Die akteur Irshaad vertel dit was vir hom moeilik om die tonele te verfilm van ’n pa wat sy kind verloor omdat hy self die pa is van twee dogters, Rahmah (7) en Hanaa (2). 

“Dit was moeilik, maar gelukkig kon ek elke aand huis toe gaan en my kinders gaan soen en met hulle speel. Ek kon huis toe gaan en regroup, maar om dit voor die kamera uit te beeld en om daai klein kissie te dra was moeilik,” vertel Irshaad. 

irshaad ally
Dit was moeilik vir Irshaad om die tonele te verfilm omdat hy self 'n pa is. Foto: kykNET

CARMEN SE SWANGERSKAP

Al was Carmen se swangerskap nie beplan nie, het sy later gewoond geraak aan die idee om ’n ma te wees.

Maar ’n besoek aan die dokter het die egpaar se opgewondenheid in vrees en onsekerheid verander nadat bekendgemaak is hul baba ly aan Edwards-sindroom. Dis ’n toestand wat ’n ontwikkelingsagterstand veroorsaak weens ’n ekstra chromosoom. 

desire gardner
Daar is sprake dat Carmen Ruiterbosch wil verlaat. Foto: kykNET

Hul seuntjie, Mikhail, is vroeggebore en het ongelukkig gesterf. Die hartseer tonele waar Carmen en Rhafiek hul kleinding in die hospitaal moes groet het kykers se hartsnare geroer. 

“Dis maar altyd moeilik om sulke goed te vertolk, want jy moet êrens gaan om daai emosies te kan opdiep. Dis eintlik maklik om saam met Desiré werk, want sy is net so ’n goeie aktrise,” sê Irshaad oor sy TV-vrou.

Al het Carmen en Rhafiek baie struikelblokke oorkom, is dit onseker of hul huwelik hierdie slag sal oorleef. Boonop sluit Carmen Rhafiek uit en wil sy Ruiterbosch verlaat omdat dit haar te veel aan hul kleinding herinner. 

“Daar is sprake dat Carmen Ruiterbosch wil verlaat, maar wie weet, miskien gaan sy bly,” sê Irshaad geheimsinnig. 

PA-WEES

Sy karakter stap op die oomblik ’n moeilike pad, maar in die regte lewe is pa-wees die beste ding wat al ooit met hom gebeur het. 

“Om ’n pa te wees beteken ’n oneindige liefde waarsonder jy nie kan leef nie,” het die akteur voorheen aan Huisgenoot vertel. 

Carmen en Rhafiek.
Carmen en Rhafiek. Foto: kykNET

“Die beste ding van pa-wees vir my is die lesse wat ’n mens leer. Dit hou jou voete op die grond en jou kinders laat jou besef alles gaan nie net oor jou nie,” sê Irshaad. 

Hy was onlangs ook in die sosiale media geprys vir sy puik toneelspel. “Ek sê altyd dis ’n job, ek moet alles doen sodat ek dit goed kan doen. Ek is net bly ek het ’n goeie job gedoen,” sê die akteur. 

Hy vertel dat die heilige maand van Ramadaan, wanneer Moslems vas, vir hom tot dusver maklik was. “Dit het baie maklik begin en dit is altyd vir my lekker om te pwasa (om te vas).” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe