Om aan dié gewilde werklikheidsreeks deel te neem was ’n droom wat waar geword het. “Na soveel jare is ek toe eindelik daar. Dit is ’n lewensveranderende ervaring,” vertel Santoni aan Huisgenoot.

Sy was verslaaf aan Survivor sedert die eerste seisoen van die Amerikaanse weergawe van die trefferreeks in 2000 uitgesaai is. “Ek is nog altyd geboei deur die spel en dinamika.”

In 'n naelbyt-oomblik vir kykers - en Santoni - het haar Survivor-droom gisteraand tot 'n einde gekom. Nicole het haar "fire idol" gespeel en die twee deelnemers wat die meeste stemme gekry het - Santoni en Tyson - moes mekaar in 'n vuurmaak-uitdaging aanvat.

Tyson kon die taak vinniger voltooi en Santoni is huis toe gestuur.

santoni engelbrecht
Santoni Engelbrecht. Foto: M-Net

VIER PROBEERSLAE

Aanhouer wen, het Santoni, wat haar eie aanlyn onderneming besit, bewys toe sy eindelik na vier probeerslae gekies is om aan die agtste seisoen van Survivor SA deel te neem.

“As iemand vir my sê ek kan nie iets doen nie of mag nie iets doen nie, wil ek dit net meer doen. Ek het in my oudisievideo ook gesê ek gaan inskryf tot ek 70 is. Ek gee nie om hoe lank dit my vat nie, want as ek my mind op iets sit, dan laat ek nie los tot ek dit kry nie,” sê sy. 

DIE EERSTE DAG 

Toe sy die eerste dag by die Wildekus aankom en die oud-7de Laner Nico Panagio, wat die reeks aanbied, haar verwelkom, wou sy byna flou word, vertel Santoni laggend.  

santoni engelbrecht
Santoni wou nog altyd aan Survivor SA deelneem. Foto: M-Net

“Die spel is baie rof, maar die eerste dag was vir my die ergste. Ek het geweet ek gaan die onfiksste, oorgewig en miskien die vreemdste wees, maar ek het nooit gedink ek gaan die oudste wees nie. 

“Ek was in trane daai eerste dag, want hierdie mense wou net nie met my praat nie. Dit het gevoel asof 'n mens terug was op skool. Dit was ’n tawwe dag en ek het gedink my reis gaan tot ’n einde kom, maar gelukkig toe nie.”

Hoewel Santoni nie juis waffers in uitdagings gevaar het nie, het sy agter die skerms gewoeker en tot dubbelagent gespeel en die top-7 gehaal voor haar Survivor-droom tot 'n einde gekom het.

Nico blus die vuur van Santoni se fakkel
Nico blus die vuur van Santoni se fakkel. Foto: M-Net

ONGELOOFLIKE ERVARING

Dit was nogal vreemd om na haarself elke Donderdagaand op die kassie te kyk, erken Santoni en hoewel sy gisteraand moes groet, glo sy alles gebeur met ’n doel.

“Ek het met baie vrede gespeel. Ek het geweet wanneer dit my tyd is, is dit my tyd. Daarom het ek met soveel vrede ook uitgegaan,” sê sy. 

Santoni vertel haar tyd op Survivor SA was ongelooflik en sy is net dankbaar dat sy in die reeks kon wees.

“Ek het alles geniet. Die een ding wat vir my uitstaan, was toe ons ons eerste stamuitdaging gewen het. Ek is nie sportief nie, so ek weet nie hoe dit voel om te wen nie. Ek verloor altyd, so dit was vir my ’n amazing ervaring om iets te wen.”

santoni engelbrecht
Tydens een van die uitdagings. Foto: M-Net

Die reeks het haar ook geleer om die klein goedjies te waardeer en om dankbaar te wees vir wat jy het. 

Sy is selfs 'n paar keer deur aanhangers van die reeks op straat herken. “Ek het in Junie covid-19 opgedoen so ek was lank laas uit die huis, behalwe om winkels toe te gaan, maar met ’n masker. Ek het nog nie daai lekker deel (weer) ervaar nie, maar op sosiale media is mense dierbaar.” 

As sy kon kies sal sy alles presies dieselfde doen. “Ek het besluit ek gaan hard speel en ek gaan nie terughou nie. Jy kan op die einde net jouself wees en ek sal môre weer teruggaan.”  

  • Survivor SA: Immunity Island is Donderdae om 19:30 op M-Net (DStv-kanaal 101).
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.