Arendsvlei

Danny vertolk die rol van die biologie-onnie Nathan wat volgens Hoërskool Arendsvlei se sekretaresse Kim (Béata Bena Green) baie sag op die oog is. 

Maar Danny se karakter dra eintlik ’n groot geheim rond. Hy is die verlore seun van die voormalige hoof David Abrahams (Oscar Petersen) wat sy familie kom op soek. 

"Nathan is baie doelgerig en sou aanvanklik chemiese ingenieurswese studeer, maar weens finansiële redes het hy besluit om onderwys te studeer. Hy behaal sy graad cum laude, maar sukkel om werk te kry," vertel Danny oor sy karakter. 

"Hy kom eindelik Arendsvlei toe omdat sy ma hom dringend nodig het en hy sal alles doen om haar te help.”

Danny verklap ook dat sy karakter ’n versteekte agenda het. 

"Wat presies sy agenda is, gaan eers later aan die lig kom. Hy gaan beslis vir heelwat drama en spanning sorg," het die akteur voorheen aan Huisgenoot vertel.

"Kykers is in vir ’n groot verrassing," sê Danny. 

Weg van die skerm af gaan dit ook goed met Danny se liefdeslewe. Hy is al twee jaar in 'n verhouding, maar hou sy romanse uit die kollig.

Hy het verlede maand in 'n inskrywing op Instagram onthul hy en sy meisie is al twee jaar saam. By 'n foto van sy vriendin skryf hy: "Ek is mal daaroor om saam met jou te leer om lief te hê. Dankie dat jy glo, jou geduld en jou pragtige siel vol liefde.

Kom neem deel aan die gesprek. Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.