Toni Tebbutt, ’n inhoudsontwikkelaar van Johannesburg, is Donderdagaand ná 30 dae van El Nido in die Filippyne afgestem.

"Ek het by die stamberaadsessie ’n gevoel gekry dat my naam dalk gaan opduik, maar dit was steeds ’n groot skok," sê sy.

"Toe ek besef dat ek uitgestem word, was ek kwaad oor die verraad van Werner en Annalize."

“She’s just got too many plans and fingers...” #SurvivorSA

A post shared by Survivor South Africa (@survivor_sa) on

Toni en die deelnemer Werner het reeds vroeg in die spel ’n band gesmee as oorspronklike spanmaats van die blou span, Mindanao. 

Die deelnemer Tom het Donderdagaand die beloningsuitdaging gewen en as deel van sy beloning besluit dat Toni en Annalize in ballingskap na ’n verlate eiland weggevoer moet word.

"Ek was veral geskok dat Annalize vir my gestem het, omdat ek die dag saam met haar in afsondering deurgebring het. Net ná die woede het die seer ingeskop."

Haar strategie was om haarself met sterk spelers te omring om so as ’n sterk eenheid te kan saamwerk. 

Dis vir haar opwindend om nou as ’n lid van die jurie te kan help kies aan die wenner. "Die spel kon baie vroeër vir my klaar gewees het, so ek is bly om steeds op ’n manier daarvan deel te wees."

Nadat sy uitgestem is, het sy heel eerste aan ’n hamburger weggelê. 

"Toe ek ná my uittog amptelik geweeg is, het die resultaat gewys dat ek 5.5 kg verloor het. Maar nadat ek my nat sokkies en skoene uitgetrek het, was dit eintlik 6.5 kg."

Terwyl sy op die eiland was, het sy veral verlang na die veilige gevoel wat geliefdes vir ’n mens by die huis gee.

"Die grootste benoudheid was om die vrees vir stamberaadsessies te hanteer, omdat ek nie my span in die steek wou laat nie,” sê sy.

En die lekkerste?

"Die stilte en verlatenheid van die eiland en om afgesny te wees van moderne tegnologie."