Dit sou ’n skok vir enige nuwe paartjie wees – om die inperking van meer as twee maande saam deur te bring.

Soveel te meer vir Marc Buckner (36), die hartebreker van die M-Net-kompetisiereeks The Bachelor SA, en Marisia van Wyk (24), die blon­dine wat sy hart voor die TV-kameras en ­kykers landwyd gesteel het.

Maande lank was Suid-Afrikaners vasgenael voor die kassie om te sien hoe dié liefdesverhaal ontvou tot hy haar aan die einde van die reeks gekies het. Dit was die een glansryke afspraak ná die ander – met die twee verliefdes in ontwerpersklere, en, natuurlik, die kameras en mikrofone wat elke blik, fluistering en soen vasvang.

Toe, skielik, is dit net hulle twee, alleen in Marc se woning in Kaapstad, terwyl die coronaviruspandemie Suid-Afrikaners dwing om tuis te bly. Sonder stiliste, sonder regisseurs en kameras; gestroop voor mekaar. Want nadat die reeks klaar verfilm was, het Marisa by Marc ingetrek – en dít tydens die inperking.

Boonop moes hulle die feit dat hulle al sedert die einde van die verfilming van die reeks ’n paartjie is geheim hou tot die laaste episode uitgesaai is.

Die werklike lewe saam is tot dusver wonderlik, verseker die verliefde paartjie Huisgenoot tydens ’n video-onderhoud kort nadat die laaste episode van die reeks uitgesaai is.

“Dit is soveel meer eg, en dit is iets wat so belangrik is vir ons verhouding,” sê Marisia.

“Die inperking het ons gehelp,” beaam Marc. “Ons bring tyd saam deur en het baie van mekaar geleer. Nou weet ons dat ons saam kan bly en by mekaar pas. As jy hierdeur kan kom, kan jy deur enig­iets kom.”

The Bachelor se Marc Buckner en Marisia van Wyk in
The Bachelor se Marc Buckner en Marisia van Wyk in sy huis tydens die inperking

Hulle erken dat die verhouding nog jonk is, maar hul ineengevlegte vingers, onderlinge blikke na mekaar en stralende gesigte verklap hulle is smoorverlief.

Daar was darem nog ’n stukkie bederf nadat die kameras in Desember ophou rol het – M-Net het hulle met ’n geheime wegbreek na die tropiese eiland Phoeket in Thailand bederf, weg van die produksiespan én kykers se nuuskierige oë.

“Dit was nogal vreemd aan die begin,” erken Marc. “Ek was opgewonde om haar te sien, maar toe is daar al weke verby ná die finale episode en ons is in ’n vreemde land.”

’n Soen in ’n straat.
’n Soen in ’n straat.

Marisia sê dit was vir haar moeilik om hom uit te los toe hulle deur doeane gaan.

“Ons moes so versigtig wees, want ons het nie geweet hoeveel Suid-Afrikaners om ons is nie.”

Hulle het grotte verken en saam met olifante geswe
Hulle het grotte verken en saam met olifante geswem.

As ’n verbyganger gesien het hoe die twee vir mekaar koer, sou dit neusie verby gewees het met die afwagting op die kassie.

Die vakansie was net wat hulle nodig gehad het. Hulle kon die omgewing saam verken, in grotte roei, stap en die land se eksotiese geregte beproef.

In Phoeket het hulle elke dag ’n avontuur beleef.
In Phoeket het hulle elke dag ’n avontuur beleef.

Hulle het ook baie gelag. En elke dag kon hulle iets nuuts van mekaar ontdek, sê Marc.

“Dit was alles wonderlik,” sê Marisia. “Ons het die olifante gevoer, geswem, en die een dag het ons omtrent ses uur lank net in een rigting gery.”

Op ’n romantiese wegbreek op die eiland Phoeket in
Op ’n romantiese wegbreek op die eiland Phoeket in Thailand.

En toe hulle die nuwe jaar saam inwag, was dit ook die begin van ’n nuwe hoofstuk saam.

 

“Hy was my laaste soen van 2019 en my eerste soen van 2020,” sê Marisia met ’n vonkel in die oog.

Tydens die onderhoud lyk die paar­tjie gemaklik, asof hulle mekaar al jare lank ken. Die meubels op die agtergrond lyk huislik en die beligting is sag. Hulle is onopgesmuk in winterbaadjies aangetrek, en af en toe spring Marc op om na ’n hoender in die oondrooster om te sien.

Hulle het grotte verken en saam met olifante geswe
Hulle het grotte verken en saam met olifante geswem.

Marisia het tydens die verfilming nog in Johannesburg gewoon en gewerk, maar het aan die einde van Januarie Kaapstad toe verhuis. Sy beoog om haar meestersgraad in spraakterapie aan die Univer­siteit Stellenbosch te verwerf. Sy het dié aansoekproses al afgehandel voor sy die stel van The Bachelor betree het.

Toe die inperking in Maart aangekondig is, het dit vir hulle sin gemaak om dit saam deur te bring en het Marisia vir dié tyd by Marc ingetrek.

Hul ouers ondersteun hul verhouding; trouens, Marisia sê haar ouers, Anton en Marietjie, wat in Johannesburg woon, het haar aangemoedig om by Marc in te trek.

“Hy is my ondersteuningsraamwerk en my huis weg van die huis.”

Saam het hulle ’n rustige roetine en ritme gevestig.

“Die dae begin met oggendkoffie, wat Marc maak,” vertel Marisia.

Dan trek hulle hul rekenaars nader om te werk. Sy werk aan haar meestersgraad en bied aanlyn spraakterapielesse aan, en hy dryf handel met geldeenhede.

“Tussen alles bring ons tyd saam deur, gaan draf, of doen saam ’n oefensessie. Saans maak Marc meestal aandete, en dan kyk ons ’n fliek.”

Sy was gewoonlik die skottelgoed, sê Marisia, maar die res van die skoonmaakwerk is ’n spanpoging.  

Op die oomblik het sy steeds haar eie woonstel ’n entjie weg van Marc se huis in Seepunt, maar hulle oorweeg dit om die saamblyreëling dalk permanent te maak – en miskien saam ’n hond te kry.

“Die tyd saam het regtig vir my Marc se hart gewys,” sê Marisia. “Ek sien hoe hy dinge met sy hart en siel doen.

“Ek was so ’n ruk terug ongelukkig oor negatiewe kommentaar van die publiek. Hy het my daardeur gehelp en dit het soveel vir my beteken. En het al gesien hoe hy dit vir ander mense ook doen. Dit maak my net meer verlief op hom.”

Marc was hierdie tyd net so besonders en het hy meer as ooit gesien hoeveel Marisia vir ander omgee.

“Ons dink dieselfde oor dinge, en sy is oop vir verandering en groei.”

Op die kassie het kykers gehoor Marc was aanvanklik bekommerd oor die ouderdomsverskil van 12 jaar tussen hulle, maar dit is nou nie meer ’n kwessie nie.

Hoe meer tyd ek saam met Marisia deurbring, hoe meer besef ek dat sy presies is wat ek in ’n maat soek.”

Nou kan hulle skaars wag om die Moederstad as ’n paartjie te verken.

“Ek is lief vir Houtbaai, want dit is waar ek grootgeword het,” vertel Marc. “Daar is ’n roomyswinkel wat ’n vriend van my besit, en ek kan nie wag om saam met haar soontoe te gaan nie.”

Een ding wat hulle nie saam gedoen het die afgelope paar maande nie, is om die reeks saam te kyk.

Sy deelname was een van die moeilikste dinge wat hy nóg gedoen het, sê Marc.

“Die meeste mense sal sukkel om dit te verstaan. Die deelnemers belê regtig emosioneel daarin. Ek wou nie mense seermaak nie, en ek wou ook nie hê my eie hart moes gebreek word nie.”

Daarom het hy net die eerste en laaste episode gekyk.

“Wat die res betref, het ek Marisia se reaksie dopgehou en dan het ons ná die tyd daaroor gepraat.”

Sy het aanvanklik al die episodes gekyk, vertel Marisia, maar namate hul verhouding gegroei het, was dit vir haar moeilik om te sien hoe hy ook ervarings met die ander vroue gehad het.

“Ek het na ons liefdesverhaal gekyk en dan vlugtig na die res. Dit was lekker om dit te herleef, want dit is nogal spesiaal hoe alles begin het.”

Voor die kameras moes alles in Engels gebeur. Het Marisia die inperking gebruik om haar kêrel ’n paar Afrikaanse woorde te leer?

“Ja,” sê Marc en demonstreer hoe Marisia na hom roep: “Liefie, waar is jy?”

Marisia lag uit haar maag. “Alles is agterstevoor om,” skerm hy oor sy gesukkel met haar moedertaal.

Die spraakterapeut kom in Marisia na vore. “Sy reseptiewe gehoor is goed – hy verstaan as ek Afrikaans praat.”

Hulle kyk weer diep in mekaar se oë. En dit maak nie saak wie op watter skerm kyk nie.

FOTO'S: M-NET, VERSKAF
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.