Maar op die vliegtuig op pad terug na Suid-Afrika kon Vusi Mafulela nie meer sy lus vir ’n glasie enkelmoutwhiskey beteuel nie, sodanig dat die kajuitbemanning vir hom ’n vergunning gemaak het en vir hom van die whiskey wat eintlik vir die eersteklas-passasiers bedoel is, aangedra het, vertel die 35-jarige Vusi laggend.

Dié logistieke bestuurder van Douglasdale in Gauteng is Donderdagaand uit die werklikheidsreeks Surivor SA gestem. Hy is die eerste deelnemer wat uitgestem is sedert die stamme saamgesmelt het en is dus ook die eerste lid van die jurie.

“Ek was glad nie verbaas toe ek uitgestem word nie,” vertel hy ’n dag ná die episode uitgesaai is.

“Ek was nie eens ’n bietjie verras nie. Ek het dit eintlik verwag,” vertel hy. “Daar was ’n paar verwikkelings die vorige dag en daardie selfde dag, mense het begin rondskuif en ek het geweet mense is bewus van my sterk punte.”

Vusi, wat veral goed gevaar het in die uitdagings, sê hy het geweet daar gaan ’n teiken op sy rug wees as hy weer een van die individuele uitdagings wen.

Hy sê hy was wel teleurgestel toe hy sien hoe baie van die ander deelnemers teen hom gestem het. “Ek is teleurgesteld in sekere individue, want ’n mens sluit mos ’n bondgenootskap en daar is mense wat vir my hul woord gegee het. So ek was meer teleurgesteld as kwaad.”

Vusi meen sy spelstrategie was om liewer te luister as om te veel te praat en so inligting in te samel. “Ek is selfs in my alledaagse lewe ’n strateeg; ek luister baie en hou mense se liggaamstaal dop.”

Hy sê op Survivor wou hy die ander alfamanne genoeg tou gee om hulself te hang. “Ek het myself ook onmisbaar gemaak vir my stam omdat ek goed was met die uitdagings. Daarom het ek geglo ek sou tot en met die samesmelting van die stamme oorleef.”

Hy het liggaamlik ook swaargekry tydens die uitmergelende dae op die eiland. Vusi vertel hy het sowat 9 kg verloor.

Maar terug by die huis het hy onmiddellik aan ’n lekker hamburger gesmul.

Die ander groot aanpassing op die eiland was die feit dat hy beperkte ruimte met vreemdelinge moes deel, vertel Vusi verder. “Jy kom gou agter wie hou van jou en wie nie. Jy moet ’n balans vind, want jy moet jou beste voetjie voorsit, maar ook nie te veel nie. Selfs as jy byvoorbeeld net te veel praat, kan dit beteken jy gaan huis toe.”

En hoe was dit om die natuurelemente so in die vreemde te trotseer?

“Ek is gek na die buitelewe en het dikwels as jong seun saam my pa gaan jag en tyd in die natuur deurgebring sonder krag en kraanwater. Gevolglik was dit nie vir my so erg om buite te slaap nie.

"Dit was wel vreemd om deur so baie water omring te word. Ek het nog nooit so baie tyd by die see deurgebring nie. Ek het werklik verlief geraak op die see,” sê hy.

“Ek dink ek sal vir my ’n boot of ’n seiljag aanskaf, want (sy liefde vir die see) is beslis iets nuuts wat ek verder wil verken.”

Survivor word op Donderdae om 19:00 op M-Net (Dtv-kanaal 101) uitgesaai.