Katinka Oosthuizen, ’n invloedsbemarker in die sosiale media, was egter in Donderdagaand se aflewering van Survivor SA die 14de deelnemer wat van die eiland in El Nido in die Filippyne uitgestem is en die sesde lid van die jurie.

"Ek was beslis verras en ook geskok," het Katinka aan Huisgenoot gesê.

"Ek het dit glad nie verwag nie. Maar al was ek teleurgesteld, is ek ook trots op myself dat ek so ver gevorder het."

Sy het bygevoeg sy was "baie opgewonde om te eet" nadat sy tydens haar tyd in die reeks met so min kos moes klaarkom. 

En kykers is omtrent bederf met ’n bietjie drama!

In ’n onverwagte uitslag is Katinka uitgestem nadat sy en Werner van die begin af besluit het om ’n alliansie te vorm en enduit saam te staan.

Dis nou nadat Katinka besluit het om teen Werner te draai en Annalize en Tom se hulp te vra. Op sy beurt het Tom Werner van Katinka se plan vertel. 

Tot Katinka se verbasing het Werner tydens die stemberaad vir haar gestem en sy immuniteitsimbool vir ’n ander deelnemer (Jeanne) gespeel. 

"Ek voel nie dat Werner my verraai het nie, want ek het hom verraai. Maar ons albei het eintlik net die Survivor-spel gespeel. As ek iets sou kon verander het, sou ek beslis liewer vir Jeanne van my planne vertel het as vir Tom."

Haar strategie was om die dom blondine te speel en laag te lê, vertel sy. "Ek wou hê almal moet my onder hul vlerk neem en eers aan die einde wou ek iets groots doen." 

Haar eerste ete nadat sy uitgestem is, was in Ponderosa, waar lede van die jurie tuisgaan. "Ek het ’n heerlike hamburger gehad," vertel sy. 

Katinka het 6 kg verloor terwyl sy aan Survivor deelgeneem het. 

En hoe het die res van die jurie gevoel toe sy by hulle aansluit?

"Ek dink sekere deelnemers het gevoel: 'Ja, eindelik!' Hulle het gedink dat ek simpel is en nie die spel gespeel het nie, terwyl ander deelnemers, soos PK, opgewonde was om my te sien. En dit was lekker om Vusi, Palesa en Chané te leer ken, veral omdat ek nie baie tyd saam met hulle deurgebring het nie."

Hoewel sy nie meer die prysgeld kan wen nie, is sy bly dat sy nou deel is van die jurie. "Ek voel verlig en asof ek baie mag het. Dis lekker om ’n bietjie te rus en nie paranoïes te wees terwyl jy die spel speel nie."

Hoewel sy die uitdagings geniet het, het sy baie na haar familie verlang. "Ek het sommer almal by die huis gemis en die grootste uitdaging was om geen privaatheid te hê nie!"

As Katinka wel die prysgeld van R1 miljoen gewen het, sou sy in ’n woonstel wou belê. "Ek sou dit wou verhuur het terwyl ek by my ouers woon. Ek sou ook geld wou spaar." 

"Ek is nie spyt oor enigeen van my planne nie. Ek dink ek sou teleurgesteld gewees het as ek uitgestem is en nie iets drasties probeer doen het nie," vertel Katinka.