In ’n politieke wêreld

Ons het Gina Torres (50) in Suits leer ken as die selfversekerde en briljante Jessica Pearson, wat altyd ’n paar treë voor al die ander was. 

Nie net was Jessica die hardekwas prokureur Harvey Specter (gespeel deur Gabriel Macht) se grootste mentor nie; sy het ook jare lank die regsfirma Pearson Specter Litt met integriteit en groot ywer bestuur.

Maar in 2016 is haar naam van dié firma se muur verwyder toe die karakter besluit om haar kêrel, Jeff Malone (DB Woodside), na haar tuisstad, Chicago, te volg.

Dit het die geleentheid geskep vir haar eie reeks, Pearson. In dié reeks, wat geskep is deur Suits se Aaron Korsh en Daniel Arkin, betree Jessica die troebel water van die politiek as die nuwe burgemeester, Bobby Novak (Morgan Spector), se regterhand.

Gina was 14 jaar lank met die akteur Laurence Fish
Gina was 14 jaar lank met die akteur Laurence Fishburne getroud. Hulle het ’n 12-jarige dogter. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Nog oor Jessica 

Gina, wat ook medevervaardiger van Pearson is, se obsessie met die Amerikaanse presidentsverkiesing van 2016 het haar geïnspireer om die konsep vir die alleenstaande reeks voor te lê.

“My karakter beeld net 5 tot 10% uit van die vrou as geheel,” sê sy.

In Pearson sien kykers hoe dié karakter haar man staan in ’n vuil politieke wêreld, maar kykers word ook vir die eerste keer in die enigmatiese Jessica se privaat lewe toegelaat – haar familie, haar deftige woonstel en haar verruklike klerekas!

Net so indrukwekkend soos Jessica

Gina het in die diverse Bronx, ’n werkersklasbuurt van New York, grootgeword. Sy is die jongste van haar Kubaanse ouers, Richard en Rebecca, se drie kinders.

Kleintyd al was sy 'n talentvolle mezzosopraan wat in die kerkkoor gesing en haar skooljare aan die bekende New Yorkse musiek-en-kunsskool Fiorello H. LaGuardia voltooi het.

Sy het rolle in die reekse Firefly, 24 en Westworld vertolk, asook in die flieks Serenity, The Matrix Reloaded en The Matrix Revolutions, voor ses seisoene van Suits gevolg het. 

Gina in die tv-reeks, Pearson. Foto: USA NETWORK
Gina in die tv-reeks Pearson. Foto: USA NETWORK

Nog oor Gina en Pearson
  • Gina kan danksy haar ouers se Kubaanse afkoms vlot Spaans praat.
  • Sy is opgelei om opera en jazz te sing.
  • As sy nie ’n aktrise was nie, sou sy graag ’n loopbaan in die joernalistiek wou volg.
  • Suits se skepper, Aaron Korsh, het dit aanvanklik oorweeg om Jessica te laat sterf toe dié karakter Suits in 2016 gegroet het. “Ek is verlig en bly hy het daarteen besluit, want nou kan ons ’n bietjie meer van Jessica se wêreld te sien kry,” sê Gina. 
  • Suits se negende en laaste seisoen word tans uitgesaai. Daar word wyd bespiegel of van Suits se karakters in Pearson gesig gaan wys. “Ek sien nie regtig enigeen van Suits as gereelde speler in Pearson nie,” sê Aaron. “Die reeks het ’n ander toon en bekyk ’n ander wêreld. Dit kan wel verander.”  

Bronne: hollywoodreporter.com, people.com, etonline.com, tvline.com, shadowandact.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.