Hy het strategies gespeel en is alles van ’n “slang” tot “The Godfather” genoem, maar Werner het alles in die stryd gewerp en aan sy leuse voldoen om te “outwit, outplay and outlast”. 

Die 34-jarige pastoor en biokinetikus van Secunda het dalk die eiland verlaat, maar sy invloed op die spel is nog nie verby nie. Hy sal deel wees van die jurie wat môre sal besluit wie met die gesogte R1 miljoen wegstap.

Ons trek nou by die drie topdeelnemers: die spysenier Annalize Sainsbury van Kaapstad, die radiovervaardiger Jeanne Michel van Kaapstad en die avontuurkampbestuurder Tom Swartz van Port Elizabeth. Ons het by Werner gaan hoor wie hy dink sal wen, maar hy sê elkeen het ’n kans. 

“Wanneer ek aan die topdrie dink, sien ek drie spelers wat almal verskillend gespeel het. Jeanne was eintlik van die eerste dag af saam met my en ek het respek vir haar, want ek het haar ’n plan sien deurvoer wat my beïndruk het. Sy het goeie planne oor die spel gehad en wat ons moet doen en die meeste van die tyd het ons saamgestem. Vir my was sy strategies en ’n sosiale speler.

"Annelize is ook ’n goeie sosiale speler. Sy kom van agter af in; van die begin af het sy haar ding gedoen, haar weg tot in ons alliansie gebaan. Ek het daarvoor ook respek. En dan het Tom natuurlik ’n geslepe spel gespeel en dit tot die einde gemaak; ’n meer fisieke spel,” sê hy. 

“Vir my is dit belangrik om te sien wat hulle nou doen, noudat ek weg is. Wie gaan opstaan, wie die mens gaan wees wat beheer van die spel neem. Vir my is dit ’n taamlik gelyke wedloop en ek kan myself vir enigeen van die drie sien stem, afhangend van wie nou opkom en beheer neem.”

Werner is die 15de deelnemer wat uitgestem is en sal die 7de lid van die jurie uitmaak wat vir vanjaar se wenner sal stem. Môreaand sal ons hom met sy medespelers sien herenig. Hy het sterk bande met party van hulle opgebou.

Al het nie een van hulle die topdrie gehaal nie, sê Werner die een mens wat hy graag tot hier in die spel sou wou sien vorder, is die sosialemedia-beïnvloeder Katinka Oosthuizen van Kaapstad. 

“Dit is moeilik om te sê wie wat verdien, want niemand verdien enigiets nie. Dis net ’n voorreg om te speel,” sê hy.

“Maar Katinka, sy’s 19 jaar oud, en weet jy wat, sy het uit haar vel gespeel. Ek respekteer haar daarvoor. Sy het teen my gedraai en dit het nie vir een van ons goed uitgewerk nie. Maar, weet jy wat, ek sou graag daardie 19-jarige aan die einde daar wou sien sit en haar saak stel.”

  • ’n Spesiale program van Survivor SA: Philippines word môreaand van 19:00 tot 21:00 op M-Net (DStv 101) uitgesaai.