Boeiende rilreeks

Ons het haar destyds vlugtig gesien in die reekse Die boekklub en Die Boland moorde, maar Greta Pietersen het ’n bekende naam geword nadat sy in 2015 haar eerste sepierol as die aptekersassistent Michelle Gerber in die kykNET-sepie Suidooster losgeslaan het.

Greta Pietersen speel Lea in die nuwe kykNET-rille
Greta Pietersen speel Lea in die nuwe kykNET-rillerreeks Slot. Foto: Verskaf

Sy het vyf jaar lank dié rol vertolk voor sy verlede jaar die sepie gegroet het.

Greta (32) was onlangs weer in die kykNET-reeks Kompleks te sien. Nou maak die Kapenaar weer ’n draai op die kassie – dié keer as Lea in die nuwe rillerreeks Slot op kykNET.

Die reeks gaan oor ’n gerekende psigiater, dr. Sanet Vosloo (Rolanda Marais), wat ’n dwelm ontwikkel wat pasiënte se onderbewussyn kan binnedring om toegang tot onderliggende traumas te gee. Omdat die dwelm onwettig is, bied sy in die geheim wegbreek-terapiesessies aan.

“My karakter, Lea, is ’n gebroke vrou met ’n moeilike verlede,” vertel Greta.

“Sy is onlangs vir dronkbestuur aangekeer en moet nou gemeenskapsdiens verrig in die vorm van terapie. As sy nie die terapiesessies bywoon nie, sal haar psigiater gedwing word om dit in haar verslag te sit en Lea sal ’n misdaadrekord hê.”

Lea leef boonop in ontkenning.

“Sy was ’n paar jaar tevore in ’n motorongeluk en selektiewe geheueverlies is daarna by haar gediagnoseer. Sy is ’n onafhanklike vrou wat op die oog af sterk voorkom – maar geleer het hoe om al die pyn weg te steek.”

 Greta en Gideon Lombard, wat haar TV-man Stefan G
Greta en Gideon Lombard, wat haar TV-man Stefan Gerber gespeel het in Suidooster, het albei die Kaapse sepie verlede jaar gegroet. Foto: KykNET

Greta het in Oktober aan die reeks begin skiet. Slot speel af op die Kersefontein-gasteplaas naby Hopefield in die Wes-Kaap.

“Die hele span het drie weke lank op die plaas gewoon en aan die reeks geskiet,” sê Greta.

Volgens haar is dit ’n moet-sien. “Dis inspirerend om die karakters se uithouvermoë te sien – ten spyte van die gebrokenheid veg elkeen van hulle om ’n gesonder en gelukkiger bestaan te kan voer.”

Die verhaal gaan nie net oor innerlike genesing nie; dit het ook genoeg spanningselemente wat kykers sal boei.

Meer oor Slot

Die reeks bestaan uit vyf episodes en is uit die pen van Leon Kruger, een van die skrywers van die speurreeks Die Byl.

Van die bekende gesigte in die rolverdeling sluit in Brendon Daniels en Albert Pretorius.

Jozua Malherbe, die man van die Trackers-ster Rolanda Marais, wat die hoofrol van dr. Sanet Vosloo vertolk, sit in die regisseurstoel. Hy was ook by flieks soos Griekwastad en Bloedbroers betrokke. 

Van Pretoria tot die verhoog

Greta het in Pretoria grootgeword as die jongste van haar ouers, Elna en Johann, se drie kinders. Sy het twee ouer broers, Ben (36), wat sy eie IT-onderneming bestuur, en Cobus (38), ’n rekenmeester.

“My kosbaarste herinnerings van my grootwordjare is hoe ek op Saterdagoggende Irene toe gejaag het om deel te wees van dramaslypskole saam met ander jong akteurs. Dit was ’n opwindende tyd, en ek het van die kosbaarste lesse oor toneelspel daar geleer,” sê dié oudleerder van die Hoërskool Centurion.

Sy het vroeg in toneelspel begin belangstel.

“Toe ek 11 was, het ek ’n ernstige besering tydens atletiek opgedoen en moes daarna lank van sport wegbly terwyl ek herstel het. Ek het toe vir ’n teaterjeuggroep ’n oudisie gedoen en ingekom – die res is geskiedenis.”

Op 18 het sy die groot besluit geneem om drama aan die Universiteit van Pretoria te gaan studeer.

“My ouers het die idee 100% ondersteun.”

En sy kyk nog nie een dag terug nie.

5 Vrae aan Greta

1. Wat bring vir jou die grootste vreugde? Groen groentesap.

2. Wat is op  jou boekrak? Woman Who Run With The Wolves deur Clarissa Pinkola Estés.

3. Wat is boaan jou emmerskoplys? Om die berg Kilimandjaro uit te klim.

4. Wat sal aanhangers verbaas wees om van jou te weet? Ek kan ure lank my kas herorganiseer.

5. Wat is tans op jou kyklys? Ek is verslaaf aan Koreaanse sepies (K-dramas).

Teater, haar eerste liefde

Haar groot deurbraak het gekom nadat sy in 2011 haar honneursgraad in drama aan die Universiteit Stellenbosch ontvang het.

“Ek het die kans gekry om in die teaterregisseur Marthinus Basson se produksie Die vrou vantevore te speel. Dit was ’n onvergeetlike ervaring; ek kon noukeurig dophou hoe die veterane werk.”

Sy was daarna ook in verskeie ander teaterproduksies te sien en het in 2014 ’n Woordtrofee vir beste ensemble ontvang vir haar spel as Honey in Wie’s bang vir Virginia Woolf?

Twee jaar later het sy ook weggestap met ’n kykNET Fiësta-prys vir beste vroulike byspeler in ’n toneelstuk vir haar rol as Babbels in die teaterstuk Son. Maan. Sterre.

“Teater sal altyd my eerste liefde wees,” sê sy. “Daar is nou maar net iets opwindends daaromtrent om voor ’n gehoor op te tree.”

Op die planke in die teaterstuk Vagina Dentata: A
Op die planke in die teaterstuk Vagina Dentata: A Kabarett. Foto: Jeanine Bresler

Die jaar wat was

Greta het in April verlede jaar Suidooster ná byna vyf jaar gegroet. Haar karakter, Michelle, en haar man, Stefan Gerber (Gideon Lombard), het Ruiterbosch verlaat en na Prins Albert verhuis nadat Michelle en hul aangenome seun, Quinton (Leighmen Marshall), deur die kuberpedofiel Chad (Pierre van Schalkwyk) ontvoer en aangehou is.

“Dit was bittersoet, maar dit was tyd vir ’n nuwe hoofstuk,” vertel sy. Sy sou aanvanklik in 2020 oorsee gaan reis het, maar die covid-19-pandemie het ’n stokkie daarvoor gesteek.

“My vlug Portugal toe was bespreek toe die inperking in Maart aangekondig is. Aanvanklik het ek eers my vlug uitgestel in die hoop dat die pandemie sou oorwaai, maar dit het vinnig duidelik geword dat ek my planne vir ’n onbepaalde tyd moes uitstel. Hoewel dit ’n groot teleurstelling was, weet ek ek sal wel iewers in die toekoms daarby uitkom.”

Tydens ’n staptoer in Nepal in 2018. Foto: Verskaf
Tydens ’n staptoer in Nepal in 2018. Foto: Verskaf

Groot dinge wag in 2021 

“Ek begin binnekort aan ’n fliek werk wat in Johannesburg verfilm word,” vertel sy.

Meer mag sy nie verklap nie.

“En ek is besig om stemme te vertolk van verskeie karakters in ’n paar animasieflieks soos Ella Bella Bingo en Vonk wat tans op kykNET te sien is.”

Alleenmens

Weg van die kameras en verhoog is Greta ’n eenkantmens.

“Ek kan dae lank op my eie wees en dit nie eens agterkom nie. Ek verf, mediteer, gaan stap in die berge, doen joga en lees oor antieke kulture en gelowe.”

Sy het ook ’n paar vriende wat haar baie na aan die hart lê saam met wie sy ure lank kan filosofeer en tee drink. Greta is ook nie op sosialemediaplatforms soos Facebook en Instagram nie.

Die reeks is by die Kersefontein-gasteplaas naby H
Die reeks is by die Kersefontein-gasteplaas naby Hopefield in die Wes-Kaap verfilm. Hier is Greta en die regisseur, Jozua Malherbe. Foto: Gareth Wiese

“Ek verkies dit so en haal my hoed af vir mense in ons bedryf wat hul brand so suksesvol in die sosiale media bestuur – dis merkwaardig! Dis net nie vir my nie; dit gee my te veel angs en ek is hopeloos te privaat.”

  • Slot word Dinsdae om 20:00 op kykNET uitgesaai.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe