Nou is Felix Godlo (29) ’n gewone kyker van dié gewilde M-Net-werklikheidsreeks en sal hy vanaand agter die kassie inskuif.

Tog vertel hy: “Om onkant betrap te word is nie die beste gevoel in die wêreld nie”

Hy was verlede Donderdag op 13 Julie die vyfde van die skipbreukelinge wat uit Survivor SA gestem is, maar Felix sê daar is niks wat hy aan sy benadering sou verander nie.

“Ek sou nie anders opgetree het nie,” sê Felix. “My eerste prioriteit was om die stam te bewaar en om as ’n stam te probeer wen; dus sal ek als weer op dieselfde manier doen. Ek wens net my stam het dinge op dieselfde manier gesien.”

Dié verkoopskonsultant van Garsfontein in Pretoria was onverhoeds betrap nadat sy stamlede van die Laumei-stam agter sy rug gekonkel het om hom van die eiland af te skop.

In verlede week se episode het kykers gesien hoe Felix ’n heftige woordewisseling met ’n stamlid, Jacques Burger (29), ’n industriële ingenieur van Queenswood, Pretoria, gehad het toe Jacques gedurende hul laaste immuniteits-uitdaging ’n legkaart suksesvol kon bou nie.

Felix se ongeduld en die feit dat daar geen spangees in die Laumei-stam was nie, het gelei tot die agteraf gekonkel en het hom eindelik die spel gekos.

“Ek het dit regtig nie sien kom nie, en ek het eers ná die spelers se antwoorde op [die aanbieder] Nico Panagio se vrae tydens die stamberaad besef dat ek dalk die uitgestemde kon wees.

“Maar, ek sien hoe die span ’n ander besluit kon neem sonder om die risiko te verhoog nie – so welgedaan aan hulle. Dit was ’n goeie besluit,” sê hy.

Al het hy nie beplan om die spel so vroeg te verlaat nie en het hy na daardie R1 miljoen prysgeld uitgesien, is die feit dat Felix terug by die huis kan wees saam met sy vrou, Cherise (31), en hul seun, Kaiden (agt maande), vir hom ’n wen op sigself.

“Die beste deel van by die huis wees, is dat ek saam met my A-span kan wees, my vrou en seun,” koer hy.

Felix en Cherise het mekaar in 2005 ontmoet toe hulle albei die Hoërskool Akasia in Heatherdale bygewoon het.

Cherise het die moed bymekaargeskrap om eerste met Felix te praat. Dié twee het kontakbesonderhede uitgeruil en toe ’n ruk lank oor en weer gesels voor Felix haar eindelik uitgevra het.

Maar toe hy vra, het sy nee gesê.

Felix het ’n rugbybeurs na die Hoër Seunskool Jeppe gekry, en die verlange het toe te erg geword. Cherise het hom gevra om haar weer uit te vra, en hierdie keer het sy ingestem.

Die paar is nou gelukkig getroud en woon in Pretoria. Ná hulle gesukkel het om swanger te raak en ’n onsuksesvolle in vitro-bevrugting-probeerslag gehad het, is hul seun Kaiden natuurlik verwek en verlede jaar gebore. Hy was net vier maande oud toe Felix Samoa toe is.

Maar noudat hy in die gemak van sy eie huis, met goeie kos en ’n warm bed om in te slaap – wêrelde verwyder van die ervaring in Samoa, kan Felix verklap wat hy die meeste van die eiland gaan mis.

“Niks,” grap hy en voeg dan by. “Ek gaan die mooi uitsigte en naghemele vol sterre mis.”

Al het sy tyd op die televisiereeks nie uitgewerk soos hy wou gehad het nie, raai hy enigeen aan om vir die reeks in te skryf.

“As jy avontuurlustig is, van mense hou en nie maklik opgee nie, is Survivor die perfekte uitdaging vir jou. Dit bied jou die geleentheid om jouself tot die uiterste te druk en jy leer ook jouself ’n bietjie beter ken,” voeg hy by.

Noudat hy soos die res van ons ’n kyker is, hoop Felix dat Dante de Villiers (31), ’n koffierestauranteienaar van Dwarskersbos aan die Kaapse Weskus, die kompetisie sal wen.

“Ons het op die eiland goed oor die weggekom. Ek hoop hy hou al die pad tot die einde uit.”

  • Survivor SA: Islands of Secrets word Donderdagaande om 19:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.