Sy was soos ’n kat met nege lewens, maar vandeesweek het haar geluk uitgeloop.

Die Survivor-deelnemer Josie Eveleigh (28) was Donderdagaand die sewende mens wat uit die jongste seisoen van Survivor SA gestem is. En al het sy verpletter gevoel toe die aanbieder, Nico Panagio, haar naam op die eiland El Nido in die Filippyne uitlees, sê Josie sou sy die spel nooit anders gespeel het nie.

“Ek was eintlik baie anders op die program as in die regte lewe,” vertel die reisskrywer van Kaapstad. “Ek was stiller, baie meer strategies en analities. Ek wou onder die radar beweeg sodat ek daar kon wees wanneer die stamme saamsmelt. Dan sou ek my individuele spel kon speel en wees wie ek ook al wou wees. Dis wat ek wou doen. Maar toe word ek die underdog.”

Josie is volgens die aard van die spel vol kinkels drie keer uit haar stam geskuif en moes van voor af nuwe alliansies met stamlede bou. Haar naam is herhaaldelik rondgeslinger wanneer besluit moes word wie se beurt dit is om gepos te word. Trouens, sy is selfs in ’n stadium uitgestem, maar die geluk was aan haar kant en sy het ’n tweede kans gekry. 

“Met die spel het ek gou besef 'n mens moet negatiewe goed in iets positiefs omswaai. In ’n stadium het ek elke mens geken, ek het almal ontmoet, ek het geweet waar die immuniteitsbeeldjies ter sprake is en ek het geweet watter politiek by die ander stamme was.

“Wanneer iets met my gebeur het, het dit my eie storie beter gemaak. Want ek moes meer as enigiemand anders oorleef en dit sou ’n epiese storie gewees het wanneer ek my toespraak in die eindronde moes maak.”  

Gelukkig sê sy het sy darem in ’n mate verwag sy sou uitgestem word; dus was dit nie vir haar ’n totale verrassing nie. “Ek dink so 80% van my het geweet my tyd het uitgeloop.”

In die 21 dae dat sy op die eiland was, het sy 5 kg afgeskud. “Wat my die meeste verras het, was wanneer 'n mens dink jou liggaam is op sy laagste, dan het jy nog 30% se reserwes oor. 'n Mens se liggaam is veerkragtig en jy raak gewoond aan die gebrek aan slaap.”

Sy sê dit was vir haar vreemd om te ervaar hoe haar liggaam in die eerste week na sekere dinge gesmag het. “Jou liggaam mis suiker, kafeïen en vleis. Teen die tweede week gaan jy in ’n ander fase in. Jy mis nie meer kos nie, maar jy mis dit om te voel jy het energie. Jy voel so swak. Om op te staan, is moeilik; dan praat ek nog nie eers van hardloop nie.”

Josie sê dit was verstandelik uitputtend om mense te inspireer om jou gedagtes en visie te aanvaar sodat dinge op die beste manier vir jou kan uitwerk. “Dit verg soveel energie. Gewoonlik is ek bly om van my energie te gee vir ander, maar op die eiland was daar so min oor vir jouself. Ek het dit uitdagend gevind.”

Nadat sy uitgestem is, was haar eerste gedagte om ’n behoorlike cappuccino in die hande te kry. “Ek is ’n taamlik groot koffie-snob en my grootse swakheid is Nutella (sjokoladesmeer) of enige sjokolade. Ek het nog nooit so baie oor sjokolade gedroom soos op die eiland nie.

“Toe ek op die Abu Dhabi-lughawe kom, het ek ’n reusepannekoek geëet met omtrent ’n hele pot Nutella daarop. Dit was die wonderlikste pannekoek van my lewe en ek het dit verslind, maar nie lank daarna nie, was ek siek. Want in daardie stadium het ons so min geëet; ons het op ’n kol drie dae lank niks kos gehad nie.”

Sy sê rondom die tweede week het sy veral gesien hoe van die ander deelnemers begin gewig afskud. “Hulle het amper ’n spookagtigheid in hul oë gehad omdat daar niks energie daarin was nie.”

Fotot: Facebook

Terwyl sy die grootste deel van haar tyd op die eiland gebruik het om strategieë te beplan en ander te uitoorlê, sê Josie daar was oomblikke dat sy in verwondering was oor die eiland se ongelooflike natuurlewe. Daarom verklaar sy onomwonde: “Ek wil teruggaan. Vir seker.”