In haar fraai geel balrok lyk sy soos ’n prinses uit ’n Disney-fliek wat grasieus die trap afkom om haar prins op sy wit perd tegemoet te kom.

Met die intrapslag het ­Michelle Reddy (29) die Bachelor-­huis verlig – en dis geen verrassing die donkerkop­skoonheid het Lee Thompson (30) se aandag behoorlik ­geboei nie.

Sy het gestraal op die rooitapyt van The Bachelor SA toe sy met die pierewaaier-­vrygesel kennismaak. Tussen die ander meisies wat in dié M-Net-reeks vir Lee hartjies, koekies en selfs ’n sokkerbal aangedra het, het Mi­chelle se skoonheid hom so aangegryp dat hy vir haar die rooi roos vir eerste indrukke gegee het.

Michelle het die roos vir eerste indrukke in die e
Michelle het die roos vir eerste indrukke in die eerste episode losgeslaan en is sedertdien elke episode met ’n roos beloon. Foto: M-Net

Was dit die begin van die feëverhaal waarop Michelle haar lewe lank al hoop?

Heel moontlik, want Lee het sommer kort daarna by haar ingehaak en saam met haar ’n walsie gedoen asof hulle in die fliek Beauty and the Beast is.

“Ek wou ’n droom van my laat waar word. Ek wou daardie Belle-oomblik hê en my towerprins ontmoet, en ek het dit reggekry,” sê Michelle.

“Daar was ’n vonk tussen ons, ’n band. Hy het in my oë gekyk, en dit het gevoel asof hy diep in my siel kyk en bereid was om hierdie kans met my te vat.”

Lee is nie al een wat met Michelle ­beïndruk is nie. Dié vrou van Durban het diep in kykers se hart ingekruip en was gou ’n gunsteling onder aanhangers.

Maar as jy The Bachelor kyk, sal jy weet waar die man en die kykers belofte sien, sien Lee se ander aspirantvroue dikwels ’n bedreiging.

Michelle is van kleins af grasieus en is selfs as
Michelle is van kleins af grasieus en is selfs as Mini-Mej. SA aangewys.

Michelle vertel daar was baie spanning onder die 24 vroue in die reeks.

“Ek is nie ’n konfronterende mens nie, en ek het dit dus nie verwag nie,” sê sy.

“Met so ’n diverse groep vroue – ons almal kom met verskillende eienskappe; almal is hier vir ’n doel . . . Die doel moenie kompetisie wees nie; die doel moet liefde wees.”

Ja, die trane het gevloei, en op minstens een geleentheid het Michelle met rooigehuilde oë ’n vertrek verlaat nadat sy met die ander vroue vasgesit het. Maar nogtans het sy vasgebyt en haarself herinner hoekom sy in die eerste plek in die reeks was.

Michelle was twee jaar lank ’n enkel­loper voor sy vir die reeks ingeskryf het. Ná ’n reeks onstuimige verhoudings het sy ’n blaaskans nodig gehad van verhoudings om op haarself te fokus.

Maar toe sy van The Bachelor SA hoor, het ’n stemmetjie diep binne haar laat hoor die tyd was dalk ryp om die liefde weer ’n probeerslag te gee – al het dit ’n bietjie moeite geverg om haar pa, Rally (54), aan boord te kry.

“My pa was omtrent verbaas. Hy was die eerste persoon vir wie ek gesê het, en sy aanvanklike reaksie was: ‘Soen die ­bachelor nie al die meisies nie?’ ”

Rally het gou aan die idee gewoond geraak, maar dit was haar beste vriendin, Claire de Lange (29), wat Michelle veral gesteun het in haar besluit om haar perfekte liefdesverhaal te vind.

“Claire weet alles omtrent my. Sy het my deur die moeilikste tye gehelp. Ek was nie in die verlede in die beste verhoudings nie. Daar was baie verneukery, baie oneerlikheid, ontrouheid . . . Dis hoekom ek besluit het om die afgelope twee jaar ’n enkelloper te bly.

“Sy was so opgewonde toe ek haar van die reeks vertel. Sy het gesê ek kan nou dalk eindelik my gelukkige einde beleef.”

Michelle sê haar beste vriendin, Claire de Lange,
Michelle sê haar beste vriendin, Claire de Lange, was haar grootste ondersteuner gedurende haar Bachelorreis. Foto verskaf

Maar al is Michelle hoe optimisties, die gelukkige einde is nie gewaarborg nie. Sy moet haarself teen 23 ander vroue bewys. In die tweede episode het dinge kookpunt bereik in die huis nadat die sportafrigter Thenjiwe Bhe­ngu (24) vir Michelle gekonfronteer en gesê sy het is onopreg en vals.

“Toe dit gebeur, wou ek net wegkom. Ek wou nie in daardie situasie wees nie. Ek het net gedink dis nie die moeite werd om my selfbeheersing in daardie oomblik te verloor nie.”

Michelle is dankbaar vir die verhoudings wat in die huis gevorm het, veral dié met die grimeerkunstenaar Gina Meyers (31), wat ook ’n gunsteling onder aanhangers is en iemand by wie ­Michelle aanklank gevind het.

“Gina het ’n reguit persoonlikheid. Ek het uit ons geselsies in die program besef sy verstaan ’n afknouery en het ervaring daarvan. Sy gee ook die beste raad. Sy het tydens die drama op­gestaan en gesê ons moenie onbeskof met mekaar wees nie.”

Hoewel Michelle meen haar houding en die feit dat sy haar hart op haar mou dra, laat haar uitstaan, voel sy sy het sterk kompetisie, veral van die 23-jarige entrepreneur en blogger Kelly-Tiegan Webb.

“Sjoe, daardie vrou is so self?ver­sekerd. Ek vergelyk haar met myself op 23 en ek was nie so afgerond soos sy nie. Sy praat met uiterse selfbeheersing en beleefdheid. Sy is ’n agter­mekaar mens.”

 Sy hou van perdry as ’n manier om fiks te bly. F
Sy hou van perdry as ’n manier om fiks te bly. Foto verskaf

Michelle het nog altyd ’n idee gehad van hoe die liefde lyk danksy pa Rally en haar ma, Sandy (53), wat volgens haar ’n uitstekende voorbeeld vir haar en haar jonger suster, Nicole (27), is.

“Lee is ’n goedhartige man. Hy is ’n ware heer; iemand wat elke meisie in hul lewe sal wil hê. Ek kry sowaar nou ’n bietjie hoendervel.

“Ek is grootgemaak met ’n pa wat deure vir my ma oopmaak. Toe ek my standaarde laat val en minder begin verwag het, het ek in die verkeerde verhoudings beland.

“Ek glo werklik my familie sal met hom oor die weg kom as hulle die geleentheid kry, of moet ek eerder sê die roos kry. Ek dink my pa sal dol wees oor hom. Ek dink hy het ’n baie soortgelyke persoonlikheid as my pa. ’n Meisie se eerste liefde is haar pa; hy stel die standaard.”

Benewens die stryd om Lee se hart te wen, konsentreer Michelle ook daarop om haar M.B.A. te voltooi. Sy hou haar lyf prinses op ons skerms, maar is gereed om met haar eie towerprins af te haak.

“Een van my grootste drome is om nes te skop en ’n gesin te hê, om kinders te hê en hulle met respek, maniere en morele waardes groot te maak. Ek het vir myself die afgelope twee jaar gesê ek het soveel liefde en ek is nou gereed om dit vir The Bachelor te gee.”

  • The Bachelor SA is elke Donderdagaand om 19:00 op M-Net (DStv-­kanaal 101) te sien.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!