Dit was die gewone dinge wat hy die meeste gemis het: boodskappe van sy vrou, om saans teen haar te lê, om sy seun bedags by die skool af te laai.

Maar dit was ongetwyfeld die verlang werd, want vandag sit Tom Swartz (41) met R1 miljoen in sy bankrekening. Hy het dié prysgeld gewen toe hy ná 39 dae vol ontberings op ’n verre eiland in die Filippyne as die wenner van die sesde seisoen van Survivor South Africa aangewys is.

“Ek het dit reggekry!” het die pa van twee van Port Elizabeth gejuig nadat hy as wenner aangewys is in die laaste naelbyt-stamberaad wat onlangs regstreeks uit Kaapstad uitgesaai is.

“Al die harde werk, al die emosionele gesukkel, het tot daardie finale stamberaad gelei – en ek het gewen. “Dit word nou eers werklik,” vertel Tom ’n dag later waar hy vrolik aan ’n brandewyn-en-Coke sit en teug by die Radisson Red-hotel in die V&A Waterfront in Kaapstad.

“Voor Survivor het ons nie eens geweet waar die geld vir my seun se rugbystewels vandaan gaan kom nie. Ek het ’n gevoel dit gaan nou verander.”

By hom is sy vrou, Nicci (43), en hul kinders, Yasmin (24) en Dyllan (14), wat almal toegegooi word deur boodskappe van vriende en familie wat hulle met die groot meevaller gelukwens.

Voor van links is Tom se vrou, Nicci, hul dogter, Yasmin, en Tom, en agter staan hul seun, Dyllan. Hulle het by die Radisson Red-­hotel in die V&A Waterfront in Kaapstad uit­gespan nadat hy gewen het. Foto: Corrie Hansen

Selfs Nicci, ’n bedryfsbestuurder by ’n teenstropingseenheid, moet nou aan die kollig gewoond raak. “Jy kan dit nie glo nie,” sê sy.

“Mense stop my in Woolworths en sê: ‘Jy’s mos Tom se vrou.’ Ek het nie gedink mense sal my herken nie, maar daar’s beslis ’n reuseklomp aanhangers.”

Hoewel hy ’n omstrede figuur op die eiland was, hou Tom vol hy is weg van die kameras net ’n sagmoedige reus met ’n hart vol liefde vir sy naaste. Dit was vir hom moeilik om byna ses weke lank weg te wees van sy gesin, erken hy.

Soms het ek gedink ek gaan dit nie maak nie

“Soms op die eiland sou ek enigiets gee om net ’n ‘Moenie die melk vergeet nie’-WhatsApp-boodskap van my vrou te kry,” onthou hy. Hy het veral verlang na ’n klein ritueel wat hulle saans het: Sy lê op sy bors en hy krap haar kop tot sy wegdommel. “Ek het nie geweet wat om met my hande te doen nie. Dit was die vreemdste ding,” vertel hy met ’n laggie.

“My vrou gaan my vermoor, maar ek het dit ’n paar keer met (die ander deelnemers) Chane en Annalize gedoen.”

Waar Tom ook al sy voete op die eiland gesit het, het drama gevolg. Sy eie spanmaats het hom beswadder en hy was betrokke by eindelose stryery en rugstekery.

Geen kyker of mede-eilandbewoner sou aanvanklik kon voorspel hy gaan wen nie, en dit was tot op die laaste ’n naelbytkompetisie. Tom het in die eindronde beland saam met die Kaapse radioprogramvervaardiger Jeanne Michel, en ses van die sewe jurielede, almal vorige Survivor-spelers, het toe gestem hy moet wen.

“Hulle het hul taak ernstig opgeneem,” sê Tom.

Tydens een van die uitdagings. Foto: Verskaf

“Hulle het hulle nie deur hul emosies laat lei nie en vir die een gestem wat die beste gespeel het.”

Die voormalige bestuurder van ’n teenstropingseenheid en avontuurkampe glo as die spel net fisiek was, was dit kinderspeletjies. Hy het immers fisiek goed gevaar, hongerpyne en ’n maagseer oorkom en daarby ook ou beserings wat hy opgedoen het tydens sy destydse teenstropingsdae. Maar niks kon hom op die emosionele kant daarvan voorberei nie.

“Soms het ek gedink ek gaan dit nie maak nie,” onthou hy.

“Niks was opbeurend nie . . . en wanneer daar wel iets was, was dit bitter kort.” Vir Tom was een van sy donkerste oomblikke toe hy nie sy woord gehou het nie en Werner Joubert, ’n pastoor en biokinetikus van Secunda, uitgestem het.

“Ek het daardie aand by die vuur staan en dink: Is dit nou die moeite werd? Is dit wie ek is; die ou wat sy woord hou net so lank as wat dit hom pas?” Dit was vir sy gesin moeilik om te sien hoe hy swaarkry.

“Dit het my ondergekry; ek kan nie jok nie,” sê Nicci.

Nicci sê dit het haar hart gebreek om die program te kyk omdat Tom nie die respek gekry het wat hy verdien nie. Foto: Corrie Hansen

“Ek het groot respek vir Tom. Terwyl ek die reeks gekyk het, het dit gevoel asof hy nie die respek kry wat hy verdien nie. Dit het my hart gebreek.” Maar wanneer kykers haar op straat herken, wys hulle hulle steun haar man.

“Mense het nog nooit iets leliks oor hom vir my gesê nie. Hulle het wel iets te sê gehad oor sy tafelmaniere. Hulle het gevra of hy regtig sulke swak maniere het, en dan het ek geantwoord: Nee, hy was beslis net baie honger.”

Dit was nie net Tom wat swaargekry het deur weg te wees van sy mense nie; vir hulle was dit net so erg. Dit was byna ondraaglik om nie te weet hoe dit met hom gaan terwyl hy op die eiland is nie.

“Hy’s ’n baie betrokke pa. Ons het hom regtig gemis op Dyllan se verjaardag en op Valentynsdag,” vertel Nicci. “Die huis weergalm wanneer hy nie hier is nie.”

Yasmin woon in Kaapstad; dus was haar pa se afwesigheid nie vir haar so erg soos vir haar ma en broer nie. “Mense het hom basies as ’n skurk beskou,” sê Yasmin.

“Ons het net daaroor gelag, want ons weet mos dis nie regtig hoe hy is nie. Hy’s nooit lelik nie.”

By die radio­pro­gramver­vaar­diger Jeanne Michel, wat tweede was. Foto: Verskaf

Noudat Tom ’n kitsmiljoenêr is, wil hy van die geld gebruik vir hul huis, want hulle het dit byna verloor toe dit geldelik swaar gegaan het met hom. Hulle wil nie hieroor uitbrei nie, maar Nicci sê dit was net ’n moeilike finansiële tyd.

“Dit het ons laat besef hoe belangrik dit is om ’n dak oor ons kop te hê.” En Nicci sal die operasie kry wat sy so begeer om haar borste te laat lig. “Ja, dit gaan nog gebeur,” belowe Tom. “Sy’s opgewonde daaroor, en ek ook.

“Ek dink nie dit (die wennery) gaan my verander nie. Ek hoop nie ek word verwaand nie. Dit sal nie oulik wees nie. Maar ek het ’n sterk vrou; sy sal my voete op die grond hou,” sê Tom. Nou is hulle net bly hy is terug, groot mond, slegte tafelmaniere en al.

“Hy’s welkom om al die lepels in die huis te lek,” sê Nicci. “Ek gee nie om nie.” 

DIT WAS AMPER . . .

Werner Joubert

Werner Joubert. Foto: Verskaf

Nadat die twee spanne een geword het, het Tom en die pastoor dik vriende geraak en die twee het beloof om eerlik met mekaar te wees. Maar dinge het verander toe Tom nie sy belofte gestand doen nie en Werner tydens die topvier-stamberaad uitstem.

Hoe staan sake tussen hulle?

“Toe ons die eerste keer weer met mekaar praat (net voor die finale program), kon ek sien hy’s op sy senuwees,” sê Werner. “Toe sê ek vir hom ek vergewe hom, want ek dra nie ’n wrok nie.”

Werner het op die reünie ’n voertuig gewen omdat hy die kykersgunsteling was.

Jeanne Michel

Jeanne Michel. Foto: Verskaf

Die naaswenner kon al amper die wengeld ruik, maar dit was haar toe nie beskore nie.

Jeanne het groot planne gehad vir as sy die R1 miljoen sou wen.

“Dis nie iets spoggerigs nie. Ek sou my verband afbetaal en iets uithou om te reis.

“En soos julle in die reeks gesien het, is ek ’n rondborstige meisie. Ek wou al op skool ’n borsverkleiningsoperasie laat doen en sou die geld daarvoor aangewend het.”

Sy erken dis “hartverskeurend” om te verloor. “Maar ek moet onthou ek het nie verloor nie; ek was tweede en dis wat ek in gedagte moet hou.”