“Ek was gebroke; my hart het gebreek. Ek was nie spesifiek vir die topdrie kwaad nie – ek was net hartseer omdat ek uitgestem is,” vertel Werner aan Huisgenoot.

Werner het al in 2013 vir Survivor ingeskryf, maar nie die finale keuring gemaak nie. “Ek speel al die afgelope vier jaar die spel in my kop. Ek hou daarvan om van alles ’n speletjie te maak. My lewensfilosofie is: The more, the merrier,” het hy vroeër aan Huisgenoot gesê.

En toe kry hy eindelik sy kans om aan Survivor deel te neem. “Ek sou nie baie aan my spel verander nie. Ek het my vaardighede om sosiaal te verkeer en die kennis wat ek oor Survivor gehad het gebruik om die spel te speel.

“Ek wou deel word van die groot alliansie en vir so lank moontlik onsigbaar bly.”

Dis presies wat hy gedoen het. Werner was van die begin af deel van die blou-alliansie. Hul plan was om elke uitdaging te wen en sodoende ontslae te raak van die ander alliansies.

Werner, Katinka, Jeanne, Toni, Tom en Annalize het aanvanklik saamgespan.

In ’n verrassende wending het Werner verlede Donderdag sy spanmaat Katinka uitgestem en met Tom ’n alliansie gevorm.

Maar dis einste Tom wat in gisteraand se episode teen Werner gedraai en hom uitgestem het.

“Ek het verraai gevoel, maar ek verstaan ook dat dit deel is van die spel. Ek het ook glad nie verwag dat Jeanne aan my kant moet wees nie. In die finale vier is dit elke man vir homself.”

Hoewel Werner deur Survivor-aanhangers as een van die beste spelers bestempel is, was daar ook mense wat hom gekritiseer het omdat hy die spel speel as ’n pastoor.

“Ek sien Survivor as ’n sport. Jy kan ’n harde spel van rugby speel en steeds ’n gentleman wees. ’n Immuniteitsbeeldjie, alliansies en bluffery is alles deel van hierdie ongelooflike speletjie. As jy lelik is met mense, hulle afknou, dan speel jy die mens; daarom het ek besluit om die spel te speel en nie die mens nie,” vertel hy.

Werner het in totaal 15,5 kg afgeskud terwyl hy op die eiland was.

Sy eerste ete nadat hy uitgestem is, was in Ponderosa, waar lede van die jurie tuisgaan. Hy het ’n pizza geëet.

En wat het hy die meeste gemis terwyl hy op die eiland was?

“My familie, my kerk en koffie.”

Werner sou ook vir sy kerk ’n deel van die wengeld gegee het as hy gewen het. “Ek sou ook twee maande se salaris aan die kerk betaal vir die tyd wat ek by Survivor was en ook ’n deposito op my huis betaal,” vertel hy.