Palesa Tau, ’n omroeper van Johannesburg, is egter Donderdagaand ná 29 dae van die eiland in El Nido in die Filippyne afgestem. 

Haar groet was veral ’n bitter pil om te sluk omdat min dinge so sleg is soos om die Survivor-eiland te verlaat met ’n immuniteitsimbool (wat verhoed dat jy uitgestem kan word) in jou sak. 

“Ek was glad nie verbaas toe ek my naam sien nie, want ek al wat nog in my alliansie oor was. Tog het ’n deel binne-in my geglo dat ek steeds in is; daarom het ek nie my immuniteitsimbool gespeel nie,” het sy vertel kort nadat die aflewering uitgesaai is.

Haar wedywering met die deelnemer Tom het eindelik ook ’n rol gespeel in hoe sy die spel verlaat het. Al het sy die laaste beloningsuitdaging gewen en tot almal se verbasing haar aartsvyand genooi om kos en ontspanning saam met haar te geniet, het Tom nie sy by sy ooreenkoms gehou om haar te laat weet wanneer haar naam neergeskryf sou word nie.

Palesa het gehoop om ’n aanduiding van hom te kry sodat sy dan haar simbool kon speel.

Tom en Palesa in gesprek op die Survivor-eiland.

“Dit was ’n groot telleurstelling om die spel te verlaat, selfs al het ek geweet dis onvermybaar.”

Haar aanvanklike spelstrategie was om laag te lê, “maar die oomblik toe my lewe in gevaar was, het ek geweet dat ek hard moet speel”.

Sy beskryf haarself as ’n "alfavrou", maar meen dit het haar ook ’n teiken gemaak. “Die ander spelers is absoluut bedreig deur my.”

Sy is die derde lid van die jurie en sê dit “is bemagtigend om te weet dat die lewe van die anders spelers se spel" nou ook in haar hande is. 

Sy het sowat 5 kg op die eiland verloor. 

Toe sy uitgestem word, het sy dadelik weggelê aan spaghetti bolognese, een van haar geliefkoosde geregte. 

Sy sê al bevind die deelnemers hulself op ’n tropiese eiland, is dit bibberkoud wanneer dit reën. 

“Dis baie moeilik om onder ’n skuiling te slaap wat lek en heelnag te kry.”

Nog iets wat swaar was, was die verlange na haar seun, Lwazi (11).

Nadat sy in ’n episode ’n brief van hom gekry het, het sy vertel dat hy haar grootste motiveerder binne en buite die spel is en dat sy alles in die lewe vir hom doen.

“Ek sal nie opgee nie, want as ek dit doen wys ek vir hom dat dit orraait is om op te gee," het sy op die eiland vertel.

"Dit was vir my regtig aangenaam hoe die spel sterk punte in myself ontbloot het waaroor ek nie voorheen geweet het ek beskik nie."

  • Survivor SA: Philippines word Donderdae om 19:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.